fbpx

Is My Kind Kreatief Genoeg?

Prentend PlayHierdie rubriek is gepos op MaroelaMedia.co.za op 21 Julie 2016:

Hello Susan

Ek is bekommerd dat my kinders nie kreatief genoeg is nie. My oudste seun is ses jaar oud. Gister het hy en ’n vriend in die agterplaas gespeel. Sy vriend het gemaak asof hy ’n dinosaurus is en al wat my seun kon sê is, “daar is g’n dinosaurusse nie.” Hy speel nooit kamma-kamma nie, om die waarheid te sê, hy speel selde. Hy kyk so ‘n bietjie TV. Sy jonger broer is ook so. Wat’s fout?

Annelle


Liewe Annelle,

Ek het begrip vir jou kommer, en dat jy wonder of daar “fout” is. Kom ons kyk eers na sommige algemene sienings oor hierdie onderwerp, voor ek aanbevelings maak oor hoe jy die ontwikkeling van jou kinders se kreatiwiteit kan benader. Kamma-kamma speel, of verbeeldingspel was nog altyd gesien as onontbeerlik vir kinders se ontwikkeling. Skynbaar hou dit die volgende voordele in:

  • Dit oefen luister, kyk en praat, wat taalvaardighede bevorder. Dit ontwikkel ook begrip van wat gekommunikeer word deur liggaamstaal, soos byvoorbeeld glimlaggies en kopknik.
  • Dit oefen sosiale vaardighede deurdat kinders leer om te onderhandel, hulle beurt af te wag, en goed met mekaar te deel.
  • Kamma-kamma of voorgee-tonele behels gewoonlik probleemoplossing en die vermoë om af te lei wat die volgende aksie in die spel gaan wees, en hierdeur ontwikkel kinders die vermoë om te redeneer.
  • Deur sekere ervarings uit te leef en verskillende rolle aan te neem wat empatie en dissipline weerspieël, bevorder kinders hulle emosionele ontwikkeling.
  • Kinders kan enigiemand wees en enigiets doen tydens voorgee-speletjies en dit bevorder verbeeling en kreatiwiteit.

En tog, ten spyte van 40 jaar se navorsing waarin daar gepoog was om vas te stel hoe voorgee-speletjies kinders help, is daar maar min bewyse dat dit ’n belangrike rol speel; voorgee-speletjies is, ten beste, net nog een van vele maniere om ontwikkeling te bevorder (Lillard, A. S. ‘The impact of pretend play on children’s development: A review of the evidence’, Psychological Bulletin, August 2012).

Selfs die bewyse dat voorgee-speletjies kreatiwiteit bevorder, wat nogal logies klink, is nie oortuigend nie. Dis verseker waar dat kreatiewe kinders voorgee-speletjies speel, maar dit is nog glad nie bewys dat kamma-kamma of voorgee-speletjies kreatiwiteit by kinders bevorder nie.

“Ons het geen bewyse gevind dat verbeeldingspel bydra tot kreatiwiteit, intelligensie of probleemoplossing nie, ” sê Angeline Lillard, professor in sielkunde aan die Universiteit van Virginia. “Maar ons het bewyse dat dit dalk ‘n bydraende faktor tot taalontwikkeling, storievertelling, en sosiale ontwikkeling en selfregulering mag wees.”

Navorsing stel dit dus aan ons dat voorgee-speletjies nie die enigste weg is wat na Rome lei nie; in sommige gevalle lei dit glad nie na Rome nie. Indien jy dus besorg is oor jou kinders se kreatiwiteit en verbeelding, is daar ander, beter maniere om hierdie vaardighede by hulle te ontwikkel.

Kreatiwiteit en kreatiewe denke

Wanneer ons al die vaardighede wat ’n kind nodig het om akademies suksesvol te wees in ag neem, dink ons aan lees, skryf, konsentrasie, wiskunde ens. En tog, een van die belangrike vaardighede wat kinders nodig het is kreatiwiteit. Dis kreatiwiteit wat hulle aanwend om stories te skryf, probleme op te los, musiek te speel, kuns en kunsvlyt te geniet en selfs om ingewikkelde wiskundige bewerkings te doen.

Kreatiwiteit is die skep van iets wat nie voorheen daar was nie soos byvoorbeeld ’n produk, ’n proses of ’n gedagte. Kreatiewe denke is die proses wat ons aanwend om met ’n nuwe idee vorendag te kom. Kreatiewe denke is die vermoë om op verskillende maniere na ’n probleem te kyk, en dit mag beteken om ’n nuwe manier of benadering uit te dink, nuwe idees daar te stel of om grondstowwe op nuwe en unieke maniere te gebruik. Grondliggend aan kreatief wees lê die bereidwilligheid om ’n risiko te loop, te ekperimenteer en selfs foute te maak.

Die siening dat ’n individu óf kreatief is óf nie, word steeds algemeen aanvaar, maar hierdie wanvoorstelling is besig om te verander. Onlangs het meer en meer bewyse die lig gesien wat daarop dui dat kreatiwiteit aangeleer en geoefen kan word.

Tina Seelig, uitvoerende direkteur van die Stanford Technology Ventures Program en skrywer van inGENIUS: A Crash Course on Creativity, bevestig dat elkeen van ons ons kreatiwiteit kan bevorder, net soos wat elkeen ons musiekale of atletiese vermoëns kan verbeter deur opleiding en gefokusde oefening.

Annelle, ek deel volgende week met jou drie oefeninge wat jy kan gebruik om jou kinders te stimuleer om oorspronklik en kreatief te leer dink.

Tot volgende week,

Susan oor Skoolwessies


Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ‘n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ‘n opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ‘n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ‘n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 510 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar