Hulp vir Disleksie vanuit die Paarl

liefe mama en papa

Mei hart is daje seer die kiners by die skool lag vir mei omlat ek sikul om te lees en skryv. Ek wil nie meer skool toe gan nie help my assidlief

Stefanie

Stefanie is nie onintelligent nie. Om die waarheid te sê, volgens die evaluasies van verskeie sielkundiges is haar IK bo-gemiddeld. Maar, net soos miljoene ander kinders dwarsoor die wêreld het Stefanie ‘n leerprobleem, wat veroorsaak dat sy sukkel op skool.

Sommige kinders se leerprobleme is so ernstig dat die kind se prestasie in byna elke vak op skool geraak word. Ander leerprobleme is weer meer gerig op ‘n bepaalde vak, soos byvoorbeeld wiskunde-probleme. Van al die leerprobleme wat by kinders voorkom — en wat beslis ‘n negatiewe uitwerking op die kind se prestasie in alle skoolvakke het — skyn leesprobleme die mees algemene te wees. Daar word trouens dikwels gesê dat 70% van alle leerprobleme aan leesprobleme toegeskryf kan word. Sommige navorsers is van mening dat hierdie persentasie selfs hoër is en dat onder “leergestremd” eintlik “leesgestremd” verstaan moet word. Daarom is ‘n spesifieke term, “disleksie”, geskep om na dié soort probleem te verwys.

Daar bestaan baie onsekerheid oor die presiese betekenis van die term “disleksie”. Dit is miskien een van die redes waarom sommige mense ontken dat dit bestaan. Mens hoor dikwels ouers was sê: “My kind het ‘n leesprobleem, maar hy is nie dislekties nie.” Dit is dus nodig om te verduidelik wat met die term bedoel word.

Die term “disleksie” is saamgestel uit twee Griekse woorde wat beteken “swak lees”. Dit is al wat onder die term verstaan moet word en niks meer nie, behalwe dat spel en skryf, as gevolg van hulle noue verband met lees, ook daarby ingesluit word, sê Louna Spies van die Edublox-tak in die Paarl.

Simptome

Tweedens is dit belangrik om enkele aanduidings te gee van hoe disleksie herken kan word. In die meeste gevalle is dit heel eenvoudig om te identifiseer sonder om die toevlug te moet neem tot allerlei diagnostiese toetse. Enige ouer wat enige van die simptome, wat hieronder beskryf word, in sy of haar kind opmerk, behoort te weet dat die kind onmiddellik hulp nodig het, sê Louna:

  • Een van die mees ooglopende — en mees algemene — tekens is omkerings. Kinders met hierdie soort probleem verwar dikwels letters soos b en d, wanneer hulle lees óf wanneer hulle skryf, of hulle lees (of skryf) woorde soos “rot” vir “tor” of “een” vir “nee”.
  • ‘n Ander besliste teken is weglatings, dit wil sê wanneer ‘n kind soms “staf” lees of skryf wanneer die woord eintlik “straf” is.
  • Die kind wat baie stadig of huiwerig lees, wat hakkelrig lees, woord vir woord, of wat aanhoudend sy plek verloor, en dan hele stukke uitlaat of dieselfde reël twee keer lees.
  • Hy mag probleer om die letters hardop te klank, maar kan dan nie die regte woord sê nie. Hy mag byvoorbeeld die letters “k-a-t” klank, maar dan die woord “koud” sê.
  • Die kind mag die letters van ‘n woord in die verkeerde orde lees of skryf soos “snik” in plaas van “niks”, of die lettergrepe verkeerd om soos “emelent” in plaas van “element”, of woorde in die verkeerde volgorde soos “daar is” in plaas van “is daar”.
  • Hy mag woorde spel soos wat hulle klink, soos “sienkie” pleks van “seuntjie”.
  • Hy mag met swak begrip lees, of miskien min onthou van wat hy lees.
  • Hy het dikwels ‘n swak of baie stadige handskrif.
    .

Sommige kinders slaag daarin om vir ‘n lang tyd hul onvermoë om te lees weg te steek. Hulle vra die ouer om vir hulle ‘n bladsy voor te lees, en dan “lees” hulle dit daarna. Wat in werklikheid gebeur, is dat hulle die stukkie memoriseer terwyl die ouer dit lees, en dan herhaal hulle dit eintlik volgens geheue. Dit is eers later, wanneer die leeswerk wat hulle moet doen, te veel word om suksesvol te memoriseer, dat hulle onvermoë om te lees openbaar word.

Mites

Omdat daar verkeerdelik geglo is dat die brein nie kan verander nie, is daar histories ook geglo dat disleksie, “soos alkoholisme, ongeneeslik is.”

Om bewustheid vir disleksie te kweek het ondersteuningsgroepe die idee versprei dat vele beroemde mense, onder andere Albert Einstein, dislekties was. Die storie is soveel keer herhaal dat dit vandag as ‘n feit beskou word ten spyte daarvan dat die literatuur dit weerlê. Dr Coles, ‘n opvoedkundige sielkundige, wys daarop dat Einstein op die vroeë ouderdom van dertien reeds Kant en Darwin gelees het, en dat dit glad nie verteenwoordigend van dislektici is nie.

Nuwe tegnologie bring nuwe insig

Tegnologiese vooruitgang het dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak om te sien dat die brein plasties is. Nuwe verbindings of herbedrading tussen neurone kan vorm en die interne struktuur van die bestaande sinapse kan verander. Nuwe neurone word ook voortdurend gebore, veral in die leer- en geheuesentrums.

Soos lankal vermoed, het fMRI-skanderings bevestig dat daar verskille tussen die breine van dislektiese persone en mense wat goed kan lees, bestaan. Die resultate van daaropvolgende studies dui egter daarop dat ons dalk die oorsaak-gevolg verhouding moet omdraai, met ander woorde dat hierdie verskille moontlik nie die oorsaak van leesprobleme is nie, maar wel die gevolg.

‘n Aanlyn publikasie van die Journal of Neuroscience berig van navorsing waarin die breine van kinders met disleksie vergelyk is met twee ander groepe kinders: ‘n groep van dieselfde ouderdom sonder disleksie en ‘n groep jonger kinders op dieselfde leesvlak as die met disleksie. Die kinders met disleksie het minder grysstof as die groep met dieselfde ouderdom gehad, maar wel dieselfde grysstof as die jonger kinders op dieselfde leesvlak.

Volgens hoofnavorser Krafnick beteken dit dat die anatomiese verskille in die linkerhemisfeer van die brein, ‘n gevolg van die leeservaring van die kinders is, eerder as ‘n oorsaak van disleksie.

Nuwe insig bring nuwe hoop

Edublox se beskouing, gebaseer op die nuutste navorsing, is dat disleksie nie ‘n gestremdheid is nie, maar bloot ‘n onvermoë (dis nie ‘n ‘disability’ nie, maar ‘n ‘inability’), en dat dit oorkom kan word as mens die oorsaak daarvan aanspreek. Terwyl daar ander oorsake is, is die mees algemene oorsaak van disleksie dat die vaardighede wat lees en spel ten grondslag lê, nie na behore ontwikkel is nie.

“Leer vind trappie vir trappie plaas. Jy moet eers een ding kan doen voor jy ‘n volgende kan bemeester. Indien mens ‘n belangrike trappie in die leerproses mis, sal jy nie daartoe in staat wees om daaropvolgende stappe te bemeester nie,” verduidelik Louna.

“‘n Praktiese voorbeeld hiervan is die feit dat mens eers moet leer om te tel voor mens kan somme maak. Indien ons probeer om ‘n kind te leer optel en aftrek voor hy kan tel, sal ons vinnig agterkom ons pogings is tevergeefs.

“Net so is daar ‘n verskeidenheid vaardighede wat ‘n kind eers moet baasraak, voor hy kan leer lees, anders gaan hy leesprobleme hê. By Edublox doen leerders breinoefeninge om die grondvaardighede waarop lees en spel berus te oefen en te verbeter, en dan word daar ook aktief aan lees, spel en begrip gewerk.”

By Edublox word leesprobleme — of disleksie — hokgeslaan!

Kontak Louna Spies by (021) 872-5040 of 072-510-2986, besoek www.edubloxsa.co.za vir meer inligting oor Edublox-klasse of www.edubloxtutor.com vir inligting oor ‘Edublox Online Tutor.’ Die lees- en speloefening van ‘Edublox Online Tutor’ is ook in Afrikaans beskikbaar.

 

Share Button

0 Responses on Hulp vir Disleksie vanuit die Paarl"

Leave a Message

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Setup Menus in Admin Panel

Skip to toolbar