fbpx

Lees Jou Kind Vlot Maar Sonder Begrip?

‘n Algemene leesversteuring bly dikwels ongediagnoseerd totdat dit ‘n probleem word, is die gevolgtrekking van ‘n vyf jaar lange studie soos gepubliseer in die aanlyntydskrif, Brain Connectivity.

Disleksie, ‘n leesversteuring wat maak dat kinders letters verwar en moeilik hardop lees, is die onderwerp van baie navorsing. Dit is egter nie die geval met die minder bekende Spesifieke Leesbegrip Gebrek (SLBG) nie. SLBG kom daarop neer dat, alhoewel die kind vlot kan lees, hy in werklikheid nie verstaan wat die teks beteken nie.

Hoofnavorser Laurie Cutting van die ‘Vanderbilt Peabody College of Education and Human Development’ beskryf SLBG soos volg: “Ek kan Spaans lees want ek weet hoe die letters klink en hoe die woorde uitgespreek moet word, maar ek kan jou nie vertel wat dit beteken nie.”

Wanneer ‘n kind vlot kan lees word daar sommer net aangeneem dat sy begrip ook goed is, maar tussen drie en tien persent van daardie kinders verstaan meeste van die tyd nie wat hulle lees nie. “Teen die tyd dat hierdie probleem aan die lig kom, gewoonlik om en by graad drie of vier, kortwiek dit alreeds die kind se leervermoë,” sê Cutting.

Navorsers weet presies watter breinaktiwiteite bydra tot disleksie, maar geen funksionele magnetiese resonansieskanderings het, tot op hede, die neurobiologiese profiel van vlot lesers met swak leesbegrip ondersoek nie.

Neuro-skanderings van kinders toon dat die breinfunksie van SLBG-lyers aansienlik verskil van dié wat disleksie het. Kinders met disleksie toon abnormaliteite in ‘n spesifieke area van die oksipitaal-temporale korteks, ‘n deel van die brein wat geassosieer word met die suksesvolle herkenning van die geskrewe woord. Kinders met SLBG daarenteen, toon spesifieke afwykings in die areas wat tipies met geheue geassosieer word.

“Dat daar afwykings in die breinareas gemoeid met geheue sal wees, maak sin,” sê Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox Lees- en Leerklinieke. “Verskeie studies het bevestig dat leesbegrip tot ‘n groot mate afhanklik is van beide werkende – en langtermyn-geheue.”

Korttermyn-geheue hou inligting slegs vir ‘n paar sekondes in die verstand terwyl dit verwerk word. Verwerkte inligting word dan permanent in die langtermyn-geheue vasgelê. “Die werkende geheuestelsel tree as aktiewe tussenganger in die inligtingsverwerkingarea van die brein op; dit is ‘n belangrike geheuestelsel en meeste van ons gebruik dit elke dag,” verduidelik Susan.

Om te kan begryp wat ons lees, benodig ons die ondersteuning van ‘n fikse en gesonde werkende geheue. Ons gebruik ons werkende geheue om ingewikkelde sinne soos “Die hanswors wat die seun omhels, soen die meisie,” te verstaan. ‘n Geoefende werkende geheue help ons om ingewikkelde instruksies korrek uit te voer soos byvoorbeeld, “Antwoord eers elke tweede vraag op bladsy vyftien en dan al die vrae op bladsy sestien voordat jy jou antwoorde met die antwoorde agter in die boek vergelyk.” Ons gebruik ons werkende geheue wanneer sinsbou belangrik is vir begrip, soos byvoorbeeld in die volgende sin: “Dit was die seun se bal, nie die meisie s’n nie, wat vuil was.”

“Die goeie nuus is dat leemtes in kognitiewe vaardighede die hoof gebied kan word,” sê Susan. “Die sleutel tot sukses lê daarin dat die spesifieke leemtes, onder andere ‘n swak werkende geheue, geïdentifiseer word en dat hierdie breinvaardighede dan deur opleiding en oefening opgebou en versterk word.”

Indien jy vermoed dat jou kind ‘n kognitiewe tekortkoming het, stel Susan voor dat jy so gou moontlik geskikte hulp kry. “Die prestasie-gaping tussen kinders met kognitiewe tekortkominge en hul kognitief-vaardige maats word al hoe groter; met tydsverloop word dit al hoe moeiliker, en later dalk onmoontlik, om hierdie gaping te oorbrug.”

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar