fbpx

Disleksie ― Daar Is Hoop

Meisie verveeld met skoolwerk“Jou kind is dislekties.” Daardie woorde kan ʼn ouer se grootste nagmerrie wees.

“’n Ernstige leesprobleem kan as disleksie beskryf word, maar wat belangriker is, is die wete dat hierdie probleme opgelos kan word en dat daar hoop is,” sê Susan Du Plessis, Edublox se Direkteur van Opvoedkundige Programme.

Tipiese en bekende tekens van disleksie is wanneer letters soos ‘b’ en ‘d’ omgekeer word of wanneer die woord ‘rot’ in plaas van ‘tor’ gelees word. Wanneer kinders die disleksie-etiket toegeken is, word hulle agterstand op skool dikwels oorgesien, omdat daar gemeen word dat hulle probleem ongeneeslik is. Sommige mense glo dat die disleksielyer se brein op ʼn sekere manier “bedraad” is en dat dit nie verander kan word nie. Du Plessis moedig ouers aan om nie tou op te gooi met hulle kinders nie.

Net ‘n naam vir ‘n groep simptome

“Disleksie is net ʼn naam vir ʼn groep simptome ten opsigte van lees- en spelprobleme. Die wetenskap van neuroplastisiteit bewys dat die brein wel kan verander. Wat dikwels as disleksie voorkom, is ʼn gebrek aan sekere kognitiewe vaardighede, wat lateraliteit, vormpersepsie, ouditiewe opeenvolging en fonemiese bewustheid insluit. Indien hierdie kognitiewe vaardighede geoefen word, kan ʼn leesprobleem iets van die verlede wees,” sê Du Plessis.

Selfs wanneer ʼn kind bogemiddeld op skool vaar, is sy relatiewe vermoë ietwat misleidend as dit met internasionale opvoedkundige standaarde vergelyk word. Toe die Vordering in Internasionale Leesgeletterdheid-studie (PIRLS) in 2006 die leesvermoë van Graad 4-kinders in 40 lande met mekaar vergelyk het, het Suid-Afrika die swakste van almal gevaar. ʼn Opvolgstudie in 2011 het bepaal dat Hong Kong wêreldwyd die beste standaard behaal het, en het getoon dat ons Graad 4-leerders “tydens ʼn makliker assessering steeds algeheel op ʼn laer vlak presteer as hulle internasionale eweknieë.”* Navorsing wat verlede jaar deur Edublox in Singapoer gedoen is, het hierdie kommerwekkende situasie bevestig. “’n Kind wie se leesvlak in Suid-Afrika as aanvaarbaar vir sy ouderdom beskou word, kan in Singapoer met disleksie gediagnoseer word”, sê Du Plessis. “’n Diagnose van disleksie is dus relatief tot die spesifieke land en omgewing. Pleks van akademiese prestasie met ʼn losweg gedefinieerde etiket in te perk, moet ons ons daarop toespits om potensiaal te ontwikkel.”

Gevallestudie

Die ma van ʼn negejarige dogter wat met ernstige disleksie gediagnoseer is, is ingelig dat daar geen hoop op akademiese sukses vir haar kind is nie. “Ek was geweldig bekommerd toe sy die woord ‘elmboog’ moes oorskryf en ‘boogmle’ geskryf het. Hoe sou sy ooit volgende jaar in Graad 4 eksamens kon aflê? Wanneer sy ook al gelees het, het die letters op die bladsy rondgespring”, sê haar ma. Volgens Du Plessis is dit ʼn aanduiding van ʼn ernstige leesprobleem. Na ʼn intensiewe tien dag lange program in kognitiewe ontwikkeling, het die Graad 3-leerder haar eerste struikelblok oorkom en vir haar ma gesê dat die letters opgehou het om rond te beweeg. “Trouens, sy het meer selfvertroue en geniet dit selfs nou om te lees,” vertel haar ma. Namate haar kognitiewe vaardighede al hoe sterker word met behulp van oefeninge wat haar brein ‘bou’, sal sy in staat wees om haar leesprobleme heeltemal te oorkom, sê Du Plessis.

 

*http://www.up.ac.za/media/shared/Legacy/sitefiles/file/publications/2013/pirls_2011_report_12_dec.pdf

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar