fbpx

Leer Afrikaans: Bybelse Idiome, Spreekwoorde en Uitdrukkings

In die geskiedenis van die Afrikaner is die Bybel as leesboek, leerboek en lewenshandboek gebruik. Dit het tot gevolg gehad dat talle spreekwoorde, idiome en vaste uitdrukkings in die Afrikaanse spreektaal opgeneem is, wat verband hou met die Bybel en die gebruik van huisgodsdiens.

Hierdie spreekwoorde en uitdrukkings word al minder gehoor. Hier is ’n klompie voorbeelde:

  • In Abraham se skoot sit (opgroei) = sonder sorge wees, in weelde opgroei
  • Die ou Adam aflê = die ou sondige natuur laat vaar
  • Nie van Adam se kant ken nie = glad nie ken nie; ‘n totale vreemdeling
  • Addergebroedsel = gemene mense; nydige, venynige spul — in die Bybel gesê van Skrifgeleerdes en Fariseërs
  • Die knie voor Baal buig = ‘n afgod dien; die ware leer versaak
  • Die Benjamin (van die familie) = die jongste kind
  • Boekevat = huisgodsdiens hou
  • Jou brood op die water werp = aan ander mense goed doen (dan word daar later aan jou ook goed gedoen)
  • Van Dan tot Berseda = die hele land deur
  • Soos Dawid en Jonatan = boesemvriende
  • ‘n Delila = ‘n verleidelike, listige vrou
  • ‘n Debora = ‘n dapper, onverskrokke vrou
  • ‘n Derdegelui = ‘n baie tydsame persoon
  • ‘n Dorkas = ‘n vrou wat liefdadigheid doen
  • ‘n Enakskind = ‘n reus
  • Aan die voete van Gamaliël sit = deur ‘n groot geleerde onderrig word
  • Van waar Gehasi? = word gesê as jy iemand onverwags teëkom
  • Die gees word oor hom vaardig = hy word besiel om ‘n taak te onderneem (bv. om te skryf)
  • Sy gesang (kerk) is uit = sy rol is uitgespeel; hy het geen invloed meer nie
  • ‘n Gideonsbende = ‘n klein groepie mense wat trou bymekaar staan en onwrikbaar ‘n doel nasteef
  • ‘n Goliat = ‘n persoon met ‘n groot liggaamsbou
  • Jou hande in onskuld was = die verantwoordelikheid vir iets van jou afskuif
  • Die huisaltaar = die huisgodsdiens
  • So geduldig soos Job = baie geduldig
  • ‘n Jona = iemand wie se teenwoordigheid veronderstel is om ‘n ongeluk te laat plaasvind


  • ‘n Judas = ‘n verraaier, huigelaar
  • ‘n Judaskus = ‘n verraderlike kus
  • ‘n Vreemdeling in Jerusalem = onbekend wees met dit wat algemeen bekend is
  • Met ‘n ander se kalwers ploeë = die kennis, middele of planne van andere só aanwend asof dit jou eie is
  • Die gemeste kalf slag = iemand rojaal onthaal
  • Die goue kalf aanbied = rykdom najaag
  • Jou lig onder ‘n koringmaat (maatemmer) verberg = nie jou goeie invloed laat geld nie
  • Die Kretie en die Pletie = Jan Rap en sy maat; die hele gespuis (was oorspr. Koning Dawid se lyfwag)
  • Gods meul maal langsaam (maar seker) = Die Voorsienigheid se straf op sonde kom stadig, maar gewis
  • So oud soos Metusalem = baie oud
  • Nabot se wingerd = iets wat ‘n mens baie sterk begeer, maar waarop jy geen reg het nie
  • Iemand van Pontius na Pilatus stuur = ronde en bont stuur (en min word uitgerig)
  • ‘n Profeet is nie in sy eie land geëerd nie = ‘n verdienstelike persoon kry elders meer waardering as in sy omgewing
  • Die ou profete is dood en die jonges eet brood = skertsend gesê van iemand wat sonder genoegsame grond voorspellings maak
  • ‘n Sabbatsreis = ‘n kort reisie
  • ‘n Simson = ‘n persoon met buitengewone krag
  • Iemand op sy tabernakel gee (speel) = hom afransel
  • ‘n Ongelowige Thomas = iemand wat nie maklik iets glo nie
  • Die versene teen die prikkels slaan = jou verset teen ‘n hoër mag waarteen jy niks vermag nie
  • (Verlang na) die vleispotte van Egipte = (verlang na) ‘n vroeër lewe wat beter gewaan word as die waarin ‘n mens tans is


 

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar