fbpx

‘n Verhaal van Hoop

FASLameez Armien van Goodwood, Kaapstad, is ʼn ongelooflik trotse en liefdevolle ma met ʼn verstommende verhaal van hoop om te vertel. Haar twee seuns, Jeremiah en Joshua, is ʼn identiese tweeling en is reeds sedert hulle drie weke oud is in haar pleegsorg.

Hulle skoolprestasie is gekenmerk deur ‘n vlak 1 (nie bemeester) uit 4 op hulle rapporte. Hierdie kommerwekkende resultate het egter drasties verander net ses maande nadat hulle by ʼn Edublox-lees- en leerkliniek aangesluit het. Jeremiah het ʼn 3 (bemeester) vir wiskunde behaal en ‘n 2 vir sy ander vakke.

Toe haar seuns nog baie klein was, het Armien reeds besef dat hulle ʼn agterstand het. Dokters het bevestig dat hulle met fetale alkoholsindroom (FAS) gebore is. Toe die seuns in Graad 2 was, het albei gesukkel om in die klas te konsentreer. Hulle moes toe die jaar oordoen en is met bystand tot Graad 3 bevorder. Jeremiah is met AGHS en ʼn erge vorm van disleksie gediagnoseer. Hy het ernstige lees- en spelprobleme ondervind, en het gesukkel om te skryf en te onthou wat hy geleer het.

“Jeremiah het dit destyds so gehaat om ʼn pen vas te hou,” sê Armien, wat tandepasta op die wasbak uitgedruk en haar seun aangemoedig het om sy tandeborsel vas te hou en soos met ʼn pen in die tandepasta te ‘skryf’. “Ek het soveel tandepasta daarmee gemors,” sê sy laggend wanneer sy aan al die uitdagings dink tydens haar pogings om haar seun te probeer help.

Armien is aangeraai om Jeremiah na ʼn spesiale skool te stuur en om vir hom Ritalin te begin gee. “Ek het botweg geweier om dit vir hom te gee, aangesien ek nie daardie soort medisyne as ʼn oplossing vir leerprobleme beskou nie.” Sy was desperaat om albei haar seuns in ʼn hoofstroomskool te hou en het hulp begin soek by remediërende onderwysers, opvoedkundige konsultante en sielkundiges, maar sonder welslae. Toe het sy deur ʼn Google-soektog op Edublox afgekom.

Tydens ʼn aanvanklike besoek het ʼn opvoedkundige praktisyn by Edublox, Zainu Allie, vir Armien gesê dat sy nog nie voorheen met kinders met FAS gewerk het nie, maar dat Edublox se kognitiewe ontwikkelingsprogramme deel uitgemaak het van ʼn omvattende rehabilitasieprogram, wat ʼn student met ernstige breinbeserings na ʼn motorfietsongeluk gehelp het. “Ek het vir Lameez gesê as Edublox iemand in daardie toestand kon help, dan sal dit beslis haar seuns kan help, so kom ons probeer.” Die tweeling het in Julie 2010, in die helfte van Graad 3, by Edublox aangesluit. Hulle handskrif en vermoë om te konsentreer het binne drie maande drasties verbeter.

Armien, ʼn uiters toegewyde en passievolle ma, het huis toe gekom en elke aand haar seuns se werk saam met hulle deurgegaan. “Daar was dele van hulle handboeke wat ek soos ʼn papegaai kon opsê,” vertel sy. “Daar was nie ʼn enkele dag in die kwartaal wat ons nie gestudeer het nie.”

Die Edublox-klasse, wat hulle twee-en-’n-halfjaar lank bygewoon het, het hulle gehelp om fundamentele vaardighede soos konsentrasie en geheue te bemeester, en dít het hulle die grondslag gegee vir ʼn suksesvolle akademiese loopbaan regdeur hulle tyd op laerskool. “Edublox help kinders om te lees, te leer en te presteer deur multisensoriese kognitiewe opleiding, wat daarop gemik is om fundamentele vaardighede te ontwikkel,” sê Allie. “Die vermoë om inligting te verwerk is ʼn voorvereiste vir die leerproses. Dit is hierdie vaardighede wat ons ontwikkel in kinders wat leerprobleme het.”

Die seuns is nou in Graad 8. Armien was vroeër hierdie jaar vir drie weke lank siek en kon nie toesig hou terwyl hulle vir die eksamen moes leer nie. Hoewel sy natuurlik bekommerd was omdat dit hulle eerste hoërskooleksamen was, was dit nie nodig nie want albei die seuns het aan die einde van die kwartaal met bevredigende resultate huis toe gekom. Die tweeling is nou ten volle onafhanklike leerders wat steeds in hoofstroomopvoeding is. “Ek kan nou weer TV kyk,” spot sy, en voeg by dat haar seuns se gesindheid teenoor skoolgaan nou anders is en dat hulle sonder haar toesig kan studeer. “Hulle glo dat hulle goeie punte kan kry, en dis omdat hulle die regte grondslag het, omdat hulle vroeg in hulle skoolloopbaan die kognitiewe ontwikkeling gekry het wat hulle nodig gehad het. Ons het saam nogal groot uitdagings deurgemaak, nie net by die skool nie maar ook emosioneel omdat hulle in pleegsorg is. Maar ek kan nou met soveel verligting en trots terugkyk na my seuns.” Die seuns, wat in Graad 3 ontoereikend presteer het, kry nou meer as 70% vir hulle beste vakke en is deur na Graad 9. Vir Armien is die beste deel van die verhaal die feit dat dit nooit vir haar seuns nodig was om in ʼn skool vir kinders met spesiale behoeftes te wees nie.


Edublox is toonaangewende spesialiste in kognitiewe ontwikkeling met 25 lees- en leerklinieke regdeur Suidelike Afrika. Edublox bied multisensoriese kognitiewe opleiding aan, wat daarop gemik is om die fundamentele vaardighede van lees, spel en wiskunde te ontwikkel en te outomatiseer. Vir meer inligting oor Edublox, gaan na www.edublox.co.za of kontak 0861-EDUBLOX / 0861 338 256.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar