fbpx

Aanbieding by CVO-skole: Aspekte i.v.m. Kognitiewe Ontwikkeling

Aanbieding op Donderdag 29 September 2016 by Waterbergskool vir CVO in Nylstroom (Modimole) vir ongeveer 400 CVO-onderwysers:

Met die droogte wat in ons land heers, besef ons opnuut die belangrikheid van water. Daarsonder kan mens, dier en plant nie oorleef nie. Ons kan saad in die grond sit, dit die beste kunsmis en bemesting gee, maar as dit nie reën nie, sal die saad nie ontkiem nie.

Kinders se breinfunksies – hulle vermoë om te prosesseer, redeneer en kennis te verwerf – is net soos die saad. Ons kan vir hulle alles gee – gesonde kos en baie liefde, maar sonder reën, sonder doelbewuste leer en onderrig sal die “breinsaad” nie ontkiem nie. Hierdie kinders word dan dikwels gediagnoseer met ‘n lees- of leergestremdheid. Dis soos om die saad in die grond te blameer as dit nie ontkiem nie.

Ons onderwerp vandag is kognitiewe ontwikkeling, wat ‘n sekere manier is om “breinsaad” te laat ontkiem en groei.

Wanneer mens praat oor kognitiewe ontwikkeling het elke persoon sy eie idees. Party dink aan fases van kinderontwikkeling, terwyl ander dink aan meta-kognisie. ‘n Demonstrasie sal verseker dat ons almal op dieselfde bladsy is.

(Demonstrasie)

In Suid-Afrika is daar besonder baie kinders wat sukkel met lees en leer. Die Progress in International Reading Literacy Study van 2006 het die leesvermoë van Graad 4- en 5-leerders in 40 lande met mekaar vergelyk. Suid-Afrika se leerders was laaste, na Morokko, Kuwait en Katar. Afrikaans Eerste Taal-leerders het nie veel beter gevaar as die groep in geheel nie: ons kinders was steeds ver onder die gemiddeld van 500. In 2011 het Suid-Afrika deelgeneem aan ‘n makliker geletterdheidstudie, genoem pre-PIRLS, en ewe swak gevaar.

Dan is daar ook dié wat sukkel met Wiskunde. Die gemiddeld van Graad 9-leerders wat die 2014 Jaarlikse Nasionale Assessering geskryf het was 11%. Slegs 35% van Matrikulante het 40% of meer vir Wiskunde gekry. Suid-Afrika se Graad 4- en 8-leerders het dan ook tweede laaste gekom uit 76 lande in die Trends in International Mathematics and Science Study, oftewel, TIMSS, in 2015.

So hoe gaan ons ons kinders help om beter te lees, beter te leer, en beter te presteer in vakke soos Wiskunde? Daar is geen twyfel dat ‘n verbetering in die gehalte van onderwys ‘n verskil sal maak nie. Daar’s beslis ruimte vir verbetering. Die Wêreld Ekonomiese Forum het byvoorbeeld die kwaliteit van Suid-Afrika se Wiskunde en Wetenskap onderrig laaste geplaas van 140 lande.

Dalk kan ons by Finland leer, wat glo dat “less is more” – waar onderwysers nie nuwe inhoud sal aanbied as leerders nie ou materiaal mooi onder die knie het nie; waar kinders minder getoets word en meer geleer word. Finland was dan ook vierde van ongeveer 50 lande in PIRLS 2011 en 6de in TIMSS 2015.

Of dalk kan ons gaan leer by Singapoer, wat meestal eerste en somtyds tweede in elke TIMSS-studie sedert 1995 gekom het, en eerste plek gevat het in PIRLS 2011.

Iets wat Singapoer reg doen is dat hulle volgens universele leerbeginsels werk, die belangrikste een hiervan is dat leer ‘n gelaagdheid is: sekere vaardighede moet eers bemeester word voordat daaropvolgende vaardighede aangeleer kan word.

Hierdie laagsgewyse eienskap van leer kan ook aan die hand van sport, byvoorbeeld yshokkie, verduidelik word. Voordat ‘n persoon yshokkie kan speel, moet hy eers leer om baie goed te skaats. Nadat hy geleer het om vorentoe te skaats, moet hy ook leer om agteruit te skaats en om binne ‘n oogwink te kan stop of van rigting te verander. Wanneer hy hierdie vaardighede so goed bemeester het dat hulle as ‘t ware geoutomatiseerd geraak het, is hy gereed vir die volgende vlak, naamlik om al die elemente, waaruit yshokkie bestaan, te bemeester. Dan kan hy, byvoorbeeld, begin leer om die rubberskyf met sy yshokkiestok te beheer, om dit uit te gee en te skiet, en om sy opponent te stamp of te skouer. Nadat hy al hierdie vaardighede bemeester het en intussen ook die reëls van die spel geleer het, kan hy begin om hierdie vaardighede in die spelsituasie toe te pas.

As mens byvoorbeeld Singapore Maths ondersoek kom mens gou agter dat hierdie beginsel streng toegepas word. In Wiskunde word alle konsepte eers op konkrete vlak verduidellik, daarna op skematiese vlak en heel laaste op abstrakte vlak. In Singapoer word daar ook baie aandag gegee aan kognitiewe ontwikkeling, konseptueel op dieselfde wyse as die demonstrasie vroeër. Fondasievaardighede soos aandag, prosessering, geheue en logiese denke, wat die basis vorm van lees, spel, Wiskunde en eintlik alle leer word geoefen en ontwikkel. Kom ons kyk na hierdie vaardighede:

AANDAG

Aandag, of konsentrasie speel ‘n krities belangrike rol in leer. Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word. Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.

Verdeelde aandag ontstaan wanneer van ons verwag word om terselfdertyd twee (of meer) take uit te voer en aandag vereis word vir die uitvoering van albei (of al die) take. Voorbeelde sluit in motorbestuur terwyl ‘n gesprek met ‘n passasier gevoer word, of aandete eet terwyl jy nuus kyk. Op skool benodig ons verdeelde aandag wanneer ‘n onderwyseres byvoorbeeld ‘n Wiskundeprobleem demonstreer en gelyktydig die stappe verbaal verduidelik. Die leerder moet sy aandag verdeel tussen die geskrewe probleem en die verbale boodskap.

Navorsing het ‘n verband getoon tussen leesprobleme en leemtes in verdeelde aandag.

PROSESSERING

Prosessering verwys na ons vermoë om dit wat ons sien of dit wat ons hoor te interpreteer. Visuele sowel as ouditiewe prosessering is belangrik vir lees, en visuele prosessering ook vir Wiskunde.

Probleme met visuele prosessering is anders as probleme wat sig of visie insluit. ‘n Kind met visuele prosesseringsprobleme mag 20/20-visie hê, maar sukkel om dit wat hy sien te interpreteer.

Om te lees moet ‘n kind kan diskrimineer tussen voor- en agtergrond. ‘n Kind wat sukkel met voorgrond-agtergrond diskriminasie mag sy plek op die bladsy verloor, of kan nie sy plek op die bladsy kry en behou nie.

Dan is daar ook diskriminasie van kleur, vorms, groottes, sowel as posisie in die ruimte. Dan moet hy ook kan sintetiseer en analiseer in terme van al hierdie.

Ouditiewe prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit inligting wat gehoor word. Dis nie ’n onvermoë om te hoor nie, maar ’n onvermoë om dit wat gehoor word te interpreteer, te organiseer of te analiseer.

Probleme met ouditiewe persepsie kom oor die algemeen ooreen met die in die visuele area en ons onderskei tussen die volgende:

Ouditiewe diskriminasie verwys na die vermoë om te onderskei tussen eenderse en verskillende klanke, byvoorbeeld om die verskil tussen h en j te hoor.

Ouditiewe sintese en analise. Ouditiewe sintese is die vermoë om klanke of lettergrepe saam te voeg tot ‘n woord. Die kind wat probleme het op hierdie gebied kan byvoorbeeld die klanke van die woord l-a-m-p apart uitspreek, maar kan die afsonderlike klanke nie saamvoeg om die woord lamp te vorm nie. Hy mag ook probleme ondervind met ouditiewe analise, oftewel die vermoë om die geheel van die woord wat ouditief waargeneem word, in sy afsonderlike (klank-) eenhede te analiseer (of op te breek); hy sal dus nie lamp kan klank nie.

GEHEUE

Geheue is die stoor van inligting oor ’n tydperk. Alhoewel die woord ‘geheue’ ’n “alles-of-niks”-proses veronderstel, is dit duidelik dat daar verskillende tipes geheue is, elk tot ’n mate onafhanklik van die ander.

  • Visuele geheue is die vermoë om visuele waarnemings te stoor en later, as die oorspronklike waarneming nie langer sigbaar is nie, weer te herroep.

’n Goeie visuele geheue is onontbeerlik vir die opbou van ’n visuele “woordeboek” in die brein.

Goeie lesers kan woorde teen die spoed van lig erken wanneer hulle lees, omdat hulle die woorde in soort van ‘n visuele woordeboek geplaas het, sê Georgetown University Medical Center (GUMC) neurowetenskaplikes. Die visuele woordeboek-idee weerlê die teorie dat ons brein woorde klank elke keer wanneer ons dit sien.

GUMC-navorsers het die woordherkenning in 12 vrywilligers met behulp van fMRI-skanderings getoets. Die navorsers het bevind dat woorde wat verskillend is, maar dieselfde klink (soos “ly” en “lei”) verskillende neurone aktiveer. “As die klanke van die woord ‘n invloed gehad het sou dieselfde of soortgelyke neurone geaktiveer gewees het, maar dit was nie die geval nie. “Ly” en “lei” kon net sowel “ly” en “sop” gewees het. “Dit dui daarop dat, wanneer ons ‘n woord eers ken, die visuele inligting al is wat ons gebruik en nie die klanke nie,” het hoofnavorser Laurie Glezer verduidelik.

‘n Kind met ‘n swak visuele geheue sal dus baie sukkel om sigwoorde te leer. ‘n Ander algemene simptoom is dat hulle verkeerd van die bord afskryf. Hulle mag ook sukkel met Wiskunde.

Marjean Kulp en medewerkers het ’n studie gedoen waaraan 171 kinders met ’n gemiddelde ouderdom van 10.08 jaar deelgeneem het. Hierdie studie was gedoen deur die Ohio Staat Universiteitskollege vir Optometrie, en dit was ontwerp om vas te stel of visuele persepsie prestasie in Wiskunde kan voorspel.

Kulp en medewerkers se gevolgtrekking was die volgende: “Daar is ’n beduidende verband tussen swak visuele persepsie en swak Wiskunde-prestasie. Visuele perseptuele vermoë, en in besonder visuele geheue, is van die vaardighede wat beduidend verband hou met Wiskundige prestasie.”

  • Ouditiewe geheue veronderstel die vermoë om inligting wat mondelings aangebied word te prosesseer, te stoor en te kan weergee.

Volgens Cyndi Ringoen, ‘n Amerikaanse kundige op die gebied van breinontwikkeling, is ‘n swak ouditiewe korttermyngeheue dikwels die oorsaak van ‘n kind se onvermoë om met die klankmetode te leer lees.

“Die klankmetode is ‘n ouditiewe sisteem, en as daar tekortkominge in ouditiewe korttermyngeheue is, sal dit die kind verhinder om met die klankmetode te leer lees,” sê Ringoen.

Natuurlik is ‘n goeie ouditiewe geheue ook van onskatbare waarde vir ‘n kind wat in die klaskamer na aanbiedings of instruksies moet luister.

  • Reeksgeheue verwys na die herroep van items in ‘n spesifieke volgorde. In reekse soos die dae van die week, maande van die jaar, ‘n telefoonnommer, die alfabet en in tel is die volgorde van die elemente van kardinale belang.

Aangesien elke woord uit letters in ‘n spesifieke volgorde bestaan, is reeksgeheue sonder twyfel belangrik in die leesproses. Om te kan lees, moet ‘n mens die letters in volgorde waarneem, en ook onthou watter woord deur daardie lettervolgorde verteenwoordig word. Deur bloot die volgorde van die letters in name te verander, kan dit mane of amen word.

Baie leerders met leesprobleme het ‘n swak reeksgeheue.

‘n Studie, gepubliseer in die Journal of General Psychology (2012), het 33 dislektiese kinders en 33 normale lesers van dieselfde ouderdom met mekaar vergelyk en bevind dat die dislektiese groep se visuele en ouditiewe reeksgeheue beduidend swak was.

Nog ‘n studie, gepubliseer in die Archives of Clinical Neuropsychology (1999), het 24 persone met ouditiewe disleksie en 21 met visuele disleksie vergelyk met ‘n kontrole groep van 90 deelnemers. ‘n Swak ouditiewe reeksgeheue was waarneembaar in persone met ouditiewe sowel as visuele disleksie.

  • Terwyl meeste studies op die gebied van disleksie op korttermyngeheue fokus, naamlik op die vermoë om ‘n klein hoeveelheid toeganklike inligting vir ‘n kort periode in die geheue te stoor, het navorsing bewys dat persone met disleksie ook sukkel met langtermyngeheue.

‘n Studie wat in 2010 in Dyslexia gepubliseer is, is gedoen deur 60 dislektiese kinders se prestasie op verbale en visueel-ruimtelike vlak te vergelyk met 65 normale lesers van dieselfde ouderdom. Die resultate van hierdie studie het daarop gedui dat die dislektiese kinders ‘n gebrek het aan kapasiteit ten opsigte van langtermyngeheue.

  • Werkende geheue dui op die vermoë om verskeie feite of gedagtes tydelik in die geheue te hou terwyl ‘n probleem opgelos word, of terwyl ‘n taak uitgevoer word. Mens gebruik byvoorbeeld hierdie werkplek in jou brein wanneer jy getalle moet optel sonder die hulp van pen en papier of ‘n sakrekenaar.

‘n Navorsingstudie, gelei deur sielkundige Merav Ahissar, het 52 musikante bestudeer waarvan 24 dislekties was; die ander 28 was nie. Beide groepe was onderwerp aan ‘n verskeidenheid ouditiewe toetse. Alhoewel beide groepe ewe goed presteer het met die ouditiewe persepsie toetse, het die musikante wat dislekties is heelwat swakker gevaar in toetse wat ouditiewe werkende geheue getoets het.

‘n Ander belangrike en konsekwente bevinding is dat probleme op die gebied van werkende geheue veroorsaak dat kinders sukkel om te begryp wat hulle lees. Lees is ‘n ingewikkelde vaardigheid wat die gelyktydige aktivering van verskeie prosesse in die brein vereis.

LOGIESE DENKE

Logiese denke is die proses van redenering wat ons gebruik om tot ‘n gevolgtrekking te kom. Probleme en situasies waarby logiese denke betrokke is vereis struktuur, verbande tussen feite en aaneenskakeling van redenasies wat ‘sin’ maak.

Logiese denke gee lesers die vermoë om afleidings te maak, wat vereis dat ons dit wat ons weet gebruik om te probeer bepaal wat ons nie weet nie, of om ‘tussen-die-lyne’ te lees. Lesers wat afleidings kan maak gebruik leidrade uit die teks asook hulle eie ervarings om hulle te help ontsyfer wat nie direk gesê word nie. Logiese denke speel dus ook ‘n vername rol in leesbegrip.

‘n Belangrike punt is dat hierdie vaardighede almal vatbaar is vir oefening. Ons hoef dit nie te aanvaar as ‘n kind sukkel met lees, spel, Wiskunde en leer as gevolg van swak ouditiewe prosessering, visuele geheue of logiese denke nie. Ons hoef nie die “droogte” te aanvaar nie. Die probleem kan opgelos word, en dikwels is die resultate verstommend.

(Praktiese toepassing, gevallestudie, uitdeelstukke)

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar