fbpx

Help, My Kind Het Disleksie (Deel 5)

Boy reading 2Disleksie word dikwels as baie verwarrend en frustrerend beleef. Die kind kan hoogs intelligent wees en vakinhoude ten volle verstaan, maar vanweë die probleem nie in staat wees om toetse en eksamens te slaag, of take te voltooi nie. Gevoelens van mislukking, nutteloosheid en depressie is algemeen. Die onvermoë om te kan presteer kan ook intense angs veroorsaak, wat kan lei tot onttrekking aan leersituasies, of oorkompensasie op ander gebiede.

Gelukkig is daar hoop vir disleksie, as ons verstaan dat leer ‘n stap-vir-stap proses is. Kinders moet eers sekere vaardighede aanleer, voor dit vir hulle moontlik is om daaropvolgende, meer ingewikkelde vaardighede te bemeester.

Ons het in die vierde artikel oor disleksie gekyk na die rol wat taal, konsentrasie, visuele en ouditiewe prosessering, en visuele geheue in lees en spel speel. In die vyfde en laaste artikel ondersoek ons ouditiewe, reeks-, ikoniese, korttermyn-, langtermyn- en werkende geheue, sowel as logiese denke.

Meer oor geheue

• Ouditiewe geheue veronderstel die vermoë om inligting wat mondelings aangebied word te prosesseer, te stoor en te kan weergee.

Volgens Cyndi Ringoen, ‘n Amerikaanse kundige op die gebied van breinontwikkeling, is ‘n swak ouditiewe korttermyngeheue dikwels die oorsaak van ‘n kind se onvermoë om met die klankmetode te leer lees.

“Die klankmetode is ‘n ouditiewe sisteem, en as daar tekortkominge in ouditiewe korttermyngeheue is, sal dit die kind verhinder om met die klankmetode te leer lees,” sê Ringoen.

• Reeksgeheue verwys na die herroep van items in ‘n spesifieke volgorde. In reekse soos die dae van die week, maande van die jaar, ‘n telefoonnommer, die alfabet en in tel is die volgorde van die elemente van kardinale belang.

Aangesien elke woord uit letters in ‘n spesifieke volgorde bestaan, is reeksgeheue sonder twyfel belangrik in die leesproses. Om te kan lees, moet ‘n mens die letters in volgorde waarneem, en ook onthou watter woord deur daardie lettervolgorde verteenwoordig word. Deur bloot die volgorde van die letters in name te verander, kan dit mane of amen word.

Baie leerders met leesprobleme het ‘n swak reeksgeheue. ‘n Studie, gepubliseer in die Journal of General Psychology (2012), het 33 dislektiese kinders en 33 normale lesers van dieselfde ouderdom met mekaar vergelyk en bevind dat die dislektiese groep se visuele en ouditiewe reeksgeheue beduidend swak was.

Nog ‘n studie, gepubliseer in die Archives of Clinical Neuropsychology (1999), het 24 persone met ouditiewe disleksie en 21 met visuele disleksie vergelyk met ‘n kontrole groep van 90 deelnemers. ‘n Swak ouditiewe reeksgeheue was waarneembaar in persone met ouditiewe sowel as visuele disleksie.

• Indien ‘n skrifreël vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde voor jou geflits word, sal al die letters wat jy vir ’n kort oomblik daarna visualiseer, jou ikoniese geheue voorstel. Jou ikoniese geheue, saam met jou vermoë om te diskrimineer tussen voor- en agtergrond, bepaal jou oogspan. Oogspan is die aantal letters wat jy in ‘n oogopslag kan inneem.

‘n Persoon wat lees se oë beweeg nie aaneenlopend met die teksreël nie, maar voer eerder ‘n reeks vinnige bewegings uit. Die Franse woord ‘saccade’ wat ‘ruk’ beteken word gebruik om hierdie afwisselende fiksasies van die oë te beskryf. Hoe meer gereeld die oë moet fikseer (stop), hoe stadiger is die leesspoed. Regressies vind plaas wanneer die oë links moet beweeg om weer te kyk na woorde wat reeds gedek was.

‘n Dislektiese persoon of swak leser sal geneig wees om meer dikwels te pouseer vir fiksasies, en die duur van elke fiksasie is gewoonlik ook langer as by die normale leser. Die dislektiese persoon is ook geneig tot meer regressies as ander lesers.

Die ontwikkeling van ’n persoon se ikoniese geheue sal sy oogspan aansienlik verbreed.

• Terwyl meeste studies op die gebied van disleksie op korttermyngeheue fokus, naamlik op die vermoë om ‘n klein hoeveelheid toeganklike inligting vir ‘n kort periode in die geheue te stoor, het navorsing bewys dat persone met disleksie ook sukkel met langtermyngeheue.

‘n Studie wat in 2010 in Dyslexia gepubliseer is, is gedoen deur 60 dislektiese kinders se prestasie op verbale en visueel-ruimtelike vlak te vergelyk met 65 normale lesers van dieselfde ouderdom. Die resultate van hierdie studie het daarop gedui dat die dislektiese kinders ‘n gebrek het aan kapasiteit ten opsigte van langtermyngeheue.

• Werkende geheue dui op die vermoë om verskeie feite of gedagtes tydelik in die geheue te hou terwyl ‘n probleem opgelos word, of terwyl ‘n taak uitgevoer word. Mens gebruik byvoorbeeld hierdie werkplek in jou brein wanneer jy getalle moet optel sonder die hulp van pen en papier of ‘n sakrekenaar.

‘n Navorsingstudie, gelei deur sielkundige Merav Ahissar, het 52 musikante bestudeer waarvan 24 dislekties was; die ander 28 was nie. Beide groepe was onderwerp aan ‘n verskeidenheid ouditiewe toetse. Alhoewel beide groepe ewe goed presteer het met die ouditiewe persepsie toetse, het die musikante wat dislekties is heelwat swakker gevaar in toetse wat ouditiewe werkende geheue getoets het.

‘n Ander belangrike en konsekwente bevinding is dat probleme op die gebied van werkende geheue veroorsaak dat kinders sukkel om te begryp wat hulle lees. Lees is ‘n ingewikkelde vaardigheid wat die gelyktydige aktivering van verskeie prosesse in die brein vereis.

Logiese denke

Logiese denke is die proses van redenering wat ons gebruik om tot ‘n gevolgtrekking te kom. Probleme en situasies waarby logiese denke betrokke is vereis struktuur, verbande tussen feite en aaneenskakeling van redenasies wat ‘sin’ maak.

Logiese denke gee lesers die vermoë om afleidings te maak, wat vereis dat ons dit wat ons weet gebruik om te probeer bepaal wat ons nie weet nie, of om ‘tussen-die-lyne’ te lees. Lesers wat afleidings kan maak gebruik leidrade uit die teks asook hulle eie ervarings om hulle te help ontsyfer wat nie direk gesê word nie. Logiese denke speel dus ook ‘n vername rol in leesbegrip.

Om af te sluit

Die brein is plasties. Dit kán verander en ontwikkel. Disleksie word dus nie veroorsaak deur ‘n permanente probleem in die brein nie, maar deur die boustene — taal, konsentrasie, prosessering, geheue en logiese denke — wat lees en spel vooraf gaan — wat nog nie ontwikkel en vasgelê is nie.

Sonder toepassing beteken die aanleer van hierdie boustene natuurlik niks. Daarom moet ‘n kind óók geleer word om te lees en spel, nadat hy hierdie kognitiewe boustene bemeester het.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar