fbpx

As Jou Kind Sukkel…

kuier-01Hierdie artikel het verskyn in Kuier tydskrif op 18 Januarie 2012:

As jou kind nie presteer soos sy moet nie, beteken dit nie sy is dom nie ― sy vind dit dalk net moeilik om te lees. DEUR MARET LESCH

Kinders wat sukkel om te lees of skryf word dikwels geterg dat hulle dom is, wat hulle selfbeeld al van kleins af ‘n knou gee. Maar dis heeltemal verkeerd om aan te neem iemand is onnosel of lui wanneer hulle sukkel om te lees of skryf. Hoogs intelligente mense kan ook met leesvaardighede sukkel, veral as hulle dislekties is.

Trouens, bekendes soos Tom Cruise en Whoopi Goldberg, het ook gesukkel op skool omdat hulle dislekties is.

Nolene Josephs (39) van Centurion in Pretoria het agtergekom haar sesjarige seun, Jaide (nou 9), wou nie saans hardop lees nie. “Hy het gesukkel om te lees en sou vandag ‘n woordjie ken en môre nie. Ek het toe by die skool gaan hoor of hy daar ook sukkel en die juffrou het gesê hy het ‘n leesprobleem.”

Nolene en haar man het geweet hulle moet vir Jaide hulp kry. “My man het op die internet navorsing gedoen en ons het op Edublox afgekom. Ons het hulle gaan sien en besluit om Jaide soontoe te vat.”

Jaide het twee keer per week vir klasse gegaan en hulle het ook werk gekry wat hulle by die huis moes oefen. Net meer as twee jaar later kan hulle reeds ‘n reuseverskil sien. “Jaide het ongelooflik verbeter. Ons was baie verbaas oor die uitstekende rapport wat hy Desember huis toe gebring het. En dit is nie net leeswerk wat verbeter het nie ― hy het in al sy vakke verbeter.”

Nolene raai ouers aan om so gou moontlik vir hulle kinders hulp te kry. “Ek is so bly ons het betyds vir Jaide hulp gekry. Hy doen nou goed en ek weet ons gaan nie in die toekoms, wanneer hy ouer is, daarmee sukkel nie. Dit is ook nie so duur soos baie mense dink dit gaan wees nie en ‘n investment in jou kind se toekoms.”

Monique van Heerden (35) van die Wesrand, ‘n oud-onderwyseres en eienaar van die lees- en leerkliniek Edublox se tak aan die Wesrand (Johannesburg), sê die term disleksie beteken swak lees.

“Swak lees is presies wat onder disleksie verstaan moet word. Spel en skryf word ook daarby ingesluit, omdat dit ‘n nou band met lees het.”

Monique sê een van die kenmerkendste tekens van disleksie is die omkering van b- en d-klanke.

“Die kind spel woorde soos wat dit klink en lees hakerig met min of geen begrip. Baie keer het kinders wat met disleksie sukkel, ook ‘n lelike handskrif.”

Disleksie

Tipiese tekens van disleksie is:

• Rigtingverwarring. Die kind sukkel om tussen links en regs, op en af en bo en onder te onderskei. Sy sukkel ook met rigting en om iemand se bewegings na te boots. Dit is die rede waarom kinders letters, woorde of nommers omkeer. Kinders met disleksie keer letters soos b en d of p en q om. Hulle skryf of lees byvoorbeeld n as u; m as w; p as b en f as t. Sy skryf ook 15 i.p.v. 51.

• Volgorde. Sy sukkel om dinge in volgorde waar te neem of te doen. Sy sukkel om reg te lees en te spel, want die letters moet in ‘n sekere volgorde kom. Sy sal dus letters en lettergrepe in verkeerde volgorde plaas wanneer sy lees of skryf en ook die woorde in verkeerde volgorde lees. Sy is ook geneig om letters uit woorde te laat wanneer sy lees. Kinders met disleksie kan ook sukkel om die alfabet, dae van die week, maande van die jaar, telefoonnommers, ens. op te noem.

• Praat laat. As die kind eers laat begin praat en op vyf steeds nie behoorlik kan praat in volledige, korrekte sinne nie en onverwagte taalfoute maak, moet jy as ouer daarop bedag wees dat sy dalk later kan sukkel met leesprobleme. Maak dadelik ‘n plan om haar taalvaardighede te verbeter.

• Handskrif. Sy meng hoof- en kleinletters, haar skrif is ongelyk en dikwels onleesbaar, sy voltooi nie haar letters nie en skryf los en vas deurmekaar.

• Ander tekens. Die kind maak ‘n storie op volgens illustrasie, maar dit het niks met die werklike storie te doen nie; sy lees stadig en hakerig; sukkel om haar plek te hou terwyl sy lees; probeer die letters klank, maar kan nie die woord sê nie; sit klem op die verkeerde lettergrepe; spreek woorde verkeerd uit; voeg woorde in waar dit nie hoort nie; kan nie onthou wat sy gelees het nie; ignoreer leestekens en kan nie van die bord afskryf nie.

Probleme

Monique verduidelik die meeste leerprobleme is as gevolg van leesprobleme.

Soms word leesprobleme eers baie laat ontdek, omdat kinders dikwels slim genoeg is om dit vir hul ouers en onderwysers weg te steek.

Dit is belangrik dat jy aandag skenk aan jou kind en kyk of sy die normale mylpale vir kleuters en voorskoolse kinders behaal ― so kan jy ‘n leerprobleem baie vroeg indentifiseer en kan dit makliker reggestel word.

Ouers moet hierna oplet by die huis:

• Voorskool: Wanneer sy sukkel om woorde uit te spreek; sukkel om die regte woord te kry; sukkel met die alfabet, kleure, vorms, syfers, dae van die week, ens; sukkel om opdragte uit te voer; sukkel om kryte en skêr te gebruik en nie tussen die lyne kan inkleur nie; sukkel met haar zip, knope of veters.

• Graad 0 to 4: Sukkel met die skakel tussen letters en klanke; verwar basiese woorde wanneer sy lees; swak spelling; maak baie leesfoute; sukkel met basiese wiskundekonsepte; sukkel om die tyd te lees en volgorde te onthou; sukkel om nuwe goed te leer.

• Graad 5 to 8: Sukkel met begrip wanneer sy lees; sukkel met wiskundige vaardighede; hou nie van lees en skryf nie en vermy dit om hardop te lees; spel dieselfde woord op verskillende maniere; swak organiseringsvaardighede (slaapkamer/lessenaar is omgekrap); sukkel om gesprekke te volg en gedagtes uit te druk.

Algemene tekens wat onderwysers gebruik om ‘n leesprobleem te identifiseer, sluit in:

• Omkering. Letters soos b en d word dikwels verwar wanneer sy lees of wanneer sy skryf. Sy keer ook woorde om wanneer sy lees, byvoorbeeld “rot” vir “tor” “een” vir “nee”.

• Weglating. Dit is wanneer die kind byvoorbeeld “staf” lees of skryf terwyl die regte woord eintlik “straf” is.

• Sukkel. Die kind lees stadig, huiwerig of hakerig, woord vir woord, verloor aanhoudend haar plek en los dan ‘n hele stuk uit of lees dieselfde reël twee keer.

• Klank. Sy probeer om die letters hardop te klank, maar kan nie die regte woord sê nie. Sy sal byvoorbeeld “k-a-t” klank, maar “koud” sê.

• Verkeerde volgorde. Sy lees of skryf die letters van die woord in die verkeerde volgorde, byvoorbeeld “snik” in plaas van “sink”. Sy kan ook lettergrepe en woorde verkeerdom sê of skryf byvoorbeeld “emelent” in plaas van “element” en “daar is” in plaas van “is daar”.

• Hoe dit klink. Sy spel woorde soos dit vir haar klink, byvoorbeeld “sienkie” in plaas van “seuntjie”.

• Swak begrip. Sy verstaan nie wat sy lees nie of kan baie min onthou van wat sy gelees het.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar