fbpx

Beter Skoolresultate Lei tot Ander Voordele

WC

Hierdie artikel het verskyn in die Drakenstein Gazette op 11 Maart 2016:

Joshleen Durand van die Paarl is nie net besig om haar disleksie en diskalkulie op die ouderdom van tien te oorkom nie, maar blink ook akademies uit met ’n algehele gemiddeld van 62,5%.

Joshleen, en ander topleerders, wat addisionele, naskoolse lees- en skryfondersteuning by Edublox-klinieke regoor die land ontvang het, het waarlik verstommende akademiese vordering in 2015 getoon en ook op ander gebiede in hulle lewe persoonlike sukses behaal.

Vir al hulle ywer, harde werk, volharding en puik prestasie het elke topleerder ’n prys van R1 000 ontvang.

Nog ’n topleerder uit die provinsie, Yumna Isaacs, het verlede jaar gematrikuleer aan die Hoërskool Wynberg Girls in Kaapstad. Sy het haar algehele gemiddeld opgestoot van 47% tot 66%. Wiehan Lombard, nou ’n gr. 7-prefek in Laerskool Slot van die Paarl, het in gr. 6 al sy vakke gedruip, maar het nou ’n merietetoekenning ontvang vir daardie selfde vakke en het ook die toekenning vir topleerder by Edublox gewen.

“Wanneer jy in ag neem dat hierdie uitsonderlike studente hard moes werk om groot persoonlike uitdagings te oorkom, is dit duidelik dat hulle volharding vrugte afgewerp het,” sê Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox. Die leerders moes op ’n jong ouderdom al ’n sterk geestesgesindheid aankweek om die druk te kan hanteer wat hulle as gevolg van hulle swak akademiese resultate ervaar. As gevolg van akademies probleme sukkel leerders dikwels ook in sport of op sosiale gebied. “Yumna se vasberadenheid het ’n groot rol daarin gespeel om haar selfvertoue en selfrespek op te bou in soveel ander aspekte van haar opvoedkundige en persoonlike lewe,” sê Fairuz Isaacs, Yumna se ma.

Die vasberadenheid wat hierdie topleerders aan die dag lê, tesame met die fundamentele vaardighede wat hulle geleer het met behulp van die Edublox-klasse, was werklik ’n wenresep. “Die fundamentele vaardighede het ’n sneeubaluitwerking gehad wat gelei het tot welslae in ander aspekte van hulle ontwikkeling, soos hulle sportvernuf en sosiale vaardighede om leierskapverantwoordelikhede te kan aanvaar,” sê du Plessis.

Joshleen het nie net akademies verbeter nie, maar het ook in haar buitemuurse aktiwiteit presteer.

“Voor Joshleen by Edublox aangesluit het, het al haar balletonderwyseresse gekla dat sy sukkel om te konsentreer en om die passies te memoriseer. Maar teen die einde van 2015 het haar harde werk vrugte afgewerp toe haar prestasie verbeter het en sy haar gr. 2-balleteksamen deurgekom het by die Royal Academy of Dance,” sê ’n trotse Bronwyn Durand, Joshleen se ma. ’n Beter geheue en beter konsentrasie het hierdie voornemende ballerina gehelp om haar danspassies te onthou. “Verbeterings in geheue en volgehoue aandag het ’n bykomende direkte invloed op ’n student se sportvernuf,” verduidelik du Plessis.

Leierskapsontwikkeling is nog ’n aspek van persoonlike groei wanneer kinders op akademiese gebied begin vorder. Annalize Lombard, die ma van Wiehan in gr. 7 by Laerskool Slot van die Paarl, is baie opgewonde oor haar seun se beter punte. Sy glo dat dit hom die selfvertroue gegee het om leierskapgeleenthede te aanvaar, wat hy voorheen nie sou gedoen het nie. “Die kersie op die koek is definitief die feit dat Wiehan gekies is as lid van die gr. 7-studenteraad vir 2016,” voeg Lombard opgewonde by.

Namate Yumna se punte verbeter het, het haar selfvertroue toegeneem, en sy is ook verkies tot leierskapposisies op haar skool se Matriekkomitee en die Muslim Students Association Committee. “Sy het nuwe vriende begin maak en haar skoolmaats nader haar om hulp,” sê haar trotse en tevrede ma.

Du Plessis verduidelik: “Leerders wat vertroue kry in hulle vermoë om te lees, te leer en te presteer, het dit reggekry om ’n bose kringloop van onderontwikkeling te verbreek, en dit wakker selfvertroue in hulle aan wat dan tot positiewe vordering op ander gebiede oorgaan.

“Kinders se selfvertroue kan groei wanneer hulle op akademiese gebied verbeter; dit help hulle om die nodige persoonlike vaardighede te ontwikkel,” sluit Du Plessis af.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar