fbpx

Geletterdheid in Suid-Afrika ‘n Krisis

Geletterdheidskrisis Skokresultate toon dat Suid-Afrikaanse leerders konstant onderpresteer en nie net onder die swakste ter wêreld gereken word nie, maar ook onder die swakste in Afrika.

Volgens Graeme Bloch, outeur van The Toxic Mix — What’s Wrong with South Africa’s Schools and How to Fix It, is 60% tot 80% van ons skole disfunksioneel: “They produce barely literate and numerate learners and (I) believe the country is headed for a national education crisis.”

Minder as 10% van alle gr. 6-leerders wat landwyd in 2008 geletterdheidstoetse afgelê het, het op ‘n internasionaal aanvaarbare vlak presteer.

Gr 3- en gr. 6-leerlinge wat in Februarie 2011 nasionale assesseringstoetse afgelê het, het onderskeidelik 35% en 28% vir geletterdheid en 28% en 30% vir gesyferdheid behaal. Sowat 6 miljoen kinders het die toetse afgelê as deel van die departement se poging om ‘n basisvlak vir vaardighede vas te stel.

Die resultate het getoon daar is verskille tussen provinsies en tussen ryker en armer skole, maar selfs die hoogste punt van 43% vir geletterdheid in die Wes-Kaap se gr. 3-groep was steeds ver onder die mikpunt.

‘n Stadige leesspoed, swak leesbegrip, spelprobleme, ‘n swak handskrif, lae verbale vermoëns en luisterprobleme kan ‘n leerder se skoolloopbaan ernstig kortwiek en sy toekoms verduister.

Basiese lees- en skryfvaardighede is ‘n voorvereiste vir verdere onderwys en opleiding, beroepsmoontlikhede, gemeenskapsbetrokkenheid en doeltreffende ouerskap. Lae geletterdheidsvlakke gaan gepaard met ‘n toename in werkloosheid, armoede en misdaad en oefen ‘n negatiewe invloed uit op die algemene welsyn van die gemeenskap.

Navorsers wys daarop dat leerders wat sukkel om te lees dikwels ‘n swak selfbeeld ontwikkel, en allerhande verskonings uitdink waarom hulle nie moet lees nie. Soos ‘n seer keel of oë wat traan. Dan begin hulle die leesperiodes mis, of lê met die kop op die arms en gee voor dat hulle siek is.

Hul skryfpogings is dikwels ver van die aanvaarbare standaard en verwoord nie wat hulle eintlik wil sê nie. Hul onderwysers is dronkgeslaan omdat hulle iets die een dag reg doen, net om dit die volgende dag weer verkeerd te doen. Sukkelende lesers voel in die meeste gevalle soos ‘n buitestaander tussen hul portuurgroep.

Volgens kenners begin die probleem in die grondslagfase waar leerders nie die nodige vaardighede van geletterdheid baasraak nie.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar