fbpx

Help, My Kind Het Disleksie (Deel 4)

Boy readingOns het verlede keer gesels oor twee belangrike beginsels wat nodig is om disleksie te verstaan: Die eerste is dat die mens niks weet en niks kan doen wat hy nie geleer het nie. Tweedens moet ons verstaan dat leer ’n laagsgewyse reeks gebeure is. Een vaardigheid moet eers vasgelê word voor ons ’n daaropvolgende vaardigheid kan baasraak. Dis soos met ‘n leer opklim: sportjie vir sportjie, anders val jy.

Taal: Die eerste sportjie van die lees-trapleer

Di dunia kini kita, tiap orang harus dapat membaca… As jy nie eers die taal Indonesies geleer het nie, is daar nie ’n manier waarop jy hierdie Indonesiese sinnetjie gaan verstaan nie. Dit wys vir ons dat taal op die heel onderste sportjie van die leer is. Ons kan die rol van taal in lees vergelyk met ysskaats in yshokkie. Mens kan nie yshokkie speel as jy nie kan skaats nie. Insgelyks kan mens nie lees as jy nie die spesifieke taal goed ken nie.

Indien ’n kind se kennis van Afrikaans swak is, sal hy sukkel om dit te lees. Sonder doeltreffende opleiding om sy Afrikaans te verbeter, sal sy leesvermoë nie verbeter nie. Die literatuur is oorlopens toe vol van bewyse dat daar ’n verband tussen leesprobleme en taalprobleme is. Navorsing bewys, onder andere, dat 60 persent van persone met disleksie laat begin praat het. Ouers word dus aangemoedig om hulle kinders wye blootstelling te gee om taal aan te leer.

Die tweede sportjie is kognitiewe vaardighede

Terwyl taalvaardigheid die onderste sportjie van die leesleer is, is kognitiewe vaardighede die volgende een. Daar is ’n hele klomp kognitiewe vaardighede wat onontbeerlik is vir lees en spel:

AANDAG

Aandag, of konsentrasie, speel ‘n krities belangrike rol in leer. Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word. Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.

Omdat aandag so belangrik is vir lees, kom ADHD en disleksie dikwels saam voor. Om en by 25 persent van kinders wat gediagnoseer is met ADHD, ’n leerprobleem wat konsentrasie affekteer, is ook dislekties.

VISUELE PROSESSERING

Visuele prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit die inligting wat ons sien. Dis anders as probleme wat sig of visie insluit. Probleme met visuele prosessering affekteer die interpretasie of verwerking van dit wat ons met ons oë waarneem. ’n Kind met visuele prosesseringsprobleme mag 20/20-visie hê, maar sukkel om te onderskei tussen voorgrond-agtergrond, vorms, grootte en posisie in die ruimte. Hy mag ook sukkel met sintese en analise.

• Voorgrond-agtergrond diskriminasie is die vermoë om voorwerpe op die voorgrond en agtergrond waar te neem en hulle sinvol te skei. ‘n Kind wat sukkel met voorgrond-agtergrond diskriminasie mag sy plek op die bladsy verloor, of kan nie sy plek op die bladsy kry en behou nie.

• Vormwaarneming kan beskryf word as die vermoë om vormverskille tussen onderskeie voorwerpe te kan waarneem. Dit is een van die mees basiese diskriminasies wat ‘n kind moet kan maak. Enige kind met swak vormwaarneming het beslis ‘n groot agterstand wanneer hy met skoolverwante aktiwiteite van enige aard gekonfronteer word. Daar is skaars enige akademiese aktiwiteit te bedink wat nie van die kind verwag om vormwaarnemings te maak nie

Die mees voor-die-handliggende klaskamer-aktiwiteit wat vormwaarneming van die kind vereis, is lees. Letters van die alfabet leer, lettergrepe en woorde aanleer sal ongetwyfeld moeilik wees as die kind probleme daarmee het om letters, lettergrepe en woorde se vorms te onderskei.

• Grootte-onderskeiding. Die kind met probleme in hierdie gebied mag sukkel om onderskeid te tref tussen ‘n hoofletter S en ‘n kleinletter s.

• Ruimtelike verhoudings verwys na die posisie van voorwerpe in ’n ruimte. Dit verwys ook na die vermoë om voorwerpe se verhouding tot ander voorwerpe akkuraat te bepaal. ’n Persoon met probleme op die gebied van ruimtelike oriëntering mag die moeilik vind om te onderskei tussen b, d, p en q.

• Sintese en analise behels die vermoë om ‘n voorwerp as ‘n geheel waar te neem, dit op te breek in dele en weer sinvol saam te voeg.

Die term visuele disleksie of diseidetiese disleksie word dikwels gebruik om ’n dislektiese persoon wat sukkel met visuele prosessering te beskryf.

OUDITIEWE PROSESSERING

Ouditiewe disleksie of disfonetiese disleksie, aan die ander kant, is terme wat gebruik word om ’n dislektiese persoon met ouditiewe prosesseringsprobleme te beskryf.

Ouditiewe prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit inligting wat gehoor word. Dis nie ’n onvermoë om te hoor nie, maar ’n onvermoë om dit wat gehoor word te interpreteer, te organiseer of te analiseer.

Probleme met ouditiewe persepsie kom oor die algemeen ooreen met die in die visuele area en ons onderskei tussen die volgende:

• Ouditiewe voorgrond-agtergrond differensiasie verwys na die vermoë om dit te selekteer waaraan ons aandag wil gee en te ignoreer wat nie relevant is nie.

• Ouditiewe diskriminasie verwys na die vermoë om te onderskei tussen eenderse en verskillende klanke.

• Ouditiewe sintese en analise. Ouditiewe sintese is die vermoë om klanke of lettergrepe saam te voeg tot ‘n woord. Die kind wat probleme het op hierdie gebied kan byvoorbeeld die klanke van die woord l-a-m-p apart uitspreek, maar kan die afsonderlike klanke nie saamvoeg om die woord lamp te vorm nie. Hy mag ook probleme ondervind met ouditiewe analise, oftewel die vermoë om die geheel van die woord wat ouditief waargeneem word, in sy afsonderlike (klank-) eenhede te analiseer (of op te breek); hy sal dus nie lamp kan klank nie.

PROSESSERINGSPOED

Prosesseringspoed verwys na hoe lank dit vat om dinge gedoen te kry.

Disleksie word verbind met stadige prosesseringspoed. Hermunder Sigmundsson en sy kollegas het twee simulasies van bestuurstoetse vir ses disleksie-lyers en elf ander persone laat uitvoer. Daar was padtekens en hulle het op nagebootsde plattelandse- en stadspaaie teen verskillende snelhede bestuur. Die span navorsers het waargeneem dat die dislektiese persone 20 persent stadiger reageer het op verkeerstekens op plattelandse paaie, en 30 persent stadiger op dié van stadspaaie, as die nie-dislektiese kontrole groep.

GEHEUE

Geheue is die stoor van inligting oor ’n tydperk. Alhoewel die woord ‘geheue’ ’n “alles-of-niks”-proses veronderstel, is dit duidelik dat daar verskillende tipes geheue is, elk tot ’n mate onafhanklik van die ander.

• Visuele geheue is die vermoë om visuele waarnemings te stoor en later, as die oorspronklike waarneming nie langer sigbaar is nie, weer te herroep. Dit beteken dat die persoon in staat moet wees om ‘n duidelike beeld van die stimulus, byvoorbeeld ‘n woord, in sy geestesoog te vorm, sodat wanneer die stimulus nie meer voorhande is nie, hy nogtans in staat is om dit duidelik en sonder enige hulp weer op te roep.

’n Goeie visuele geheue is onontbeerlik vir die opbou van ’n visuele “woordeboek” in die brein.

Goeie lesers kan woorde teen die spoed van lig erken wanneer hulle lees, omdat hulle die woorde in soort van visuele woordeboek geplaas het, sê Georgetown University Medical Center (GUMC) neurowetenskaplikes. Die visuele woordeboek-idee weerlê die teorie dat ons brein woorde klank elke keer wanneer ons dit sien.

GUMC-navorsers het die woordherkenning in 12 vrywilligers met behulp van fMRI-skanderings getoets. Die navorsers het bevind dat woorde wat verskillend is, maar dieselfde klink (soos “ly” en “lei”) verskillende neurone aktiveer. As die klanke van die woord ‘n invloed gehad het sou dieselfde of soortgelyke neurone geaktiveer gewees het, maar dit was nie die geval nie. “Ly” en “lei” kon net sowel “ly” en “sop” gewees het. “Dit dui daarop dat, wanneer ons ‘n woord eers ken, die visuele inligting al is wat ons gebruik en nie die klanke nie,” het hoofnavorser Laurie Glezer verduidelik.

Volgende keer gesels ons oor ouditiewe -, reeks-, ikoniese -, korttermyn-, langtermyn- en werkende geheue, sowel as logiese denke, die ander boustene van lees en spel.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar