fbpx

Disleksie: Raad aan Ouers

Schoolgirl doing homeworkHierdie artikel het verskyn in Volksblad op 23 April 2001:

LEES en leer is dié twee dinge waarop ‘n kind se sukses in sy skoolloopbaan geskoei word. Eers leer hy om te lees, dan lees hy om te leer. Lees is dus van kardinale belang in die opvoedingsproses. Maar vir sommiges, die disleksielyers, vir wie letters net nie sin maak nie, kan dit ‘n ernstige agterstand beteken.

Só sê dr. Jan Strydom van die sentrum vir disleksie en mede-skrywer van die boek The right to read.

Volgens statistieke kan ongeveer 25% van die wêreld se bevolking as dislekties beskou word. Ten minste een uit elke tien mense, wat andersins heeltemal bekwaam is, het ernstige disleksie-probleme.

In die lig van die belangrike rol wat kommunikasie — verbaal en geskrewe — in ons moderne wêreld speel, is dit maklik om te verstaan dat ‘n taalprobleem soos disleksie ‘n drastiese inkorting in ‘n mens se lewensgehalte meebring. Dit vonnis enige mens tot ‘n lewe van eensaamheid in ‘n wêreld vol mense en stroop hom van alle gevoelens van selfvertroue en eiewaarde.

”Onderprestasie op skool kan ‘n harde slag wees vir enigeen se selfvertroue en druk sy stempel af op die res van jou lewe,” skryf Britse aktrise Susan Hampshire, wat self ook dislekties is, in haar boek Every letter counts.

Die idee dat disleksie ‘n sertifiseerbare biologiese sindroom is, ‘n liggaamlike probleem wat dienooreenkomstig gediagnoseer en behandel kan word, was in die jare sestig en sewentig baie gewild. Sedertdien is dit deur intensiewe en herhaalde navorsing as vals bewys.

Onlangse neurlogiese bevindinge dui daarop dat hoewel daar aanwysbare gebiede met bepaalde funksies in die brein voorkom, is dit nogtans so dat breinselle verander en gebruiksgebiede deur leer verskuif. Leer bring vermeerderde breingroei mee, terwyl die afwesigheid daarvan lei tot ‘n gebrek aan breingroei. Dr. Bruce Perry en dr. Ronnie Pollard, twee navorsers aan die Baylor College of Medicine, het bevind dat kinders wat in erge isolasie grootword, met gebrekkige taalblootstelling en met min aanraking en sosiale interaksie, se breine tussen 20% en 30% kleiner is as die norm vir hulle ouderdom.

Dit kan net beteken dat die antwoord op die raaisel van disleksie nie in die brein geleë is nie, soos so lank geglo is. Die oorsaak vir ‘n mens se disleksieprobleem is dus nie inherent tot die mens nie. Die rede vir sy onvermoë is slegs dat hy tot dusver nog nie aan die regte leerervaringe blootgestel is nie. Logieserwyse is die oplossing dus daarin geleë om hom nou aan sulke ervaringe bloot te stel.

Dit is belangrik om daarop te let dat leer in lae plaasvind. Dit beteken dat die een ding wat ‘n mens leer, dit daarna vir jou moontlik maak om ‘n volgende ding te leer. Daar is dus ‘n bepaalde volgorde by leer betrokke. Dis baie soos om ‘n leer te klim. As jy een van die sporte mistrap, val jy af. As jy een van die stappe in die leergebeure nie voldoende bemeester het nie, kan jy daaropvolgende stappe nie bemeester nie.

‘n Kind wat nog nie leer tel het nie, sal nooit geleer kan word om op te tel en af te trek nie. Jy moet ook eers vaardighede soos konsentrasie, visuele diskriminasie, korrekte waarneming, visuele en ouditiewe onthouvermoë en assosiasie baasraak. Dit vorm die grondslag vir goeie lees en spel.

Ongelukkig gebeur dit dikwels dat kinders, wanneer hulle moet skool toe gaan, nog nie hierdie vaardighede bemeester het nie. Onvermydelik ondervind hulle dan probleme met die aanleer van lees, skryf en spel.

Dit is gewoonlik baie maklik om disleksie uit te ken. As ‘n ouer enige van die onderstaande simptome in sy kind waarneem, kan hy dit as ‘n duidelike aanduiding beskou dat die kind ‘n probleem het met disleksie en dus hulp nodig het.

  • Omkerings, dit wil sê die kind sukkel om ‘n b en d uitmekaar te ken in lees en skryf.
  • Weglatings, soos wanneer ‘n kind ”kat” lees as die woord eintlik ”krat” is.
  • Die kind onthou weinig van wat hy lees.
  • Die kind begryp min van wat hy lees.
  • Die kind het ‘n stadige en of swak handskrif.

Wat kan ouers doen? Afgesien van grondvaardighede, speel taal ook ‘n uiters belangrike rol by lees. Dit kan vergelyk word met die rol wat hardloop speel in rugby of sokker. ‘n Mens kan nie ‘n boek lees in ‘n taal wat jy nie verstaan nie. As ‘n kind se taalvermoë swak is, sal hy noodwendig ook swak lees. Dit beteken dat dit van die uiterste belang is dat ouers hul klein baba van so vroeg moontlik aan soveel taal moontlik blootstel.

Televisie is ‘n uiters passiewe kommunikasiemedium. Geen intellektuele stimulasie vind plaas as ‘n kind hom voor ‘n televisiestel afsonder nie. Navorsers het bevind dat selfs die sogenaamde opvoedkundige programme net waarde het as ‘n ouer saam met die kind daarna kyk en die kind se aandag op bepaalde aspekte vestig. Ouers behoort nie hulle kinders toe te laat om na willekeur televisie te kyk nie.

Veral in die week behoort kinders se kyktyd beperk te word, sodat hulle hulself met konstruktiewer bedrywighede kan besig hou.

Enige ouer wat vermoed dat sy kind disleksie het, behoort die sentrum vir disleksie te bel: …….

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar