fbpx

Kos Wat Jou Kind Slim Maak

Food Pyramid Jy is wat jy eet. Die regte kos verhoog jou breinkrag en verbeter jou geheue en leervermoë.

Het jy geweet, alhoewel jou brein jou liggaam se beheersentrum is, dit maar net 2 persent van jou totale liggaamsgewig beslaan? Tog, indien jy die regte hoeveelheid kilojoules inneem om jou liggaamsgewig in stand te hou, word 20 persent van daardie energie aangewend om jou grysstof van krag te voorsien.

Die brein bestaan uit miljarde senuweeselle wat boodskappe heen en weer deur ons hele senuweestelsel stuur. Seine word oorgedra van die een senuweesel na die volgende en sekere voedingstowwe is nodig om oordragstowwe te vervaardig, om daardie sprong tussen senuweeselle moontlik te maak. Ons algemeen bekende oordragstowwe, nl. seratonien, dopamien en asetielkolien, het ‘n beduidende impak op ons gemoed, ons slaappatrone, ons verstandelike helderheid en ons denke.

Die deurlopende aktiwiteit van die brein vereis ‘n hoë vlak van energie. Ons liggame het ‘n opdrag om ons beheersentrum, ons brein, voortdurend van voldoende glukose te voorsien. Die regte voedingstowwe gee ons verstand ‘n hupstootjie en help ons liggame om senu-spanning en die eise van die alledaagse lewe beter te hanteer.

Omega -3 vetsure

Omega-3 noodsaaklike vetsure is lewensbelangrik vir die ontwikkeling van die brein. Hierdie is ‘goeie’ vette en gemoeid met die regulering van ons seratonienvlakke. Depressie, buierigheid en traagheid kan moontlik geassosieer word met ‘n lae vlak van seratonien in die brein. Omega-3 verhoog ons skerpsinnigheid en ons konsentrasievermoë.



DHA is ‘n vorm van omega-3 wat in olierige vis, soos bv. salm, haring , forel, sardientjies en tuna voorkom. Vlassaad, okkerneute, olyfolie, groen blaargroente, aarbeie en avokadopere verskaf ook hoë vlakke van omega-3 aan ons dieët.

Die B-groep vitamine

Vitamine in die B-groep help om breinkrag te verhoog en geheue te verbeter, en om die gevolge van verstandelike uitputting en depressie te verlig.

Voedselsoorte ryk aan vitamine B is bv. kool, blomkool en broccoli. Vleis, eiergele en grondboontjies voorsien ook in ons behoeftes aan vitamine B. Volgraan voedsel is ryk aan vitamine B6, en dit speel ‘n belangrike rol in die opbou van sekere senuwee-oordragstowwe. Piesangs staan ook bekend as ‘breinkos’ omdat dit ‘n hoë vlak van vitamine B6 bevat, dit ‘n bron van potas is, en energie in die vorm van glukose aan die brein verskaf. Bruin rys en hawermout is goeie bronne van vitamine B6, en sommige brode en graankosse word aangevul met vitamine B12. Oesters is nie alleen ‘n bron van vitamine B12 nie, maar dit is ook ryk aan sink en yster, wat belangrike breinkos is.

Foliensuur (vitamine B9) is noodsaaklik vir die ontwikkeling van ‘n baba se brein en senuweestelsel tydens swangerskap. Groen blaargroente en lewer is ryk aan foliensuur.

Proteïne en koolhidrate

Proteïne verhoog die gesonde werking van ons brein en dra by tot ons skerpsinnigheid en leervermoë. Eiers, amandels, okkerneute, vleis, sojabone, melk en ander suiwelprodukte is goeie bronne van proteïne vir die brein.

Anti-oksidante

Anti-oksidante beskerm ons brein en senuweestelsel teen die aanslag van sogenaamde ‘vrye radikale’. Vrye radikale is molekules wat selle beskadig en veroudering versnel. Anti-oksidante dra ook by tot verbeterde geheue en verhoogde kognitiewe vermoë.

Voedselsoorte ryk aan anti-oksidante sluit spinasie, tamaties, broccoli, aarbeie, rosyntjies, pruime, pekanneute, sonneblomsade, dadels, rooi stambone en kakaobone in.

Ongeag watter voedselsoorte jy nuttig om energie aan jou liggaam en jou brein te verskaf, ‘n gebalanseerde diet, bestaande uit ‘n verskeidenheid kosse uit die verskillende voedselgroepe, is noodsaaklik. Onthou ook daardie belangrike glas water; water is noodsaaklik vir die brein. Net soos dehidrasie van die liggaam ‘n negatiewe effek op liggaamsfunksies het, net so veroorsaak ‘n gebrek aan water verstandelike uitputting.

Share Button

1
Leave a Reply

avatar
1 Comment threads
0 Thread replies
1 Followers
 
Most reacted comment
Hottest comment thread
1 Comment authors
Heleen Kruger Recent comment authors
  Subscribe  
newest oldest most voted
Notify of
Heleen Kruger
Guest
Heleen Kruger

Baie dankie vir die goeie raad! My kleinseun is 6 jaar oud en “verstandeloik agter” soos n 3 jarige kind. Ek probeer hom terug kry in my sorg en dan het die ouma alle hulp en inligting nodig om my seuntjie te help. Waar hy nou by sy ander oupa en stief ouma is, kry hy geen liefde of aandag nie. Na ete moet hy bad en kamer toe gaan. Behalwe die regte kos, het hy BAIE liefde en aandag nodig. Ouma gaan die inligting print en toepas. N duisend dankies hiervoor!

Skip to toolbar