fbpx

Leer Afrikaans: Persoonsname (120+ Voorbeelde Ingesluit)

‘n Persoonsnaam is ‘n afgeleide selfstandige naamwoord wat ‘n persoon aandui, bv. werker, kunstenaar, Parysenaar, Paarliet, ens.

As ons ‘n persoonsnaam van ‘n werkwoord wil maak, sit ons oor die algemeen ‘n -er agteraan die werkwoord. Byvoorbeeld, iemand wat help, is ‘n helper; iemand wat koop, is ‘n koper; iemand wat besoek, is ‘n besoeker. Ons gebruik ook die -er dikwels om persoonsname van plekname af te lei. Byvoorbeeld, iemand wat van Johannesburg kom, is ‘n Johannesburger. Ander agtervoegsels wat ons in Afrikaans kan gebruik om persoonsname te vorm sluit -aan, -aar, -aard, -ant, -aris, -ent,êr-erd, -eur-ier-iet-is en -ling in.

Hier volg ‘n lys persoonsname, van a tot z:

  • aandelemakelaar = iemand wat aandele koop en verkoop
  • aasvoël = iemand wat op ander teer
  • aktuaris = iemand wat berekeninge vir ‘n versekeringsmaatskappy doen
  • altruïs = iemand wat ook aan ander mense dink, ‘n onselfsugtige persoon
  • Amsterdammer = inwoner van Amsterdam, die hoofstad van Nederland; iemand van Amsterdam afkomstig
  • analfabeet = iemand wat nie kan lees of skryf nie
  • antikwaar = iemand wat oudhede verhandel
  • Argentyn = inwoner van Argentinië, ‘n land in Suid-Amerika; iemand van Argentinië afkomstig
  • argeoloog = deskundige op die gebied van die argeologie; oudheidskundige
  • argivaris = die hoof van ‘n argief
  • astronoom = iemand wat ‘n studie van die sterre maak; ook genoem ‘n sterrekundige
  • Australiër = inwoner van Australië; iemand van Australië afkomstig
  • balju = bode van die hooggeregshof wat die vonnisse van die hof moet uitvoer
  • bankroetier = iemand wat sy geldelike verpligtinge nie meer kan nakom nie, wat bankrot is
  • beiaardier = iemand wat klokke speel (veral in ‘n toring, soos bv. van ‘n kerk)
  • bemoeial = iemand wat gedurig sy neus in ander se sake steek
  • bigamis = iemand wat twee vroue aanhou
  • bioloog = iemand met kennis van die biologie (Biologie is die leer van lewende wesens, veral ‘n studie van die oorsprong, ontwikkeling en verspreiding van plante en diere.)
  • Bloemfonteiner = inwoner van Bloemfontein; iemand van Bloemfontein afkomstig
  • botanikus = iemand wat ‘n studie van plante maak
  • Brasiliaan = inwoner van Brasilië, ‘n land in Suid-Amerika; iemand van Brasilië afkomstig
  • brompot = iemand wat gedurig kla
  • Chileen = inwoner van Chili, ‘n land in Suid-Amerika; iemand van Chili afkomstig
  • Ciprioot = inwoner van Ciprus, ‘n eiland in die Middellandse See; iemand van Ciprus afkomstig
  • debutant = iemand wat vir die eerste maal voor die publiek optree
  • dermatoloog = mediese dokter wat spesialiseer in velsiektes
  • dierkundige = iemand wat ‘n studie van diere maak; ook genoem ‘n soöloog
  • draaikous = iemand wat tydsaam is en nie dinge betyds afhandel nie
  • duikklopper = iemand wat geduikte bakwerk van motors regmaak
  • Durbaniet = inwoner van Durban; iemand van Durban afkomstig
  • egoïs = iemand wat net aan homself dink
  • ekonoom = iemand wat ekonomie bestudeer
  • ekoloog = iemand wat die ekologie bestudeer (Ekologie is die verhouding van die lewende organismes tot hulle omgewing.)
  • eksekuteur = iemand wat moet sorg dat ‘n boedel beredder word
  • ekstremis = iemand wat tot uiterstes geneig is
  • ekstrovert = iemand wat na buite lewe; teenoor introvert
  • elektrisiën = vakman wat elektriese geleidings, toestelle, ens. intalleer en herstel
  • emeritus = ‘n predikant wat afgetree het
  • entomoloog = iemand wat ‘n studie van insekte maak
  • etimoloog = iemand wat die herkoms van woorde bestudeer


  • feminis = iemand wat vir vroueregte agiteer
  • filantroop = iemand wat hom oor die minderbevoorregtes bekommer
  • Fin = inwoner van Finland, ‘n land in Noord-Europa; iemand van Finland afkomstig
  • fotograaf = iemand wat foto’s neem
  • geheelonthouer = iemand wat geen sterk drank gebruik nie
  • geoloog = iemand wat is ‘n studie van die aardkors maak
  • Ghanees = inwoner van Ghana, ‘n land aan die weskus van Afrika; iemand van Ghana afkomstig
  • goëlaar = iemand wat die towerkuns beoefen
  • grypdief = iemand wat vinnig besittings van mense steel en dan weghardloop
  • grysaard = iemand met grys hare, veral ‘n hoogsbejaarde man
  • guerrilla = iemand wat deelneem aan ‘n guerillaoorlog
  • hidroloog = deskundige op die gebied van hidrologie, ‘n wetenskap oor die beweging, verspreiding en kwaliteit van water op aarde
  • individualis = iemand wat selfstandig, op sy eie dink en handel, wat nie in die massa of groep opgaan nie
  • informant = iemand wat inligting verstrek
  • ingenieur = iemand wat opgelei is om eienskappe van materie en natuurlike kragbronne aan die mens diensbaar te maak, soos masjinerie, vervaardigde produkte, bouwerk, ens.
  • inspekteur = polisie-offisier met ‘n rang tussen sersant en kaptein
  • internis = mediese dokter wat spesialiseer in inwendige siektes
  • introvert = iemand wat tot homself ingekeer is; teenoor ekstrovert
  • Irakees = inwoner van Irak, ‘n land in Wes-Asië; iemand van Irak afkomstig
  • joggie = iemand wat gholfstokke op ‘n baan ronddra
  • Johannesburger = inwoner van Johannesburg; iemand van Johannesburg afkomstig
  • kapelaan = geestelike, predikant in militêre diens
  • Kapenaar = inwoner van Kaapstad; iemand van Kaapstad afkomstig
  • kelner = iemand wat drank op ‘n trein of in ‘n hotel bedien
  • kermkous = iemand wat oor alles kla
  • klakous = iemand wat gedurig ontevrede is en die ontevredenheid lug
  • knapsakboer = iemand wat op ‘n klein skaal boer
  • kolporteur = iemand wat rondgaan van huis tot huis om boeke te verkoop
  • kontrakteur = persoon wat ‘n kontrak gesluit het, ‘n ooreenkoms aangegaan het
  • korrespondent = beriggewer van ‘n koerant; persoon, klerk belas met die korrespondensie van ‘n saak
  • kuiper = iemand wat vate maak
  • kurator = die persoon in bevel van ‘n museum of kunsgalery
  • Kurumanner = inwoner van Kuruman, ‘n dorp in die Noord-Kaap; iemand van Kuruman afkomstig
  • kwaadstoker = persoon wat opsetlik slegte dinge van iemand vertel
  • kwaksalwer = onbevoegde persoon wat met geneesmiddele smous
  • lomperd = onhandige, onbeholpe persoon
  • Londenaar = inwoner van Londen; iemand van Londen afkomstig
  • lugwaardin = ‘n dame wat op vliegtuie passasiers behulpsaam is
  • Madrileen  = inwoner van Madrid, ‘n stad in Spanje; iemand van Madrid afkomstig
  • masseur (masseuse) = ‘n man (vrou) wat masseerwerk doen
  • masjinis = iemand wat ‘n lokomotief bestuur
  • melomaan = iemand met ‘n diep liefde vir musiek
  • mikrobioloog = kenner van baie klein organismes, soos byvoorbeeld bakterieë
  • miljoenêr = iemand wat een of meer miljoene besit; skatryk persoon
  • misantroop = iemand wat ander mense haat
  • moderator = die voorsitter van ‘n sinode OF persoon wat sorg dat ‘n eksamenvraestel volgens leerplan en nie te moeilik of te maklik is nie, en verder die nasienwerk van die eksaminator kontroleer
  • monargis = iemand wat ‘n koningskap propageer
  • mondhigiënis  = iemand wat opgelei is om jou tande skoon en skitterwit te maak


  • Namibiër = inwoner van Namibië; iemand van Namibië afkomstig
  • Napolitaan = inwoner van Napels, ‘n stad in Italië; iemand van Napels afkomstig
  • New Yorker = inwoner van New York; iemand van New York afkomstig
  • nuweling = iemand sonder ervaring; beginner
  • ontvangsdame = dame wat by ‘n saak, kantoor en dokter afsprake reël vir besoekers en pasiënte
  • opportunis = iemand wat ‘n kans gryp as hy kan, wat altyd daarop uit is om voordeel te trek uit gunstige geleenthede (al sou dit ten nadeel van ander wees)
  • ornitoloog = iemand wat ‘n studie van voëls maak
  • ouditeur = iemand wat ‘n firma of maatskappy se boeke nagaan
  • oujongnooi = ongetroude vrou ouer as die ouderdom waarop vroue gewoonlik trou
  • outokraat = iemand wat sy eie wil of tiranniek deurvoer, wat alle mag in eie hande neem; alleenheerser
  • paleontoloog = deskundige op die gebied van fossiele
  • papperd = iemand wat ‘n papbroek is
  • parfumis = iemand wat reukwater maak en verkoop
  • Parysenaar = inwoner van Parys; iemand van Parys afkomstig
  • pasifis = iemand wat ‘n voorstander van vrede is
  • passasier = iemand wat per trein, boot, vliegtuig, motor, bus reis maar nie in beheer van die vervoermiddel is nie
  • pedagoog = iemand wat ‘n studie van die opvoedkunde maak
  • Pietermaritzburger = inwoner van Pietermaritzburg; iemand van Pietermaritzburg afkomstig
  • platjie = iemand wat baie ondeund is en streke op ander uithaal
  • poligamis = iemand wat verskillende vroue of mans aanhou
  • Potchefstromer = inwoner van Potchefstroom; iemand van Potchefstroom afkomstig
  • Pretorianer = inwoner van Pretoria; iemand van Pretoria afkomstig
  • programmeerder = persoon wat eenhede vir programmering uitwerk, byvoorbeeld vir rekenaars
  • prokureur =  regsgeleerde wat gemagtig is om namens ‘n ander op te tree in saketransaksies en in die hof
  • propagandis = iemand wat propaganda maak, iemand wat georganiseerd inligting of nuus versprei met die doel om steun te werf vir of afbreuk te doen aan ‘n bepaalde persoon of saak
  • psigiater = mediese dokter wat spesialiseer in geestelike siektes
  • radioloog = geneeskundige wat ‘n kursus in radiografie en radiologie deurloop het en bevoeg is om radiogramme te neem en te vertolk, en om radioterapie voor te skryf en toe te pas
  • registrateur = die sekretaris van ‘n universiteit, wat onder die rektor die administratiewe leiding van ‘n universiteit het
  • regsadviseur = iemand wat regsadvies gee
  • rektor = die hoof van ‘n universiteit
  • renegaat = iemand wat ontrou is aan sy land of godsdiens; ‘n verraaier
  • rentenier = iemand wat van sy rente lewe
  • republikein = iemand wat ‘n republiek propageer (‘n Republiek is ‘n staat waarin die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers en hulle verteenwoordigers met aan die hoof ‘n president.)
  • resensent = iemand wat ‘n resensie lewer
  • sadis = iemand wat genot daarin vind om ander te pynig
  • sakkeroller = iemand wat geld uit jou sakke steel
  • sendeling = iemand wat in vreemde lande nie-Christene tot die Christelike geloof probeer bekeer
  • sentimentalis = iemand wat sentimenteel geneig is, wat handel volgens gevoel en nie volgens rede nie
  • sinikus = iemand wat verbitterd teen die lewe is
  • sikulasiebestuurder = iemand wat die verspreiding van koerante of tydskrifte beheer
  • skeidsregter = persoon wat by ‘n wedstryd sorg dat die spelers nie die spelreëls oortree nie
  • skriba = die sekretaris van ‘n ring of gemeente
  • skrynwerker = persoon wat professioneel houtwerk kan verrig, veral ‘n meubelmaker
  • smulpaap = iemand wat graag lekker eet
  • soöloog = iemand wat ‘n studie van diere maak
  • Stellenbosser = inwoner van Stellenbosch; iemand van Stellenbosch afkomstig
  • sterrekundige = iemand wat ‘n studie van die sterre maak; ook genoem ‘n astronoom
  • sterrewiggelaar = iemand wat die sterre bestudeer met die oog op voorspellings
  • strooimeisie = meisie wat ‘n bruid vergesel en bystaan; bruidsmeisie
  • stuwadoor = die persoon wat help om skepe te laai en te ontlaai
  • swakkeling = iemand wat swak van wil is
  • swendelaar = persoon wat bedrieg in handelsake; geld, eiendom, ensovoorts op oneerlike wyse verkry
  • taksidermis = diereopstopper; iemand wat die taksidermie beoefen
  • tandheelkundige = persoon wat tandsiektes en tandgebreke behandel
  • teoloog = iemand wat teologie (wetenskap oor godsgeleerdheid) bestudeer
  • terapeut = iemand wat sonder medisyne en net met oefeninge genesingswerk doen
  • tikster = dame wie se beroep dit is om te tik
  • tjekboekboer = iemand wat ryk is en vir ‘n liefhebberyboer
  • tjommelaar = persoon wat gedurig kla en brom; brompot
  • trompetter = persoon wat die trompet bespeel
  • tweeling = twee broers of susters, of ‘n broer en ‘n suster, wat gelyktydig gebore is
  • tuinier = persoon wat tuin maak, gereeld in ‘n tuin werk
  • vegetariër = iemand wat nie vleis eet nie
  • venter = iemand wat van huis tot huis smous met groente
  • verraaier = iemand wat ‘n geheim moes hou en dit uitlap
  • weduwee = vrou wie se man oorlede is
  • winkelier = persoon wat ‘n winkel hou
  • wysneus = iemand wat hom meerderwaardig verbeel dat hy alles weet


 

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar