fbpx

Disleksie: Van Simptome tot Oorsake tot Oplossing

Young girl readingDie meeste kinders sien daarna uit om te begin lees. Lees is ’n proses waarvolgens hulle leer om abstrakte krabbels te sien as betekenisvolle letters, daarna klanke, dan woorde en uiteindelik sinne en paragrawe. Lees verteenwoordig ’n kode-stelsel: die alfabetiese stelsel. ‘n Groot aantal kinders is daartoe in staat om dié kode na ’n jaar se skoolgaan te ontsyfer, maar vir ten minste een uit elke vyf kinders is dit ’n heeltemal ander ervaring.

Lees, wat vir ander maklik is, is vir hulle eenvoudig net bokant hulle vuurmaakplek. Hierdie kinders, wat die gesproke woord verstaan en so lief daarvoor is om na stories te luister, sukkel om dieselfde woorde te ontsyfer wanneer dit op papier staan. Hulle lees stadig en hakkelrig, en woorde wat hulle skynbaar maklik lees in een sin, lees hulle verkeerd in die volgende sin. Hardoplees is ‘n worsteling. Uiteindelik raak hulle gefrustreerd en teleurgesteld.

Lees is koning in die klaskamer; dis onontbeerlik vir akademiese sukses. Onderwysers, wat sien hoe die gaping tussen goeie lesers en swak lesers in hulle klas groter word, vra hulself af wat hulle of die leerders verkeerd doen. Ouers, deeglik bewus van die verreikende negatiewe gevolge wat leesprobleme dwarsdeur al die ontwikkelingsfases het, se gemoed kan soms wissel van skuldgevoelens tot woede.

Wat is disleksie?

Die term “disleksie” is saamgestel uit twee Griekse woorde dys en lexis wat “swak lees” beteken. Spel en skryf word gewoonlik hierby ingesluit as gevolg van die nou verband wat dit met lees het.

Die outydse (en dalk nog populêre) siening is dat disleksie ‘n fisiese versteuring in die brein is wat veroorsaak dat inligting verkeerd verwerk en geïnterpreteer word, wat dan lei tot leesprobleme. Histories is die disleksie-etiket toegeken aan leerders wat ‘n gemiddelde tot ‘n bogemiddelde IK het, en ten spyte van “voldoende” leergeleenthede ‘n ernstige leesagterstand het. Minder-begaafde kinders se leesprobleme was toegeskryf aan hulle intellektuele beperkinge.

Tekens van disleksie

• Omkering van letters soos b en d of p en q, of lees bv. tak vir kat of sak vir kas.
• Plaas letters in die verkeerde volgorde en lees bv. emelent vir element, snik vir niks, en tekel vir ketel.
• Lees klein woordjies verkeerd bv. ‘n vir nie, vir i.p.v. van, met vir meer.
• Raak gedisoriënteerd met ’n reël of op ’n bladsy terwyl hy lees, mis reëltjies of herhaal wat reeds gelees is.
• Hardoplees is hakkelrig, woord-vir-woord, monotoon.
• Probeer die letters van die woord klank maar kan dan nie die korrekte woord sê nie. Sal bv. die letters ‘k-a-t’ klank, maar dan koud sê.
• Spreek woorde verkeerd uit, of plaas klem op verkeerde lettergrepe.
• Verkort woorde bv. porsie vir proporsie.
• Weglating van voorvoegsels, weglating van agtervoegsels of byvoeging van agtervoegsels.
• Lees met swak begrip.
• Onthou nie veel van wat gelees is nie.
• Kan nie die regte letter by ’n gegewe klank pas nie.
• Ignoreer gereeld leestekens, laat punte en kommas uit.

Verskillende standpunte oor disleksie

Die uiteenlopende standpunte oor disleksie maak dit vir ouers moeilik om te weet wat die regte manier is om hulle kind te help. Aan die een kant is daar die groep wat glo disleksie is ’n onomkeerbare toestand wat nie genees kan word nie en bloot aanvaar moet word, terwyl daar andere is wat reken die diagnose van disleksie is ’n mors van tyd.

Volgens die Britse Disleksie Assosiasie word mens met disleksie gebore en is die effek daarvan lewenslank. Díe vereniging, en baie ander, se aanbeveling is dat ‘n disleksie-toets — met koste — gedoen moet word, en hulle gee advies oor hoe om daarmee saam te leef en watter stappe gedoen moet word om toegang te kry tot spesiale studie-toelae en die voordele wat vir gediagnoseerde disleksielyers beskikbaar is.

Professor Julian Elliott van Durham Universiteit in die Verenigde Koninkryk en Professor Elena Grigorenko van Yale Universiteit in die VSA sien disleksie uit ‘n ander oogpunt, nl. dat die diagnose daarvan eintlik maar min waarde het. In hulle boek, The Dyslexia Debate skryf Elliott en Grigorenko: “Ouers word mislei deur aannames dat ’n disleksie-assessering streng-wetenskaplik is, en dat ‘n diagnose sal aandui watter vorm van behandeling die beste sal wees.” Elliott is bekommerd oor die immer stygende aantal mense wat met disleksie diagnoseer word. Disleksie, reken Elliott, is ‘n term wat laat vaar moet word aangesien dit, volgens hom, meer verwarring as duidelikheid veroorsaak.

Neuroplastisiteit bring hoop

Tegnologiese vooruitgang het dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak om te sien dat die brein plasties is. Nuwe verbindings of herbedrading tussen neurone kan vorm en die interne struktuur van die bestaande sinapse kan verander. Nuwe neurone word ook voortdurend gebore, veral in die leer- en geheuesentrums. ’n Persoon wat ’n deskundige in ’n spesifieke veld word, sal groei toon in daardie areas van die brein wat te doen het met sy of haar kundigheid. Die linkerhemisfeer van die brein beheer die kapasiteit om taal te verstaan en te gebruik in 90 persent van die mensdom, maar selfs al sou die linkerhemisfeer van die brein ’n ernstige besering opdoen, kan die regterkant sommige taalfunksies oorneem.

Soos lankal vermoed, het fMRI-skanderings bevestig dat daar verskille tussen die breine van dislektiese persone en mense wat goed kan lees, bestaan. Die resultate van daaropvolgende studies dui egter daarop dat ons dalk die oorsaak-gevolg verhouding moet omdraai, met ander woorde dat hierdie verskille moontlik nie die oorsaak van leesprobleme is nie, maar wel die gevolg.

Deur gebruik te maak van breinskanderings het neuro-wetenskaplike Gabrieli aan MIT bevind dat swak lesers van alle IK-vlakke (kinders met en sonder disleksie) beduidend minder breinaktiwiteit as gewone lesers toon, in al ses breinareas wat waargeneem is. Daar was dus geen verskille in die breine van swak lesers nie, ongeag hulle IK.

‘n Aanlyn publikasie van die Journal of Neuroscience berig oor navorsing waarin die breine van kinders met disleksie vergelyk is met twee ander groepe kinders: ‘n groep van dieselfde ouderdom sonder disleksie en ‘n groep jonger kinders op dieselfde leesvlak as die met disleksie. Die kinders met disleksie het minder grysstof as die groep met dieselfde ouderdom gehad, maar wel dieselfde grysstof as die jonger kinders op dieselfde leesvlak.

Volgens hoofnavorser Krafnick beteken dit dat die anatomiese verskille in die linkerhemisfeer van die brein, ‘n gevolg van die leeservaring van die kinders is, eerder as ‘n oorsaak van disleksie.

Wanneer word ‘n leesprobleem disleksie?

Vergeleke met internasionale opvoedkundige standaarde kan selfs kinders wat bo-gemiddeld presteer op skool se relatiewe vermoëns ietwat misleidend wees. Toe die Vordering in Internasionale Leesgeletterdheid-studie (PIRLS) in 2006 die leesvermoë van Graad 4-kinders in 40 lande met mekaar vergelyk het, het Suid-Afrika die swakste van almal gevaar. ʼn Opvolgstudie in 2011 het bepaal dat Hong Kong wêreldwyd die beste standaard behaal het, en het getoon dat ons Graad 4-leerders “tydens ʼn makliker assessering steeds algeheel op ʼn laer vlak presteer as hulle internasionale eweknieë.”

Navorsing wat verlede jaar deur Edublox in Singapoer gedoen is, het hierdie kommerwekkende situasie bevestig. ’n Kind wie se leesvlak in Suid-Afrika as aanvaarbaar vir sy ouderdom beskou word, kan in Singapoer met disleksie gediagnoseer word. Pleks van akademiese prestasie met ʼn losweg gedefinieerde etiket in te perk, moet ons ons daarop toespits om potensiaal te ontwikkel.

Disleksie is net ʼn naam vir ʼn groep simptome ten opsigte van lees- en spelprobleme. Die wetenskap van neuroplastisiteit bewys dat die brein wel kan verander. Wat dikwels as disleksie voorkom, is ʼn gebrek aan sekere kognitiewe vaardighede, wat rigtingsin, vormpersepsie, ouditiewe sintese en langtermyngeheue insluit. Indien hierdie kognitiewe vaardighede geoefen word, kan ʼn leesprobleem iets van die verlede wees.

Leerbeginsels en die ontwikkeling van kognitiewe vaardighede

Ten einde te verstaan wat leesprobleme veroorsaak, moet ons verstaan dat leer ’n laagsgewyse gebeure is. Een vaardigheid moet eers vasgelê word voor ons ’n daaropvolgende vaardigheid kan baasraak. Dis soos met ’n leer opklim: sportjie vir sportjie, anders val jy.

Die eerste sportjie van die lees-trapleer

Di dunia kini kita, tiap orang harus dapat membaca… As jy nie eers die taal Indonesies geleer het nie, is daar nie ’n manier waarop jy hierdie Indonesiese sinnetjie gaan verstaan nie. Dit wys vir ons dat taal op die heel onderste sportjie van die leer is. Ons kan die rol van taal in lees vergelyk met hardloop in sokker. Mens kan nie sokker speel as jy nie kan hardloop nie. Insgelyks kan mens nie lees as jy nie die spesifieke taal goed ken nie.

Indien ’n kind se kennis van Afrikaans swak is, sal hy sukkel om dit te lees. Sonder doeltreffende opleiding om sy Afrikaans te verbeter, sal sy leesvermoë nie ontwikkel nie. Die literatuur is oorlopens toe vol van bewyse dat daar ’n verband tussen leesprobleme en taalprobleme is. Navorsing bewys, onder andere, dat 60 persent disleksie-lyers laat begin praat het. Ouers word dus aangemoedig om hulle kinders wye blootstelling te gee om taal aan te leer.

Die tweede sportjie is kognitiewe vaardighede

Terwyl taalvaardigheid die onderste sportjie van die leesleer is, is kognitiewe vaardighede die volgende een. Daar is ’n hele klomp kognitiewe vaardighede wat onontbeerlik is vir lees en spel:

Aandag

Aandag, of konsentrasie, speel ‘n krities-belangrike rol in leer. Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word. Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.

Omdat aandag so belangrik is vir lees, kom ADHD en disleksie dikwels saam voor. Om en by 25 persent van die kinders wat gediagnoseer is met ADHD, ’n leerprobleem wat konsentrasie affekteer, is ook dislekties.

Visuele prosessering

Visuele prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit die inligting wat ons sien. Dis anders as probleme wat sig of visie insluit. Probleme met visuele prosessering affekteer die interpretasie of verwerking van dit wat ons met ons oë waarneem. ’n Kind met visuele prosesseringsprobleme mag 20/20 visie hê, maar sukkel om te onderskei tussen voorgrond-agtergrond, vorms, grootte en posisie in die ruimte. Hy mag ook sukkel met sintese en analise.

Voorgrond-agtergrond diskriminasie is die vermoë om voorwerpe op die voorgrond en agtergrond waar te neem en hulle sinvol te skei. ‘n Kind wat sukkel met voorgrond-agtergrond diskriminasie mag sy plek op die bladsy verloor, of kan nie sy plek op die bladsy kry en hou nie.

Vormpersepsie. Die mees voor-die-handliggende klaskamer-aktiwiteit wat vormpersepsie van die kind vereis, is lees. Letters van die alfabet leer, lettergrepe en woorde aanleer sal ongetwyfeld moeilik wees as die kind probleme daarmee het om letters, lettergrepe en woorde se vorms te onderskei.

Grootte-onderskeiding. Die kind met probleme in hierdie gebied mag sukkel om onderskeid te tref tussen ‘n hoofletter S en ‘n kleinletter s.

Ruimtelike verhoudings verwys na die posisie van voorwerpe in ’n ruimte. Dit verwys ook na die vermoë om voorwerpe se verhouding tot ander voorwerpe akkuraat te bepaal. ’n Persoon met probleme op die gebied van ruimtelike oriëntering mag die moeilik vind om te onderskei tussen b, d, p en q.

Sintese en analise behels die vermoë om ‘n voorwerp as ‘n geheel waar te neem, dit op te breek in dele en weer sinvol saam te voeg.

Die term visuele disleksie of diseidetiese disleksie word dikwels gebruik om ’n dislektiese persoon wat sukkel met visuele prosessering te beskryf.

Ouditiewe prosessering

Ouditiewe disleksie of disfonetiese disleksie, aan die ander kant, is terme wat gebruik word om ’n dislektiese persoon met ouditiewe prosesseringsprobleme te beskryf.

Ouditiewe prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit inligting wat gehoor word. Dis nie ’n onvermoë om te hoor nie, maar ’n onvermoë om dit wat gehoor word te interpreteer, te organiseer of te analiseer.

Probleme met ouditiewe persepsie kom oor die algemeen ooreen met die in die visuele area en ons onderskei tussen die volgende:

Ouditiewe voorgrond-agtergrond differensiasie verwys na die vermoë om dit te selekteer waaraan ons aandag wil gee en te ignoreer wat nie relevant is nie.

Ouditiewe diskriminasie verwys na die vermoë om te onderskei tussen eenderse en verskillende klanke.

Ouditiewe sintese en analise. Ouditiewe sintese is die vermoë om klanke of lettergrepe saam te voeg tot ‘n woord. Die kind wat probleme het op hierdie gebied kan byvoorbeeld die klanke van die woord l-a-m-p apart uitspreek, maar kan die afsonderlike klanke nie saamvoeg om die woord lamp te vorm nie. Hy mag ook probleme ondervind met ouditiewe analise, oftewel die vermoë om die geheel van die woord wat ouditief waargeneem word, in sy afsonderlike (klank-) eenhede te analiseer (of op te breek); hy sal dus nie lamp kan klank nie.

Prosesseringspoed

Prosesseringspoed verwys na hoe lank dit vat om dinge gedoen te kry.

Disleksie word verbind met stadige prosesseringspoed. Hermunder Sigmundsson en sy kollegas het twee simulasies van bestuurstoetse vir 6 disleksie-lyers en 11 ander persone laat uitvoer. Daar was padtekens en hulle het op nagebootsde plattelandse- en stadspaaie teen verskillende snelhede bestuur. Die span navorsers het waargeneem dat die dislektiese persone 20 persent stadiger reageer het op verkeerstekens op plattelandse paaie, en 30 persent stadiger op die van stadspaaie, as die nie-dislektiese kontrole groep.

Geheue

Geheue is die stoor van inligting oor ’n tydperk. Alhoewel die woord ‘geheue’ ’n “alles-of-niks”-proses veronderstel, is dit duidelik dat daar verskillende tipes geheue is, elk tot ’n mate onafhanklik van die ander.

Visuele geheue. ’n Goeie visuele geheue is onontbeerlik vir die opbou van ’n visuele “woordeboek” in die brein.

Ouditiewe geheue veronderstel die vermoë om inligting wat mondelings aangebied word te prosesseer, te stoor en te kan weergee.

Navorsers het 52 musikante bestudeer, waarvan 24 dislekties was; die ander 28 was nie. Beide groepe was onderwerp aan ’n verskeidenheid ouditiewe toetse. Alhoewel beide groepe ewe goed presteer het met die ouditiewe persepsie toetse, het die musikante wat dislekties is heelwat swakker gevaar in toetse wat ouditiewe korttermyngeheue getoets het.

Reeksgeheue verwys na die herroep van items in n spesifieke volgorde. Baie leerders met leesprobleme het ’n swak reeksgeheue.

Ikoniese geheue. Indien ’n skrifreël vir ‘n breukdeel van ’n sekonde voor jou geflits word, sal al die letters wat jy vir ’n kort oomblik daarna visualiseer, jou ikoniese geheue voorstel. Jou ikoniese geheue, saam met jou vermoë om te diskrimineer tussen voor- en agtergrond, bepaal jou oogspan. Oogspan is die aantal letters wat jy in ’n oogopslag kan inneem.

’n Persoon wat lees se oë beweeg nie aaneenlopend met die teksreël nie, maar voer eerder ’n reeks vinnige bewegings uit. Die Franse woord ‘saccade’ wat ‘ruk’ beteken word gebruik om hierdie afwisselende fiksasies van die oë te beskryf. Hoe meer gereeld die oë moet fikseer (stop), hoe stadiger is die leesspoed. Regressies vind plaas wanneer die oë links moet beweeg om weer te kyk na woorde wat reeds gedek was.

‘n Dislektiese persoon of swak leser sal geneig wees om meer dikwels te pouseer vir fiksasies, en die duur van elke fiksasie is gewoonlik ook langer as by die normale leser. Die dislektiese persoon is ook geneig tot meer regressies as ander lesers.

Die ontwikkeling van ’n persoon se ikoniese geheue sal sy oogspan aansienlik verbreed.

• Terwyl meeste studies op die gebied van disleksie op korttermyngeheue fokus, nl. op die vermoë om ’n klein hoeveelheid toeganklike inligting vir ’n kort periode in die geheue te stoor, het navorsing bewys dat persone met disleksie ook ly aan swak langtermyngeheue.

’n Studie wat in Dyslexia verskyn het, is gedoen deur 60 dislektiese kinders se prestasie op verbale en visueel-ruimtelike vlak te vergelyk met 65 normale lesers van dieselfde ouderdom. Die resultate van hierdie studie het daarop gedui dat die dislektiese kinders ’n gebrek het aan kapasiteit t.o.v. langtermyngeheue.

Werkende geheue dui op die vermoë om verskeie feite of gedagtes tydelik in die geheue te hou terwyl ’n probleem opgelos word, of terwyl ’n taak uitgevoer word.

’n Belangrike en konsekwente bevinding is dat probleme op die gebied van werkende geheue veroorsaak dat kinders sukkel om te begryp wat hulle lees. Lees is ’n ingewikkelde vaardigheid wat die gelyktydige aktivering van verskeie prosesse in die brein vereis.

Logiese denke

Logiese denke is die proses van redenering wat ons gebruik om tot ’n gevolgtrekking te kom. Probleme en situasies waarby logiese denke betrokke is vereis struktuur, verbande tussen feite en aaneenskakeling van redenasies wat ‘sin’ maak.

Logiese denke gee lesers die vermoë om afleidings te maak, wat vereis dat ons dit wat ons weet gebruik om te probeer bepaal wat ons nie weet nie, of om ‘tussen-die-lyne’ te lees. Lesers wat afleidings kan maak gebruik leidrade uit die teks asook hulle eie ervarings om hulle te help ontsyfer wat nie direk gesê word nie.

Om af te sluit

In die lig daarvan dat die brein plasties is en kan verander en ontwikkel, sien Edublox potensiaal in elke kind want ons kan leerprobleme verander in leervaardighede; ’n onvermoë om te leer omsit in leervermoë. Met die regte opleiding en onderrig in lees, skryf en wiskunde kan kinders hulle volle opvoedkundige potensiaal bereik.


Bronnelys

Dyslexia: Symptoms, facts, causes and treatment.

Elliott, J & Grigorenko, E., The Dyslexia Debate (New York: Cambridge University Press, 2014).

Fleming, N., “Dyslexia ‘worse for drivers than drink’,” The Telegraph, 3 February 2005, http://www.telegraph.co.uk/news/uknews/1482645/Dyslexia-worse-for-drivers-than-drink.html

Gabrieli, J. D. E., et al., “The brain basis of the phonological deficit in dyslexia is independent of IQ,” Psychological Science, November 2011, vol. 22 (11), 1442-1451.

Hornsby, B., Overcoming Dyslexia (Johannesburg: Juta and Company Ltd., 1984).

Howie, S., et al., Progress in International Reading Literacy Study (University of Pretoria: Centre for Evaluation and Assessment, 2011) http://www.up.ac.za/media/shared/Legacy/sitefiles/file/publications/2013/pirls_2011_report_12_dec.pdf

Krafnick, A., et al., “An investigation into the origin of anatomical differences in dyslexia,” The Jounal of Neuroscience, 15 January 2014, vol. 34(3), 901-908.

Lerner, J., Learning Disabilities: Theories, Diagnosis, and Teaching Strategies (4th ed.), (Boston: Houghton Mifflin Company, 1988).

Shaywitz, S., Overcoming Dyslexia (New York: Vintage Books, 2003).

Smith, C. R., Learning Disabilities. The Interaction of Learner, Task, and Setting (Boston: Allyn and Bacon, 1991).

Share Button

2
Leave a Reply

avatar
1 Comment threads
1 Thread replies
0 Followers
 
Most reacted comment
Hottest comment thread
2 Comment authors
adminsonja mostert Recent comment authors
  Subscribe  
newest oldest most voted
Notify of
sonja mostert
Guest
sonja mostert

who can we help the kid with disleksie what is the cause of disleksie in the brain.

Skip to toolbar