fbpx

Help! My Kind Het ‘n Leerprobleem

leerprobleem-1Hierdie artikel het verskyn in Kuier tydskrif op 3 Maart 2010:

Ongeag die afwesigheid van fisieke, sensoriese of ander ooglopende gestremdhede, presteer sommige kinders nie na verwagting nie.

DEUR MILLICENT MERTON

“My 11 jarige dogter sukkel ure lank met vyf wiskundeprobleme. Beteken dit dat sy ‘n leerprobleem het?” vra Sandy (44), een van die ma’s in ons spaarklub.

“Nie noodwendig nie,” kom die antwoord van Bobby (30), iemand wat self op laerskool gesukkel het met wiskunde. Op hoërskool het hy egter ‘n liefde vir syfers ontwikkel en dit het stukke beter gegaan. “Ek dink dit het iets te doen gehad met daai wiskunde-meneer wat ons gehad het wat eintlik meer van ‘n vermaaklikheidskunstenaar was.”

Bobby se antwoord help egter nie veel om Sandy se gemoed ligter te maak nie.

Talle ouers deel Sandy se kommer, sê Zainu Allie van die Edublox Lees- en Leerkliniek se kantoor in Claremont, Kaapstad.

Edublox is ‘n lees-en leerkliniek waar kinders klasse bywoon om hulle lees- en leervaardighede te ontwikkel en te verbeter. Die eerste aanduiding van lees-en leerprobleme manifesteer gewoonlik tussen graad 2 en -6.

Zainu sê die leerprobleme wat kinders ervaar is dikwels weens ‘n gebrek aan basiese vaardighede. “Omdat kinders nie dié basiese vaardighede het nie, sukkel hulle met al die ander skoolwerk.”

Een van die vernaamste beginsels waarop Edublox se programme, tegnieke en metodes gebaseer is, is dat die leerproses op lae gebou is.

Zainu sê dis soos om ‘n kar te ry. “Met oefening en herhaling word bestuur so ‘n natuurlike handeling dat jy nie hoef te dink oor al die stappe wat daarby betrokke is nie.”

Sy sê net so is daar ‘n verskeidenheid vaardighede wat laagsgewys een na die ander aangeleer moet word en wat as voorvereistes vir lees en leer dien.

Zainu sê die eerste stap om Sandy se dogter te help is om vas te stel hoekom sy met haar skoolwerk sukkel.

“Ons doen ‘n assessering en daarna word die resultate met die ouers bespreek en aanbevelings word gemaak. Gewoonlik word een klas per week, gekombineer met tuiswerk van ‘n paar minute per dag, aanbeveel.”

Zainu sê ‘n verbetering in selfbeeld word byna onmiddellik by die kinders opgemerk en daarna volg verbetering in skoolprestasie.

Anne-Marie de Kock, ‘n leerondersteuningsonderwyser by die Laerskool Tzaneen het die volgende inligitng vir ouers beskikbaar gestel:

Wat kan ouers doen?

Bespreek die saak met die kind se onderwyseres. Die probleem en oorsake moet so gou as moontlik geïdentifiseer word. Soms kan dit net ‘n aanpassingsprobleem wees.

Waar kry ‘n mens hulp?

‘n Sielkundige kan ‘n volledige evaluasie doen.

Op grond van probleme wat tydens die evaluering geïdentifiseer is, kan jou kind verwys word na ander terapeute.

“Elke kind floreer in ‘n aangename, liefdesvolle leeromgewing waar sy veilig voel en met selfvertroue kan waag en haar beste gee. Aanmoediging en erkenning is noodsaaklik om goeie vordering te verseker”.


TEKENS VAN ‘N LEERPROBLEEM

• Swak konsentrasie en ‘n onvermoë om take te voltooi.
• ‘n Stadiger ontwikkelingstempo as die res van die klas.
• Onderontwikkelde motoriese vaardighede en spierbeheer.
• Tekeninge wat nie op standaard is nie, onderstebo of alles swart ingekleur.
• Emosionele probleme en ‘n gevoel van onsekerheid by die huis kan leerprobleme veroorsaak.
• Swak luistervaardighede en die omkeer van letters en syfers.
• Probleme met luister, sig en koördinasie wat in skryfwerk gesien kan word.
• Moeilike aanpassing by die klaskamer struktuur.
• Onvermoë om op hul eie te funksioneer en is ook gedurig opsoek na individuele aandag.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar