fbpx

20 Feite Wat Jy Moet Weet Oor Disleksie

Hierdie artikel oor disleksie, saamgestel deur ‘n Edublox-kundige, het verskyn in Die Burger op 12 Oktober 2020:

Dis nie ‘n ‘siekte’ wat ‘genees’ moet word nie. 

Om letters om te ruil, die volgorde van letters in ‘n woord te vergeet of om soms van regs na links te lees – disleksie kan ‘n frustrerende, en vir baie lyers vernederende uitdaging in ons wêreld van tegnologies gevorderde kommunikasie wees.

Oktober is Internasionale Disleksie-bewusmakingsmaand en is daarop gemik om eensgesinde organisasies te verenig en sodoende kennis en hulpbronne met ouers, onderwysers en die breë publiek te deel.

Ter ondersteuning van hierdie inisiatief het Edublox ’n lys van 20 feite oor hierdie leersteurnis saamgestel.

  1. Die term is in 1884 deur die Duitse oftalmoloog Rudolf Berlin geskep en in gebruik geneem. Dit kom van die Griekse woorde dys, wat swak beteken, en lexis, wat woord beteken.
  2. Disleksie is algemeen. Volgens ‘n Yale-studie sukkel 1 uit 5 mense met disleksie.
  3. Soos hipertensie kan disleksie wissel in graad. Die terme lig, matig en erg word gebruik om die graad te beskryf.
  4. Daar is baie en uiteenlopende simptome. Dit sluit in: letteromkering (verwarring tussen b en d); spieëlskrif (lees ‘kas’ as ‘sak’); letters in die verkeerde volgorde plaas (lees ‘ketel’ as ‘tekel’); klankweglating (lees ‘bak’ vir ‘balk’); lees baie stadig en huiwerig; lees met swak begrip; ens.
  5. Mense met disleksie het dikwels ’n uitdaging om te spel. Spelvaardigheid hou verband met visuele geheuevermoë.
  6. Die algemene beskouing dat persone met disleksie letters en woorde agterstevoor sien, is nie waar nie. Letteromkering en spieëlskrif is bloot ’n prosesseringsprobleem.
  7. Daar is twee hooftipes. Disleksie wat met swak visuele prosessering verband hou word diseidetiese of visuele disleksie genoem, terwyl ‘n leesgestremdheid wat met ouditiewe prosesseringsprobleme verband hou, disfonetiese of ouditiewe disleksie genoem word.
  8. Daar is twee afsonderlike areas in die brein betrokke by leer lees: een area klank woorde uit en die ander sien woorde as prentjies. By disfonetiese disleksie werk die klankarea nie goed nie, en by diseidetiese disleksie die visuele area.
  9. Disleksie word aan stadige prosesseringspoed gekoppel. Bestuurders met disleksie reageer 20 persent stadiger op verkeerstekens wanneer hulle in die platteland bestuur en 30 persent stadiger op stadspaaie.
  10. Baie persone met disleksie vind volgorde problematies, dit wil sê dis moeilik om iets in ’n spesifieke volgorde waar te neem en ook om volgorde te onthou.
  11. Hulle het dikwels ’n swak ouditiewe geheue. Toe dislektiese musikante met hul nie-dislektiese eweknieë in ouditiewe persepsietoetse vergelyk is, het albei groepe ewe goed presteer, maar die dislektiese musikante het heelwat swakker gevaar in toetse wat ouditiewe korttermyngeheue meet. Die dislektiese musikante met die swakste ouditiewe geheue het gewoonlik ook die swakste gelees.
  12. Mense met disleksie het swak langtermyngeheue. Sestig dislektiese kinders is vergelyk met 65 normale lesers van dieselfde ouderdom op ‘n verskeidenheid van take. Resultate het getoon dat dislektiese kinders se langtermyngeheue beperk is.
  13. Disleksie hou nie met IK verband nie. Navorsers van die Massachusetts Instituut vir Tegnologie het swak lesers van alle IK-vlakke waargeneem en kon geen verskil vind tussen die manier waarop swak lesers met of sonder disleksie dink terwyl hulle lees nie.
  14. ’n Gebrek aan bewustheid lei daartoe dat die kind as “lui” bestempel word. Die waarheid is dat baie kinders met disleksie gemotiveerd is en soms ure aan huiswerkopdragte spandeer.
  15. Disleksie kom in gesinne voor. Kinders met disleksie het dikwels ouers met disleksie.
  16. Disleksie kan dit soms moeilik maak vir mense om op tradisionele wyses te leer. Maar dit is nie ’n “siekte” wat “genees” moet word nie. Mense met disleksie kan met toepaslike onderrigmetodes suksesvol leer.
  17. Akkommodasies is nie dieselfde as onderrig nie. Sodra ’n kind met disleksie gediagnoseer is, kom hulle in aanmerking vir akkommodasies, soos om meer tyd vir toetse te kry. Alhoewel hierdie toegewings hul punte kan verbeter, is dit nie ‘n plaasvervanger vir onderrig nie.
  18. Om vir 20 minute per dag hardop te lees, sal nie ‘n kind se leesvermoë verbeter nie. Luidlees help nie ‘n kind om onbekende woorde uit te klank nie.
  19. Begin vroeg met die regte intervensies om akademiese en emosionele probleme te voorkom. Mens lees dikwels dit is makliker om ‘n tweede taal aan te leer as jy jonk is. Dieselfde geld vir lees!
  20. Jou kind kan dit regkry! ’n Paar verkeerde draaie dikteer nie ’n kind se lewenspad nie. Mense met disleksie behaal sukses in omtrent elke beroep waaraan jy kan dink.

 

Share Button
October 18, 2020

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar