fbpx

Drie Oefeninge om Jou Kind se Kreatiwiteit te Verbeter

Creative boy

Hierdie rubriek is gepos op Maroela-Media.co.za op 10 Augustus 2016:

Hello Susan

Ek is bekommerd dat my kinders nie kreatief genoeg is nie. My oudste seun is ses jaar oud. Gister het hy en ’n vriend in die agterplaas gespeel. Sy vriend het gemaak asof hy ’n dinosaurus is en al wat my seun kon sê is, “daar is g’n dinosaurusse nie.” Hy speel nooit kamma-kamma nie, om die waarheid te sê, hy speel selde. Hy kyk so ‘n bietjie TV. Sy jonger broer is ook so. Wat’s fout?

Annelle


Liewe Annelle,

In die vorige rubriek het ons tot die gevolgtrekking gekom dat kreatiwiteit, net soos musikale of atletiese vermoëns, verbeter kan word deur opleiding en gefokusde oefening. Een van ons lesers het twee boeke voorgestel wat jy kan gebruik om jou kinders se kreatiwiteit te bevorder. Soos belowe, deel ek drie oefeninge hier, wat ook van hulp sal wees vir jou, sowel as ander mammas.

Die eerste oefening leer kinders om kreatief te dink op ’n konkrete vlak, die tweede op ’n skematiese vlak en die derde op abstrakte vlak. Gee aan jou seun die skematiese een na hy kreatiewe denke op konkrete vlak bemeester het en doen daarna die abstrakte vlak wanneer hy kreatiewe denke op skematiese vlak baasgeraak het.

Oefening 1

In hierdie oefening moet die een of ander objek beskryf word, byvoorbeeld ‘n groot vierkantige Lego blokkie. Neem die blokkie, wys dit vir hom en vra: “Kan jy hierdie blokkie vir my beskryf?” Hy moet soveel moontlik eienskappe van die blokkie opnoem. As hy vassteek, kan hy deur goedgemikte vrae gelei word, byvoorbeeld:

  • “Hoe lyk die kante?”
  • “Hoe lyk die sye?”
  • “Hoe lyk die hoeke?”
  • “Hoeveel hoeke is daar?”
  • “Hoeveel kante is daar?”
  • “Hoeveel sye?”
  • “Is die blokkie groot of klein?”
  • “Is dit lig of swaar?”

Nadat hy die blokkie beskryf het, moet hy probeer om dit wat hy waargeneem het, toe te pas. Dit kan gedoen word deur vrae soos die volgende aan hom te stel:

  • “Wat kan alles met so ‘n blokkie gedoen word?” (Byvoorbeeld, die kante kan gebruik word om reguit lyne te trek; patroontjies kan daarmee op klei of deeg gedruk word; iets kan binne-in gehou word, byvoorbeeld sand of water of voëlsaad; ensovoorts.)
  • “Indien jy iets aan die blokkie sou byvoeg of verander, wat sal jy dan daarmee kon maak?” (Byvoorbeeld, deur ‘n stukkie spons in die holte te druk, kan ‘n speldekussinkie gemaak word; deur die blokkie warm te maak en uit te rek, kan ‘n reghoek gemaak word; ensovoorts.)
  • “Van watter ander materiaal, behalwe plastiek, kan sulke blokkies gemaak word?” (Byvoorbeeld, hout, glas, klip, klei, ensovoorts.)

Enige ander objek kan gebruik word en op dieselfde wyse hanteer word, byvoorbeeld ‘n potlood, ‘n pen, ‘n papierklemmetjie, ‘n vuurhoutjiedosie, ensovoorts.

Oefening 2

In die vorige oefening is die een of ander konkrete objek gebruik vir beskrywing. In hierdie oefening word skematiese voorstellings gebruik, byvoorbeeld ‘n vierkant, ‘n sirkel, ‘n driehoek, ensovoorts.

Teken byvoorbeeld ‘n sirkel op ‘n stuk papier en begin, net soos in die vorige oefening, eers met ‘n beskrywing. Hy kan byvoorbeeld sê dit is ‘n sirkel, dit is rond, dit bestaan uit ‘n krom lyn sonder enige einde, die radius is oral ewe lank, ensovoorts.

Hierna kan jy hom vra wat hierdie skema alles kan voorstel. ‘n Sirkel lyk byvoorbeeld soos ‘n bal, die aarde, die son, ‘n bord, ‘n piering, die boonste rand van ‘n koppie, die letter O, ensovoorts.

Oefening 3

Die doel van hierdie oefening is om abstrakte denke te bevorder. Jy moet dus slegs ‘n verbale beroep op die kind se ervaringswêreld gedoen. Geen konkrete objekte of selfs skematiese voorstellings word gebruik nie.

Voorbeelde is soos volg:

  • “Noem soveel dinge op as wat jy kan, wat rooi (of enige ander kleur) is.”
  • “Noem soveel dinge op as wat jy kan, wat rond (of vierkantig, ensovoorts) is.”
  • “Noem soveel moontlik dinge op wat ‘n mens kan bly (of kwaad, ensovoorts) maak.”
  • “Noem soveel moontlik verskillende wyses waarop iemand kan optree as hy kwaad word.”
  • “Met watter emosies assosieer jy die kleur rooi?” (Of enige ander kleur.)
  • “Wat kan jy alles met klippe (of enige ander objekte) doen?” (Byvoorbeeld, dit kan dien as ‘n papiergewig, juwele van kan sekere klippe gemaak word, ‘n huis kan met klippe gebou word, ensovoorts.)
  • “Indien jy op ‘n eiland gestrand sou wees, wat sal jy alles kon doen om verbygaande skepe se aandag te trek?” (Byvoorbeeld ‘n groot vuur maak, jou hemp uittrek en dit in die lug waai, hard skree, ensovoorts.)

Beste wense,

Susan oor Skoolwessies


Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ‘n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ‘n opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ‘n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ‘n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 510 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar