fbpx

As Eksamens Nag Is

Hierdie artikel is gepos deur Vrouekeur.co.za op 16 Augustus 2017: 

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Maryke Stain, ‘n opvoedkundige praktisyn van Edublox in Durbanville, sê daar is verskillende tipe konsentrasie waarmee kinders probleme ervaar.

Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word.

Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.

Verdeelde aandag is jou vermoë om jou aandag tussen twee of drie of selfs meer take te verdeel. Dis amper soos “multi-tasking”, maar die waarheid is dat ons nie eintlik kan “multi-task” nie, want daar is ʼn bottelnek in die brein wat dit voorkom. Wat ons wel kan doen, is om ons aandag te verdeel. ’n Goeie voorbeeld hiervan is wanneer jy saans TV kyk terwyl jy aandete eet, of wanneer jy bestuur terwyl jy praat met jou passasier. ’n Onderwyser is ook heeltyd besig met aktiwiteite wat verdeelde aandag vereis: Sy skryf byvoorbeeld ʼn som op die bord en terselfdertyd verduidelik sy dit verbaal. Die kind moet dus sy aandag verdeel tussen dit wat sy skryf en dit wat sy sê.

Maryke sê daar is al bewys dat daar ‘n duidelike verband tussen leesprobleme en leemtes in verdeelde aandag is. ʼn Swak geheue is dikwels die sondebok as dit kom by konsentrasieprobleme. As ʼn kind byvoorbeeld sukkel om van die bord af te skryf, sukkel hy of sy dalk eerder met visuele geheue as met konsentrasie. ʼn Kind wat sukkel om instruksies te onthou sukkel ook dalk eerder met ouditiewe geheue as met konsentrasievaardighede.

Hier is ’n paar wenke vir kinders om tydens huiswerk of eksamenvoorbereiding gefokus te bly

  • Pak die mees uitdagende projekte aan wanneer jou verstand op sy helderste is.
  • Wees positief en vertel jouself dat jy die opdrag kan behartig.
  • Studeer alleen sodat ander mense nie jou konsentrasie onderbreek nie.
  • Wees in die regte gemoedstoestand. Skuif al jou bekommernisse en dinge wat jou aandag aflei opsy, soos deur dit neer te skryf sodat jy later daaraan aandag kan skenk.
  • Sny eksterne aandagafleidings soos die TV of radio wat in die agtergrond speel uit. Bêre jou selfoon.
  • Beplan wat jy gaan doen voordat jy studeer. Dit kan jou konsentrasie met 200%–400% verhoog.
  • Stel duidelike, konkrete doelwitte – byvoorbeeld, hoeveel somme of bladsye geskiedenis jy gaan bemeester.
  • LEES OOK: As jou kind stres
  • Studeer vir 30–40 minute op ʼn slag.
  • Voordat jy na die volgende vak gaan, lees nog net een bladsy. Dit is soos om nog een opstoot te doen om jou konsentrasie tot op die maksimum perk te stoot en te verbeter.

Nog wenke vir eksamentyd

  • Werk ou vraestelle uit.
  • Neem gereelde, geskeduleerde studiebreuke.
  • Rig ‘n spesiale studieplek in.
  • Eksamentegnieke is belangrik. Doen eers die makliker vrae om selfvertroue te verbeter en pak dan moeiliker vrae aan.
  • Maak eenvoudige breinkaarte waar daar met ‘n oogopslag ‘n oorsig van die hele gedeelte van die werk is.
  • Toets jouself laastens. Stel vrae op oor sleutelgedeeltes in notas of leesstof.
  • Kyk mooi na puntetoekenning by elke vraag – dit dui aan hoeveel bewerkings nodig is. Skryf elke stap van die bewerkings neer.
  • Maak opsommings van wiskundeformules en plak dit teen jou muur.
  • Verbeter jou tydsbestuurvaardighede. Stel prioriteite op en beplan jou tyd daagliks.

 

Maryke Stain: www.edublox.co.za

 

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar