fbpx

Edublox Bied Hulp vir Leesprobleme, Leerprobleme, Disleksie

Om behoorlik te kan lees is ‘n voorvereiste vir leersukses op skool, en uiteindelik ook ‘n belangrike bepaler van ‘n mens se beroepsukses in die toekoms. ‘n Kind, wat nie behoorlik kan lees nie, se toekoms is duister. Die swak leser het nie net ‘n agterstand teenoor goeie lesers nie, maar in werklikheid bou hy met verloop van tyd ‘n al hoe groter agterstand teenoor goeie lesers op.
Gelukkig is daar hulp! Ons gesels vandag met Alida Smit oor lees- en ander leerprobleme, en hoe om dit te oorkom.

Alida, jy is gekwalifiseer as ‘n bedryfsingenieur; hoe het dit gebeur dat jy by Edublox betrokke raak?

Dit het als begin by my oudste seun, Abraham. Nadat ons twee leessentrums beproef het om sy leesprobleme uit te stryk, het ek hom in Graad 4 vir disleksie laat toets. Die verslag het voorgestel dat ons remediërende onderwys oorweeg, wat hy toe vir twee jaar getrou gedoen het, maar sonder enige wesenlike resultate.

In Graad 6 is Abraham gediagnoseer met disleksie, nadat die skool ons ingeroep en voorgestel dat ons moet aansoek doen vir orale eksamenaflegging aangesien sy spelling en sy skrif van so aard was dat die onderwysers nie kon uitmaak wat hy skryf nie. My kind (en ek) was platgeslaan; hy het nagte omgehuil, wou nie skool te gaan nie en was moeg vir die ekstra klasse en die een toets op die ander! Hy was ook glad nie te vinde vir mondelinge eksamens nie! Sy selfbeeld was swak en hy het geglo dat daar iets vreesliks met hom fout is!

Abraham se punte het aanhou verbeter, lank nadat hy met Edublox-klasse opgehou het.

Uit desperaatheid het ek op die internet begin soek na ‘n oplossing. Ek het opgelees oor disleksie, met terapeute en sielkundiges gepraat om ‘n plan te kry om my kind te ondersteun, op my knieë gegaan en gebid vir ‘n oplossing. Uiteindelik het ek op Edublox se webtuiste afgekom. Ek het geskakel en ons het met groot oortuiging en motivering Abraham so ver gekry om nog een keer te probeer en vir die toets te gaan.

Abraham het in Mei 2010 begin met twee Edublox-klasse per week. Nie lank daarna het Abraham vir my vertel dat Edublox werk en dat hy baie beter lees en spel. Sy selfbeeld het verbeter en onderwysers het gevra wat het ons aan die kind gedoen dat hy so positief is! Selfs sy skrif het begin verbeter.

Op sy eerste hoërskoolrapport het Abraham ‘n gemiddeld van 65% gehad, sonder enige konsessies. Aan die einde van díe jaar was dit 69%, en het ons die Edublox-klasse gestaak. ‘n Jaar later was sy gemiddeld 73%. Vandag is Abraham ‘n tweedejaar PUK-student.

Toe my dogter ‘n konsentrasieprobleem ontwikkel was ek terug by Edublox. Haar probleem was redelik vinnig uitgesorteer. Haar onderwyseres het getuig van die verbetering in haar konsentrasie en haar doelgerigtheid om opdragte vinnig en akkuraat te voltooi in die klas. Waar sy voorheen ‘n regte klein dromer was voltooi sy nou haar huiswerk vinnig en gefokus.

 

Dis fantasties! Ek het altyd geglo ‘n leesprobleem soos disleksie is ongeneeslik. Was ek dan verkeerd?

Die siening dat disleksie ongeneeslik is, is die gevolg van ‘n verkeerde aanname dat die brein nie kan verander nie, laat staan nog verbeter. Mense het lank geglo as daar iets verkeerd is met ‘n persoon se brein, daar niks gedoen kan word om dit reg te maak nie. Wetenskaplikes het geglo dat elkeen van ons gebore word met ‘n vasgestelde aantal breinselle, en as enige van daardie selle seerkry, kan die skade nie herstel word nie. G’n wonder dat leerprobleme soos disleksie, wat met die brein te doen het, vir baie jare as ongeneeslik beskou was nie!

Teen die draai van hierdie eeu het nuwe metodes dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak om in die brein te sien en het dit geblyk dat die brein plasties is: Nuwe verbindings of herbedrading tussen breinselle kan vorm en die struktuur van die bestaande verbindings kan verander. Nuwe breinselle word ook voortdurend gebore, veral in die leer- en geheue-sentrums. As jy ‘n kundige op ‘n sekere gebied raak, dan groei die deel in jou brein wat daarmee te make het. Of, as ‘n persoon breinskade aan die linkerkant van die brein opdoen, wat gewoonlik die taalsentrum van die brein is, kan die regterkant van die brein daardie funksies oorneem.

Die brein is ongelooflik kragtig. Met die regte hulp is elke kind dus in staat om ‘n probleem soos disleksie te bowe te kom.

 

Edublox is seker nie net gemik op kinders met leerprobleme nie, of is dit?

Beslis nie. Edublox-programme is veral daarop gemik om die fondasie van lees en leer te verbeter. Hierdie fondasie bestaan uit kognitiewe vaardighede soos konsentrasie, visuele en ouditiewe prosessering, visuele en ouditiewe geheue, en logiese denke. Enige kind kan baat by ‘n sterker fondasie.


Vertel ons meer van die dienste wat jy aanbied.

Edublox bied ‘n verskeidenheid van dienste aan: weeklikse klasse, vakansiekursusse, intensiewe 1-tot-1 hulp vir kinders met ernstige leerprobleme, ‘n studiemetode-kursus sowel as ‘n aanlynprogram, om maar net ‘n paar te noem. Die keuse vir ‘n spesifieke diens word gewoonlik gemaak op grond van die aard en graad van die probleem, wat bepaal word deur ‘n assessering.

 

Wat maak Edublox anders as al die ander lees- en leerprogramme daarbuite?

Een rede vir die doeltreffendheid van Edublox-programme is dat hulle gebaseer is op universele leerbeginsels, eerder as op individuele leerstyle of persoonlike leervoorkeure.

Die eerste universele leerbeginsel is dat leer ’n laagsgewyse reeks gebeure is. Een vaardigheid moet eers vasgelê word voor ons ’n daaropvolgende vaardigheid kan baasraak. Dis soos met ‘n leer opklim: sportjie vir sportjie, anders val jy.

Hierdie beginsel, dat leer ‘n laagsgewyse gebeure is, kan aan die hand van enige sportsoort, soos byvoorbeeld yshokkie, verduidelik word. Voordat ‘n persoon yshokkie kan speel, moet hy eers leer om baie goed te skaats. Nadat hy geleer het om vorentoe te skaats, moet hy ook leer om agteruit te skaats en om binne ‘n oogwink te kan stop of van rigting te verander. Wanneer hy hierdie vaardighede so goed bemeester het dat hulle as’t ware geoutomatiseerd geraak het, is hy gereed vir die volgende vlak, naamlik om al die elemente, waaruit yshokkie bestaan, te bemeester. Dan kan hy begin leer om die rubberskyf met sy yshokkiestok te beheer, om dit uit te gee en te skiet, en om sy opponent te stamp of te skouer. Nadat hy al hierdie vaardighede bemeester het en intussen ook die reëls van die spel geleer het, kan hy begin om hierdie vaardighede in die spelsituasie toe te pas.

Net soos wat daar ‘n verskeidenheid van vaardighede is wat ‘n voorvereiste vir yshokkie is, so is daar ‘n verskeidenheid vaardighede waarop lees en spel berus en wat ‘n kind moet baasraak voor hy kan leer lees en spel.

Die hoofdoel van Edublox-programme is om die vaardighede wat onderliggend is aan lees en leer te oefen en te outomatiseer. Fundamentele leesvaardighede bestaan uit kognitiewe vaardighede soos verdeelde aandag, interpretasie van posisie-in-die-ruimte, vormherkenning, ouditiewe prosessering, en visuele, ouditiewe, reeks- en werkende geheue.


My middelkind is 9 en lees en spel baie goed, maar sy Wiskunde is beroerd. Kan jy daarmee help?

Verseker. Ons Mathblox-klasse is gemik op Graad 2- tot 7-leerders en lê die grondslag vir wiskundige begrip. Ons doen dit deur jou kind (1.) ‘n in-diepte begrip van die terminologie wat in wiskunde gebruik word te leer, (2.) fundamentele wiskunde vaardighede te ontwikkel byvoorbeeld verdeelde aandag, visuele prosessering, werkende geheue en logiese denke, en (3) praktiese oefeninge te laat doen in die vorm van hoofrekene, tyd lees, woordsomme, ensovoorts.

 

My grootste bekommernis is egter my oudste kind. Hy lees swak en skraap letterlik deur. Die probleem is dat hy in ‘n koshuis is en slegs elke tweede naweek en vakansies huis toe kom.

Dan kan jy gerus kyk na ons aanlynprogram. Dit spreek al die nodige kognitiewe vaardighede aan, en bevat ook ‘n omvattende lees- en speloefening, wat ook in Afrikaans beskikbaar is. Al wat nog nodig is, is ‘n onderwyser of volwassene wat hom daarmee help. ‘n Kind kan nie die leesoefening op sy eie doen nie. Dink ook daaraan om hom vir een of twee vakansiekursusse te stuur.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar