fbpx

Leessentrum Verbeter Kinders se Lewens

leerder-dra-boekeLees is die belangrikste vaardigheid wat ‘n kind op skool moet verwerf, want hy leer om te lees met ‘n bepaalde doel voor oë: sodat hy kan lees om te leer. Om behoorlik te kan lees is dus die grondslag van, of voorvereiste vir leersukses op skool, en uiteindelik ook ‘n belangrike bepaler van ‘n mens se beroepsukses in die toekoms.

‘n Kind, wat nie behoorlik kan lees nie, se toekoms is duister. Die swak leser het nie net ‘n agterstand teenoor goeie lesers nie, maar in werklikheid bou hy met verloop van tyd ‘n al hoe groter agterstand teenoor goeie lesers op. Soos wat Stanovich dit in ‘n artikel in die Reading Research Quarterly uitdruk, “die armes word al hoe armer en die rykes word al hoe ryker.”

Aan die positiewe kant is leesvermoë ‘n belangrike aanduider van toekomstige sukses, volgens die Nasionale Instituut vir Kindergesondheid en Menslike Ontwikkeling “die belangrikste enkele vaardigheid wat nodig is vir ‘n gelukkige, produktiewe en suksesvolle lewe.”

Ongelukkig is hierdie oorvloedige lewe vir baie net ‘n veraf droom. Miljoene kinders sukkel om te leer lees, en baie slaag nooit daarin nie.

Vind die oorsaak

Tensy mens weet wat ‘n probleem veroorsaak, kan mens dit nie oplos nie. ‘n Siekte soos skeurbuik het die lewens van derduisende matrose op lang seereise geëis. Die siekte is vinnig hokgeslaan toe die oorsaak van die probleem, naamlik ‘n tekort aan vitamien C, ontdek is. ‘n Goeie vertrekpunt sal dus wees om die vraag te vra: Wat veroorsaak leesprobleme?

Om die oorsaak van leesprobleme te verstaan, is dit belangrik om te weet dat leer ‘n laagsgewyse gebeure is, sê Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox Lees- en Leerklinieke. Leer vind trapsgewys plaas. Jy moet eers een ding kan doen voor jy ‘n volgende kan bemeester. Daar is sekere grondvaardighede waarop lees berus en wat ‘n kind moet baasraak voordat hy kan leer lees, anders gaan hy leesprobleme hê.

Grondvaardighede moet nie verwar word met prosesse, strategieë of tegnieke nie, verduidelik Susan. “Die verskil tussen hierdie begrippe kan maklik aan die hand van rugby geïllustreer word. Om rugby te kan speel, moet ‘n persoon eers die grondvaardighede van rugby bemeester het, soos byvoorbeeld om ‘n bal te kan vang, te kan uitgee en te kan skop. Slegs daarna kan hy strategieë of tegnieke geleer word.”

Grondvaardighede van lees sluit konsentrasie, verskeie perseptuele vaardighede, sewe vorme van geheue en logiese denke in.

Visuele perseptuele vaardighede, wat ‘n voorvereiste vir lees is, sluit in die vermoë om visueel te kan diskrimineer, sintetiseer en analiseer in terme van voorgrond-agtergrond, vorm, grootte, kleur, en posisie in die ruimte. Mens moet ook ouditief kan diskrimineer, sintetiseer en analiseer.

Geheue bestaan uit visuele en ouditiewe geheue, kort- en langtermyngeheue, reeksgeheue en werkende geheue. Werkende geheue is die vermoë om tydelik sekere feite of gedagtes in die geheue te hou terwyl ‘n probleem opgelos word of ‘n taak verrig word.

By Edublox word dié grondvaardighede geoefen en geoutomatiseer.

Stephane se groot verbetering

Stephane

Ons dogtertjie Stephane was agt jaar oud en in Graad 2 toe ons agtergekom het sy het ‘n leesprobleem,” vertel Corne Schoeman-Groenewald van Polokwane. “Sy kon nie vlot lees nie, en het amper al die woordjies hardop uitgespel, letter vir letter.

“Ons het dadelik vir Lizani by Edublox gaan sien om vas te stel wat is die graad van Stephane se agterstand. Na die assessering was dit duidelik gewees dat Stephane intensiewe aandag nodig het om die agterstand in te haal. Ons het dat Stephane die intensiewe kursus bywoon. Vandaar af woon sy elke week die Edublox-klasse by.

“Ons is Edublox ewig dankbaar, daar is ‘n groot verbetering in Stephane se leesvaardighede asook haar geheue het verskerp. Ons kan die program aan enige iemand aanbeveel.”

 

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar