fbpx

Nog Hulp vir Kinders wat Sukkel met Wiskunde

girl-hates-doing-maths

Hierdie rubriek is gepos op Maroela-Media.co.za op 15 Februarie 2016:

Goeiedag Susan,

Wat ʼn verligting toe ek die berig op Maroela se webtuiste lees en besef ons is nie die enigste mense wat sukkel om ʼn kind wiskunde te laat verstaan nie (“Hoe help ons ʼn kind wat sukkel met wiskunde?” 9 November 2015).

My dogter is 11 en in ʼn oulike skool, maar nie een onderwyser kon my vertel wat in julle berig is nie. Nie een is/was bereid om te verstaan dat sy ʼn “houding” het oor ʼn vak wat sy nie van hou nie omdat sy dit nie verstaan nie! En omdat sy dit nie verstaan nie, wil sy nie meer luister as die onderwyseres met haar praat nie. Sy slaan toe. Dan kry ons oproepe: ons kind is ongemanierd en ongeskik. Sy luister nie.

Wat vir ons verbasend was verlede jaar, was dat sy vir ʼn klastoets 70% gekry het (whoop-whoop, ons was sooooo bly!) en net daarna vir die eksamen 2%! Ons kan dit nie verstaan nie. Sy woon hulpklasse en ekstra klasse by, die naskool sê sy is so oulik en sy verstaan, maar skryf sy ʼn toets of doen huiswerk, dan kry sy niks, soos in niks, reg nie.

Juffrou gee ekstra toetse maar ag vrek, die kind verstaan nie. Sy weier om ʼn som te doen deur dit uitmekaar te trek en ʼn oplossing te soek. Ek vertel haar dis soos koek bak: geen koek is sonder bestandele nie, maar sy wil steeds nie. Sy raak sommer dadelik kwaai met my en wil dan nie eens luister nie.

Dis hier waar ek met my hande, nie net in my hare nie, maar tussen my tande ook sit! Ek hou van somme en wil alles uitwerk en probeer totdat ek dit regkry. Haar pa hou weer nie van somme nie, mits hy ʼn sakrekenaar by hom het! Ouma was ʼn laerskool-onderwyseres vir die hulpklas, maar ouma is nie meer met ons om die geduld en nodige aandag aan haar probleem te gee nie.

Het jy raad vir ons? Wat meer kan ons doen om haar te help?  

Ek het Maroela se berig gedruk en sommer dadelik vir haar begin vra om te tel soos in die berig. Sy kry die 1-20 reg, vorentoe en agtertoe, met 11-30 sukkel sy en veral van 40 af terug.

Help is al wat ek kan vra!

Groete en liefde

Erika


Beste Erika,

Baie dankie vir jou epos. Jy beskryf jul probleem so mooi; ek dink baie ouers kan daarmee identifiseer. En ek verstaan jou kommer.

Ten eerste is wiskunde een van die vaardighede wat ons nodig het vir ons alledaagse lewe. Ons het wiskunde byvoorbeeld nodig om tyd te lees, geld te hanteer en ʼn resep te volg.

Tweedens is wiskunde ʼn belangrike bepaler van ʼn mens se loopbaansukses. Wanneer ʼn kind sukkel met wiskunde, gaan ʼn magdom deure in die beroepswêreld vir hom of haar toe. Kenners is dit eens dat wiskunde die weg baan vir ʼn groter verskeidenheid van werksgeleenthede.

Dit is net menslik om te hou van dinge waarmee mens goed is en weg te skram van dinge waarmee jy sukkel. Ongelukkig is dit ook so dat daar dinge is waarvan ons nie kan wegskram nie — om wiskunde deur te kom is een daarvan — en dan moet ons maar die bul by die horings pak. Met die regte hulp en leiding kan ʼn kind gehelp word om sy wiskunde-probleme te oorkom en selfs ʼn liefde vir wiskunde ontwikkel.

Die regte hulp en leiding kan alleenlik gegee word as ons die leerbeginsel verstaan dat leer ʼn stap-vir-stap proses is. Een vaardigheid moet eers vasgelê word voordat ons ʼn daaropvolgende vaardigheid kan baasraak. Dis soos met ʼn leer opklim: sportjie vir sportjie, anders val jy.

Wiskunde afhanklik van kognitiewe vaardighede

Eerstens is wiskunde afhanklik van kognitiewe vaardighede soos gefokusde aandag, visuele persepsie, visuele geheue, langtermyngeheue, werkende geheue en logiese denke.

Gefokusde aandag is die vermoë om op een ding te konsentreer en alle ander dinge wat jou aandag kan aflei, te ignoreer.

Visuele persepsie behels die interpretasie van dit wat ons sien, terwyl visuele geheue die vermoë is om dit wat jy sien te stoor en later, as die oorspronklike waarneming nie langer sigbaar is nie, weer te herroep.

Die onthou van materiaal vir tydperke van ʼn paar sekondes of hoogstens ʼn minuut, word korttermyngeheue genoem, terwyl langtermyngeheue relatief permanent is.

Werkende geheue dui op die vermoë om verskeie feite of gedagtes tydelik in die geheue te hou terwyl ʼn probleem opgelos word, of ʼn taak uitgevoer word.

Logiese denke is die proses waardeur ʼn mens redenering konsekwent en deurlopend gebruik om tot ʼn besluit te kom. Jy gebruik die vergelyking van bestandele in ʼn koek, en ja, jy is reg, maar ʼn vaardigheid soos byvoorbeeld logiese denke moet eers aangeleer word voordat dit toegepas kan word.

Dis ook moontlik dat jou dogter ʼn probleem het met haar langtermyngeheue, wat verklaar waarom sy in ʼn klastoets 70% kry, maar net 2% in die eksamen. Ekstra klasse alleen sal natuurlik nie help as haar langtermyngeheue swak is nie.

Die goeie nuus is dat kognitiewe swakhede reggestel kan word. Die sleutel is om die spesifieke swakhede te identifiseer en dan te verbeter deur middel van onderrig en oefening. As jy nie weet waarheen om jou dogter te neem om sulke moontlike leemtes te identifiseer nie kan jy weer vir ʼn epos stuur en ek sal jou verwys.

Wiskundige vaardighede en kennis

Tweedens is wiskunde afhanklik van wiskundige vaardighede en kennis. Wiskunde vaardighede behels dinge wat ʼn leerder moet leer om te doen, soos tel, optel, aftrek, vermenigvuldig en deel. Wiskundige kennis behels dinge wat ʼn leerder met weet, soos terme, definisies, simbole, stellings en grondbegrippe.

Jy meld dat jou dogter sukkel om van 40 af terug te tel. Om gemaklik vorentoe en terug te kan tel, is fundamenteel vir wiskunde. Vorentoe tel is ʼn voorvereiste vir optel en terugtel ʼn voorvereiste vir aftrek.

ʼn Leerbeginsel wat ons ook in gedagte moet hou, is die feit dat leer afhanklik is van herhaling. Baie herhaling is gewoonlik nodig om vaardighede soos vorentoe tel en terugtel behoorlik te bemeester en dan moet mens ook in gedagte hou dat die hoeveelheid herhaling wat nodig is vir een mens, dalk heeltemal te min mag wees vir ʼn ander persoon. Jou dogter kan leer tel, maar mag dalk meer herhaling nodig hê om tel onder die knie te kry as ander kinders.

As sy op hierdie ouderdom steeds sukkel met iets soos terugtel vanaf 40 kan mens aanneem dat daar baie ander leemtes is, maar ek wil jou aanmoedig om te begin deur haar te leer om behoorlik vorentoe en terug te tel aangesien wiskunde daarsonder baie moeilik, eintlik onmoontlik, is.

Alles van die beste.

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 470 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar