fbpx

Fantasties-Plasties — Ons Wonderlike Brein

Brain NeuronsDis een van die grootste ontdekkings van die 20ste eeu. Ons noem dit neuroplastisiteit — die ontdekking dat die brein kan verander, breinselle gebore word en afsterf, nuwe verbindings gevorm word en dat die struktuur van bestaande sinapse wél kan verander. Wanneer ’n mens ’n deskundige op ’n sekere gebied word, is daar groei in die dele van die brein wat met daardie kundigheid en vaardighede assosieer word. Neuroplastisiteit laat breinselle kompenseer vir beserings en siektes deurdat die selle hulle aktiwiteite kan aanpas by nuwe situasies, of kan reageer op veranderinge in hulle omgewing.

Praktiese implikasies

In Kaapstad is daar ’n trotse moeder en haar tweeling seuns wat hierdie wonderlike neuroplastisiteit van die brein prakties beleef:

Armien se twee seuns was met FAS (fetale alkohol sindroom) gediagnoseer. Toe hulle in graad 3 was, het Armien besef haar seuns gaan ’n spesiale skool moet bywoon as sy nie gou ’n oplossing vind nie. Sy het gehoor van Edublox en hulle in Julie 2010, halfpad deur graad 3, daar ingeskryf. Binne drie maande was daar beduidende verbetering in hulle handskrif en hulle vermoë om te konsentreer, omdat die plastisiteit van hulle breine ontgin is sodat optimale ontwikkeling kan plaasvind. Die tweeling is tans in graad 10 en dit gaan goed met hulle skoolwerk.

Wêreldwyd is daar interessante navorsing wat hierdie ervaring van Armien en haar kinders ondersteun: In 2000 was daar ’n studie gedoen wat bevestig het dat taxi-bestuurders in Londen groter hippokampi het as Londense busbestuurders. Die hippokampus is dié deel van die brein wat betrokke is by ruimte-intelligensie en die aanleer van roetes. Hoe langer die persoon taxi bestuur het, hoe groter was sy hippokampus. Dit impliseer dat mens se hippokampus ontwikkel deur ‘n taxi in Londen te bestuur.

Daar was ook ’n prettige studie waarin 12 jongmense in hulle vroeë twintigs gevra is om ’n klassieke drie-bal jongleur-toertjie (“juggle”) oor ’n tydperk van drie maande aan te leer, sodat hulle die toertjie ten minste ’n minuut lank kon volhou. Die kontrole groep, 12 ander jongmense, het nie die toertjie aangeleer nie. Die eerste groep het ’n aansienlike groei in grysstof in die V5 area van die brein getoon; dit is die area wat verantwoordelik is vir die prosessering van visuele beweging. “Dit maak sin,” sê Dr Arne May wat die studie inisieer het, “want wat mens die meeste nodig het in die jongleurkuns, veral as ’n beginner, is om te bepaal waarheen die bal sal gaan, en om jou hand dan in daardie rigting te beweeg voor die bal daar uitkom.”

En wat gebeur wanneer ’n nuut-aangeleerde vaardigheid soos die jongleurkuns verwaarloos word? Kom ons kyk: die deelnemers was gevra om vir drie maande op te hou oefen, en toe het hulle weer breinskanderings ondergaan. Die resultate van hierdie skanderings het getoon dat hulle grysstof in die V5 area verminder het. Hierdie bevinding ondersteun die idee dat die brein oefening en stimulasie benodig, anders verloor mens jou vaardighede.

Plastisiteit is ook duidelik waarneembaar in die breine van tweetalige mense. Dit blyk dat funksionele veranderinge in die brein die aanleer van ’n tweede taal moontlik maak. Mense wat jonk reeds ’n tweede taal aangeleer het, het ’n groter kans gestaan om meer gevorderde grysstof te hê as hulle wat eers later ’n tweede taal aangeleer het.

Het jy geweet dis goed vir die brein om ’n professionele musikant te wees? Gaser en Schlaug het bevind dat die aantal ure wat die musikante in hul studie daagliks geoefen het, ’n positiewe impak op hul grysstof gehad het, terwyl hulle witstof versterk is deur die aantal jare wat hulle geoefen het.

Daar is baie wetenskaplike studies wat bewys dat die brein plasties bly dwarsdeur ons lewe; die brein verander gedurig. Nuwe neurone word gebore, veral in die leer- en geheuesentrums, en dit verklaar die akademiese vordering waartoe Armien se tweeling-seuns in staat was nadat hulle kognitiewe vaardighede deur ’n omvattende ontwikkelingsprogram verbeter is.

Hou jou brein só gesond

Oefening en stimulasie vir die brein word sterk aanbeveel as deel van ’n gesonde leefstyl. Breinoefeninge het ‘n effek op breingesondheid, op dieselfde wyse as wat fisiese oefeninge ons liggame se spiere en gewrigte versterk.

Wanneer ons nuwe of minder bekende dinge doen om ons brein te oefen en te stimuleer word veranderinge in die brein gesneller, soos byvoorbeeld ’n vermeerdering in die verbindings tussen die neurone. Hierdie veranderinge dra by tot ’n vermeerdering in breinreserwes. Volgens breinnavorsing het mense met groter breinreserwes ’n hoër weerstand teen ouderdoms- of siekte verwante breinskade.

Breinreserwes kan soos volg illustreer word: Gestel jy vlieg omtrent 300 meter bokant die grond en jy kyk af en sien twee verskillende tonele. Die eerste toneel is ’n oerwoud met soveel bome dat jy nie die grond kan sien nie. Die volgende toneel is ’n eiland met een ou palmboompie wat mistroostig in die wind waai.

Die gesonde brein is soos die oerwoud, met ’n geweldige aantal sinaptiese verbindings. Ons verwys hierna as sinaptiese digtheid, en dít is ’n aanduiding van breinreserwes. ’n Brein behoort nie soos die eiland met die ou palmpie in die wind te lyk nie, en die rede hiervoor is eenvoudig: Alzheimer se siekte en ander vorms van demensie sal jou brein inneem en begin snoei aan jou neurone en sinaptiese verbindings, amper soos ’n rantsnyer te werk gaan met die onkruid om jou huis. In ’n brein wat soos ’n oerwoud lyk, met digte reserwes van sinaptiese verbindings, gaan Alzheimer se siekte en ander brein-patologie lank vat voor hulle hul aaklige gesigte wys. Aan die ander kant, gaan die brein wat soos die eiland met die palmboom lyk, sommer gou-gou die kliniese simptome van breinsiektes toon, want daar is geen reserwes om dit af te weer nie.

Mense wat tydens nadoodse ondersoeke neuro-patologiese tekens van Alzheimer se siekte in hulle breine getoon het, en nie tydens hul leeftyd simptome daarvan gehad het nie, se breinreserwes was voldoende om die simptome daarvan te beveg, of te vertraag.

Neurowetenskaplike Michael Valenzuela en sy kollega, Perminder Sachdev sluit hulle studie oor breinreserwes af met dié woorde: Hierdie studie bewys dat daar ‘n duidelike verband is tussen ‘n aktiewe brein en ’n afname in die voorkoms van demensie. Dit blyk dat die brein in hierdie opsig nie eintlik verskil van die spiere in die liggaam nie: “Dis ‘n geval van gebruik dit, of verloor dit,” sê Valenzuela.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar