fbpx

Leerstyle: Toets Jou Kind se Leerstyl Só maar Berei Hom Voor vir die Regte Lewe

leerstyleMense leer nie net teen verskillende tempo’s nie, maar ook op verskillende maniere. Daar is studente wat beter leer wanneer onderwysers alles op die bord skryf. Ander leerders verkies om te luister, terwyl ander weer daarvan hou om in groepies te sit en ‘n vraag te bespreek. Dan is daar ook leerders wat op hul beste leer as hulle sit en luister en die leerstof in die vorm van prentjies en krabbels in hulle notaboeke vaslê. Hierdie individuele voorkeure word leerstyle genoem.

Leerstyle word oor die algemeen in drie kategorieë opgedeel: visuele leerders, wat moet sien om te kan leer, ouditiewe leerders, wat moet hoor om te kan leer, en taktiele of kinestetiese leerders, wat verkies om te leer terwyl hulle doen. Daar word beweer dat 65% van alle leerders visueel, 30% ouditief en 5% kinesteties is.

Toets só of jou kind oorwegend visueel of ouditief is

Om te toets of jou kind se leerstyl oorwegend visueel of ouditief is, kan ‘n mens die volgende toets met hom doen. Hy mag nie weet wat die doel van die toets is nie, anders gaan dit sy keuses beïnvloed.

Lees die lys van tien woorde hieronder hardop voor. Sê vir hom om op ‘n stuk papier die eerste woord, verkieslik ‘n selfstandige naamwoord of werkwoord, te skryf wat in sy gedagtes opkom as jy vir hom ‘n woord sê. Hier is die tien woorde:

  1. muur
  2. koek
  3. aap
  4. been
  5. brood
  6. rivier
  7. e-pos
  8. paleis
  9. vlag
  10. meeu

V
Kyk dan na die woorde wat jou kind geskryf het. Oor die algemeen is daar twee moontlikhede: (1.) Hy mag woorde soos die onderstaande geskryf het:

  1. skildery, verf, plafon
  2. meel, suiker, versiersuiker
  3. bobbejaan, piesang, boom
  4. arm, voete, hardloop
  5. kaas, tamatie, botter
  6. water, boot, visvang
  7. internet, rekenaar, tablet
  8. koning, koningin, troon
  9. lap, mas, wapper
  10. see, eiland, visse
    V

of (2.) woorde soos hierdie:

  1. suur, vuur, man, manier
  2. boek, soek
  3. raap, slaap, maak, kwaak
  4. steen, reën, baan, boom
  5. droog, knoop, brei, bring
  6. dier, versier, revue, ritsel
  7. kos, los, Egipte
  8. vleis, muis, paneel, papier
  9. vlam, vloed, lag, krag
  10. sneeu, leeu, meer, meester
    V

Natuurlik is hierdie slegs voorbeelde, en is die verskeidenheid van woorde wat ‘n kind in reaksie op die tien woorde kan skryf, bykans onbeperk. Maar wat ook al sy reaksie is, sy antwoorde sal meerendeels woorde soortgelyk aan Groep 1 bevat, of meerendeels woorde soortgelyk aan Groep 2.

Soos jy waarskynlik al agtergekom het, bevat die voorbeelde in Groep 1 woorde wat iemand met ‘n goeie verbeelding sal sien, terwyl die woorde in Groep 2 voorbeelde bevat van woorde wat dieselfde klink as die woorde wat jy vir hom voorgelees het. As die meerderheid woorde tot Groep 1 behoort, is jou kind oorwegend ‘n visuele leerder. As die meerderheid woorde tot Groep 2 behoort, is hy oorwegend ‘n ouditiewe leerder.

Berei jou kind voor vir die regte lewe

Alhoewel dit meriete mag hê om by ‘n persoon se leerstylvoorkeur aan te pas, moet ons dit nie uit die oog verloor dat leerders vir die hier en nou, die regte lewe, voorberei moet word nie.

In die regte lewe is die leerstylteorie baie keer ‘n akademiese luuksheid, skryf James Atherton in Learning styles don’t matter. Daarom is dit belangrik om ‘n kind van kleins af te bemagtig met ‘n veelsydige benadering wat daarop neerkom dat hy in staat sal wees om multi-sensories te leer. Ons verbeter dus nie net sy sterkpunte nie, ons ontwikkel ook sy leerleemtes of, anders gestel, sy minder-betrokke sintuie.

Daar bestaan geen twyfel dat ‘n persoon se swakker sintuie ontwikkel kan word nie. ‘n Blinde persoon, ontneem van sy sigsintuig, ontwikkel gewoonlik sy ander sintuie tot ‘n baie hoë vlak. Om Braille te kan lees, byvoorbeeld, moet sy taktiele sintuig merkwaardig ontwikkel word.

Sonder die gebruik van ingewikkelde toetse, bewys dít dat elke sintuig ontwikkel en verbeter kan word.

Die leerstyle-teorie ‘n mite, sê sommige

Nie almal stem saam oor die leerstyle-toerie nie. “Daar is geen geloofwaardige bewyse dat leerstyle bestaan nie,” sê Daniel Willingham, ‘n professor in sielkunde aan die Universiteit van Virginia. “Dit is een van daardie dinge wat mense dink ‘hulle’ uitgepluis het, en dat die wetenskap dit as waar bevind het, selfs al sê die wetenskap presies die teenoorgestelde.”

Volgens Susan Greenfield, direkteur van die Royal Institution en ‘n professor in farmakologie aan die Universiteit van Oxford, is die leerstyle-benadering vanuit ‘n neuro-wetenskaplike oogpunt “loutere onsin”.

Sommige kenners glo leerstylvoorkeure is nie net ‘n wanopvatting nie, maar dat dit waarskynlik skadelik is. Scott Lilienfeld en kollegas skryf in 50 Great Myths of Popular Psychology dat die leerstyle-benadering “onderwysers aanmoedig om hulle studente se intellektuele sterkpunte te verbeter eerder as om hul swakhede aan te spreek… studente se tekortkominge moet reggestel word, dit moet nie vermy word nie.”

Om op te som

Daar steek waarskynlik waarheid in die leerstyle-teorie, maar Atherton en Lilienfeld is beslis ook reg, dat dit onwys is om net op leerders se intellektuele sterkpunte te fokus — ons moet ook hulle tekortkominge aanspreek. Die antwoord is dus om ons kinders voor te berei om multi-sensories te leer, om hulle visuele, ouditiewe en taktiele sintuie te gebruik. Wanneer ‘n leerder leer om al sy sintuie te gebruik, sal sy oor uiteindelik sy oog bystaan, en sy hand sal sy oor te hulp snel; op die manier open drie deure tot sy verstand, in plaas van net een.


Edublox bied multi-sensoriese leerprogramme aan, wat kinders se visuele, ouditiewe en kinestetiese vaardighede versterk.  
Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar