fbpx

As Jou Kind Sukkel met Spelling

LettersDie vermoë om korrek te spel is dwarsdeur ‘n mens se lewe ‘n baie belangrike basiese vaardigheid. Wanneer mens sukkel met spelling is dit nie net jou skoolwerk wat daaronder ly nie, maar dit benadeel ook later jou kanse in die wêreld van werk.

‘n Opname wat deur “Office Angels”, die Verenigde Koninkryk se toonaangewende sekretariële en kantoorpersoneel-konsultante, onder 1500 werknemers en werkgewers gedoen is, het weereens die belangrikheid van spelling en grammatika beklemtoon. Volgens hierdie opname het 84% van die werkgewers bevestig dat selfs die beste werk waardeloos is as gevolg van verkeerde spelling en foutiewe grammatika. Dit het ook getoon dat 77% van die werkgewers ‘n hoë mate van lettergeleerdheid as ‘n onontbeerlike vaardigheid beskou, en dat werknemers wat ‘n oog vir detail het, eerder in ag geneem word vir bevordering. Werk wat swak spelling en grammatika bevat het 20% werkgewers gewoon kwaad gemaak, terwyl 53% sulke werknemers as lui en onprofessioneel beskou is. Dieselfde persentasie bestuurders — 53% — het erken dat hulle eenvoudig nie eers verder lees wanneer hulle spel- en taalfoute opmerk nie.

Dit is dus wys om seker te maak dat ‘n kind se spelvermoë op standaard is.

Net één volgorde is reg

Waar dit kom by spelling is daar nie ruimte vir kreatiwiteit nie. Slegs een volgorde of lettergroepering kan as korrek aanvaar word; daar word nie toegewings gemaak nie.

Wat dit nie makliker maak nie is die feit dat daar “moeilike” woorde in Afrikaans is, wat veral te make het met dubbel- vs enkelkonsonante (soos plassie vs plasie), vokaalverwarring (soos waardeur vs waardeer), skryftekens (soos essensieel vs essensiële), verkleining (soos kringetjie vs kettinkie) en los of vas (soos op pad en huis toe).

Leer is ’n stap-vir-stap proses

Wanneer ons onderrig gee moet ons deurentyd daarvan bewus bly dat leer stap-vir-stap geskied. Sekere vaardighede moet eers aangeleer word voor dit moontlik is om daaropvolgende vaardighede te bemeerster.

Alhoewel meeste kinders dit moeilik vind om te leer spel, is dit veral moeilik en somtyds selfs onmoontlik — as daar ‘n onderliggende vaardigheidsprobleem is. Daar is ‘n klomp grondvaardighede wat in plek moet wees voordat ons kan leer spel. Die grondvaardighede wat veral van belang is, is

1.) die vermoë om te kan analiseer, dit is om die afsonderlike dele van die geheel te kan raaksien,
2.) ouditiewe prosessering van klanke sowel as ouditiewe geheue,
3.) dekoderingsvaardighede, en
4.) visuele reeksgeheue.

Leemtes in een of meer van hierdie grondvaardighede kan ‘n negatiewe effek op ‘n persoon se vermoë om te leer spel uitoefen.

Die eerste stap is dus om te bepaal wat die onderliggende tekortkominge is, en dan daardie leemtes deur onderrig aan te spreek. Kontak jou naaste Edublox-kliniek om jou daarmee te help.

Terwyl ons besig is om die grondvaardighede te verbeter, kan daar tuis baie gedoen word aan die spelling self, soos om die vier spel-speletjies hieronder te speel.

Spel-speletjie 1: Bordspeletjies

Gebruik ‘n bordspel soos bv. Monopoly of enige spel waarin daar dobbelstene gebruik word. Die ouer en kind speel die spel, maar terwyl die ouer gewoon haar speelstuk aanbeweeg nadat sy die dobbelsteen gegooi het, moet die kind ‘n woord hardop spel voordat sy hare kan aanbeweeg.

Soek woorde wat die kind gewoonlik verkeerd spel uit haar skoolwerk, en maak woordkaartjies van hierdie woorde. Ek stel voor so tussen 20 en 30 woordkaartjies. Gebruik hierdie woordkaartjies wanneer die bordspel gespeel word. Wanneer die kind hierdie woorde vlot kan spel, kan die ouer ander woorde gebruik. Die ouer moet die woordkaarte behoorlik skommel en hulle in ‘n hoop onderstebo op die tafel neersit.

Wanneer dit die kind se beurt is om te speel, neem die ouer die boonste kaartjie en spreek die woord daarop hardop uit. Die kind moet dan die woord spel. Indien sy dit korrek spel, beweeg sy haar speelstuk met soveel plekke vorentoe soos die aantal letters in die woord. Met ander woorde, indien die woord sewe letters het en sy spel dit korrek, kan sy haar speelstuk sewe spasies vorentoe beweeg. Daarna word die woordkaart eenkant gesit. Indien sy egter die woord verkeerd spel, wys die ouer die woord vir haar en die kind moet dit dan drie keer hardop spel terwyl sy die woord sien, en daarna drie keer sonder om na die woord te kyk. Daardie kaartjies (waarvan die woorde aanvanklik verkeerd gespel is deur die kind) word onder in die pakkie geplaas, sodat hulle weer later sal voorkom. Indien sy ‘n woord verkeerd spel, bly haar speelstuk op dieselfde plek vir daardie rondte.

Spel-speletjie 2: Woordbou

Gebruik die letters van ‘n spesifieke woord, en bou nuwe woorde met hierdie letters. Gestel jy besluit om die woord “uitsondering” te gebruik, skryf dit dan op ‘n stuk papier en plaas dit voor die kind.

Die doel van die spel is dat die kind ‘n lys maak van al die woorde waaraan sy kan dink deur slegs gebruik te maak van die letters in die woord op die papier voor haar. Mens kan ook ‘n kompetisie van die speletjie maak: die ouer kan saam met die kind woorde maak en die wenner is dan die een wat die meeste woorde korrek gespel het.

Daar is gewoonlik baie woorde wat op hierdie manier gebou kan word, en op ‘n indirekte manier word die oorsponklike woord geoefen, terwyl baie ander woorde se spelwyse getoets word. ‘n Paar voorbeelde van woorde wat gebou kan word uit die letters van “uitsondering” is: ringe, tong, deur en ding.

Elke letter mag slegs eenmaal in ‘n woord gebruik word. Die letter “n” kom twee maal in die woord “uitsondering” voor, en daarom is die woord “sonne” aanvaarbaar. “Stuur” is egter nie aanvaarbaar nie.

Voorbeelde van woorde wat gebruik kan word is bv.: alfabeties; misverstand; geloofwaardigheid; opvoedkunde; vriendskap; deursettingsvermoë; vrygewigheid.

Spel-speletjie 3: Skommel letters

‘n Interessante manier om spelling te oefen is deur letters te skommel. Die kind moet dan woorde wat hy reeds ken, uit die warboel letters bou.

Kies woorde uit die kind se skoolwerk. Skryf die letters deurmekaar op ‘n papier. As die geskommelde letters bv. “behrger” is, moet die kind die letters herrangskik om “herberg” te lees.

Spel-speletjie 4: Naam, van, dier en dorp

Beide spelers (ouer en kind) het papier en potlood hiervoor nodig. Skryf die 26 letters van die alfabet op die papier en kies lukraak enige letter. Beide ouer en kind moet dan, so vinnig as moontlik, ‘n naam, ‘n van, ‘n dier, en ‘n dorp wat begin met die gekose letter, neerskryf. Die een wat eerste klaar is gee die ander slegs 5 sekondes en sê dan, “Stop”. Alle potlode word dan neergesit.

Elke woord wat korrek gespel is, verdien tien punte. Indien beide ouer en kind presies dieselfde woord onder een van die opskrifte het, bv. beide het dieselfde dier, word slegs 5 punte toegeken indien die woord reg gespel is.

Voorbeeld: Veronderstel die letter “d” was lukraak gekies:

Name: Danie, Dorothea, Dawid
Vanne: Dippenaar, Deysel
Diere: Donkie, dassie, duiker
Dorpe: Dullstroom, Durban

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar