fbpx

Ses Maniere om Jou Verstandsvermoë te Verbeter

Vrouens wat oefenHier is ses beproefde maniere waarop jy jou verstandsvermoë kan verhoog:

Word aktief

‘n Navorsingstudie, gelei deur Arthur F. Kramer van die Universiteit van Illinois te Urbana-Champaign, het ‘n groep mans en vroue van goeie geletterdheidsvlak tussen die ouderdomme 55 tot 79 betrek. Hulle fiksheid het gewissel vanaf sittende tot uiters fikse, kompeterende atlete.

Hoewel daar by ouer mense ‘n duidelik merkbare afname in breindigtheid in beide die wit en grys areas op te merk is, het die navorsers bevind dat fiksheid hierdie agteruitgang beduidend verlangsaam.

Oefenprogramme wat beide aërobiese oefeninge en kragoefeninge bevat, lewer beter resultate ten opsigte van kognitiewe vermoëns as programme wat net op een van die twee fokus.

Leer ‘n nuwe taal

Navorsers by die Londense Universiteitskollege het die breine van 105 mense bestudeer, van wie 80 tweetalig was, en het bevind dat om ‘n nuwe taal te leer grysstof op dieselfde wyse verander as wat oefening spiere bou.

Origens het die span bevind dat by diegene wat ‘n tweede taal op jonger ouderdom aangeleer het, daar waarskynlik meer gevorderde grysstof sal wees as by diegene wat ‘n tweede taal op meer gevorderde ouderdom aangeleer het.

Bespeel ‘n musiekinstrument

Wetenskaplikes het onthul dat om ‘n musiekinstrument te bespeel gaan reguit na die musikus se kop toe.

‘n Studie deur navorsers by die Universiteit van Liverpool het aangedui dat oefening en uitvoering voorkom dat ‘n essensiële gedeelte van die brein met ouderdom wegkrimp.

Daar is bevind dat musici van die Koninklike Filharmoniese Orkes van Liverpool gemiddeld 15 persent meer grysstof in die bepaalde gedeelte van die brein het as nie-musici. Die gedeelte van die brein wat betrekking het, genoem Broca se area, is verantwoordelik vir geheue, taalverwerking en organisasie.

Leer om te jongleer

‘n Neuroloog aan die Universiteit van Regensburg, Arne May, en kollegas het ‘n groep persone in hulle vroeë twintigerjare, meestal vroue, gevra om ‘n klassieke jongleurkunsie met drie balle vir ‘n tydperk van drie maande te oefen totdat hulle dit vir minstens ‘n minuut kon volhou. Twaalf ander was in ‘n kontrolegroep wat nie gejongleer het nie. Al die vrywilligers het ‘n breinskandering (MRI) by aanvang van die program ondergaan, en weer een na drie maande.

Die skanderings het aangedui dat om te jongleer die volume van die grysstof in die midtemporale area en die linker agterste pariëtale sulkus met ongeveer drie persent vermeerder het. Dit is dele van die brein wat visuele bewegingsdata prosesseer. Studente, wat nie geleer het om te jongleer nie, se breine het geen verandering getoon nie.

Bestuur ‘n huurmotor

‘n Studie in Londen het bevind dat die area in die brein wat met navigasie verbind word, in die befaamde Londense huurmotorbestuurders groter is as by ander mense.

Londense huurmotorbestuurders is beroemd vir hulle ensiklopediese kennis van die hoofstad se strate. Gemiddeld wy hulle twee jaar daaraan om die uitleg van die strate te leer ken voordat hulle aanmeld vir ‘n lisensietoets.

Volgens die studie het die bestuurders se breine aangepas om die stad se strate in die fynste besonderhede te onthou. In die proses het een area van die brein gekrimp om plek te maak vir groei in ‘n ander gebied.

Volg ‘n oefenprogram vir jou brein

Net soos wat gereelde liggaamsoefening jou liggaam lenig en gesond kan hou, kan gereelde verstandsoefening help om jou brein en senustelsel in goeie werkende toestand te hou.

Michael Valenzuela, neuro-wetenskaplike aan die Universiteit van N.S.W. en kollega Perminder Sachdev het die eerste sistematiese oorsig gedoen van navorsing oor breinbehoud. Nadat hulle 22 studies integreer het vir moontlike verbande tussen mense se gedrag en hulle breingesondheid, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat mense met ‘n hoë mate van breinbehoud se gevaar om demensie te ontwikkel, byna die helfte is van diegene met lae breinbehoud. In een opsig verskil die brein skynbaar min van die spiere van die liggaam, sê Valenzuela: “Dit is ‘n kwessie van gebruik dit of verloor dit.”

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar