fbpx

Die Gevolge van Leesprobleme en die Waarde van Goeie Leesvaardighede

Kind wat leesStel jou voor dat jy nie kan lees nie. Jou akademiese loopbaan sal nie verder gaan as hoërskool nie, wat jou kanse om jou ooit op te werk in die wêreld ernstig sal kniehalter. Aangesien jy nie ‘n aansoekvorm kan invul nie, sal jy nooit sonder hulp kan aansoek doen vir ‘n werk nie. Jy sal nie met vriende kan korrespondeer nie, vir jou plesier kan lees of jou kinders met slaaptydstories bederf nie. Jy sal nie padtekens, die instruksies op ‘n medisynebottel, of die spyskaart in ‘n restaurant kan lees nie. In ‘n lesende wêreld sal jy dus eintlik ernstig gestremd wees.

Ongelukkig is leesprobleme ‘n werklikheid. Baie kinders sukkel om te leer lees, en baie slaag nooit daarin nie.

Die Nasionale Assessering van Opvoedkundige Vooruitgang (NAOV), ook bekend as Die Nasie se Verslagkaart, is ‘n volgehoue, verteenwoordigende assessering van wat Amerikaanse studente weet en kan doen in verskeie vakke. In November 2011 het die NAOV die leesresultate vir 2011 vir Graad-4- en Graad-8-leerders vrygestel. Die resultate: ongeveer twee derdes van hierdie studente se lees was nie op graadvlak nie. Met punte gelyk aan die basiese of laer as die basiese vlak, kon hierdie studente nie die betekenis van ‘n woord in konteks interpreteer nie, relevante inligting opspoor, eenvoudige afleidings maak, of hulle begrip van die teks gebruik om besonderhede te identifiseer wat ‘n sekere interpretasie of gevolgtrekking kon bevestig nie.

Die Wêreld Geletterdheidstigting het berig dat een uit elke vyf lede van die Britse bevolking so swak lees en skryf dat hulle sukkel om ‘n medisyne-etiket te lees of ‘n tjekboek te gebruik. Volgens navorsing kos hierdie vlak van ongeletterdheid die VK se ekonomie £81 biljoen per jaar aan verlore verdienste en groeiende welsynsuitgawes.

Die 2006 internasionale Volwasse Geletterdheid en Lewensvaardighede-opname toon dat ongeveer 40 persent van werknemers en 60 persent van werklose Australiërs swak of baie swak geletterdheids- en syfervaardighede het.

In Suid-Afrika gaan dit nie beter nie. Skokresultate toon dat Suid-Afrikaanse leerders konstant onderpresteer en nie net onder die swakste ter wêreld gereken word nie, maar ook onder die swakste in Afrika. Volgens Graeme Bloch, outeur van The Toxic Mix — What’s Wrong with South Africa’s Schools and How to Fix It, is 60% tot 80% van ons skole disfunksioneel: “They produce barely literate and numerate learners and (I) believe the country is headed for a national education crisis.”

Die gevolge

Volgehoue leesmislukking lei tot angs, verleentheid en frustrasie. “Reeds teen die einde van Graad 1 begin kinders wat moeilik leer lees minder positief oor hulself voel as toe hulle met skool begin het,” sê Dr G Reid Lyon, ‘n gewese navorser van die Nasionale Instituut vir Gesondheid (NIG) van die VSA. “Soos ons kinders volg deur laer- en hoërskooljare verswak hulle selfvertroue en die motivering om te lees selfs verder.”

“Skooluitsakkers, tienerswangerskappe, swak akademiese prestasie, misdaad — dit alles is uiteindelike gevolge van die onvermoë om te leer lees,” vervolg Lyon. Meer as drie dekades se navorsing deur die NIG het bevind dat uit die 10 tot 15 persent van kinders wat skool voortydig verlaat, meer as 75 persent leesprobleme het.

Navorsing het bewys dat daar ‘n noue verband is tussen ongeletterdheid en misdaad. Volgens die VSA se Departement van Onderwys het 85 persent van alle jeugmisdadigers leesprobleme. In die volwasse bevolking is 60 persent van alle gevangenes funksioneel ongeletterd, wat beteken dat hulle nie goed genoeg kan lees of skryf om aan die daaglikse lewensvereistes te voldoen nie.

Die ander kant…

Aan die ander kant word sterk leesvaardighede aan baie persoonlike, sosiale en ekonomiese voordele gekoppel. Volgens navorsing wat in die Psychological Science gepubliseer is, kan leesvermoë op ouderdom sewe gekoppel word aan sosio-ekonomiese status verskeie dekades later.

Deur meer as 17 000 mense in Engeland, Skotland en Wallis te volg oor ‘n tydperk van ongeveer 50 jaar (vanaf geboorte in 1958 tot vandag), het Stuart Ritchie en Timothy Bates van die Universiteit van Edinburgh gevind dat deelnemers se lees- en wiskundige vermoë op sewe gekoppel is aan hulle sosiale klas ‘n volle 35 jaar later. Deelnemers wat beter lees- en wiskundige vermoëns gehad het as kinders, het later hoër inkomstes, beter behuising en beter werk gehad as volwassenes. Die data dui byvoorbeeld daarop dat een leesvlak hoër op ouderdom sewe geassosieer is met ‘n toename van £5 000 (ongeveer $7 750) aan inkomste op ouderdom 42.

“Hierdie bevindinge impliseer dat basiese vaardighede in die kinderjare, ongeag hoe slim jy is, hoe lank jy op skool was, of die sosiale klas waarin jy begin het, regdeur jou lewe belangrik sal wees,” verklaar Ritchie en Bates.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar