fbpx

Sewe Tipes Geheue Is Onontbeerlik in die Leesproses


Om te kan leer, moet ‘n persoon iets wat hy waargeneem het kan stoor om dit sodoende later weer te kan herroep. Die mens se vermoë om te kan onthou, of uit die geheue te herroep, maak leer dus moontlik. Alhoewel die woord ‘geheue’ ’n “alles-of-niks”-proses veronderstel, is dit duidelik dat daar verskillende tipes geheue is, elk tot ’n mate onafhanklik van die ander. Sewe tipes geheue speel ‘n onontbeerlike rol in die leesproses. 

Ouditiewe geheue

Ouditiewe geheue veronderstel die vermoë om inligting wat mondelings aangebied word te prosesseer, te stoor en te kan weergee.

Volgens Cyndi Ringoen, ‘n Amerikaanse kundige op die gebied van breinontwikkeling, is ‘n swak ouditiewe korttermyngeheue dikwels die oorsaak van ‘n kind se onvermoë om met die klankmetode te leer lees.

“Die klankmetode is ‘n ouditiewe sisteem, en as daar tekortkominge in ouditiewe korttermyngeheue is, sal dit die kind verhinder om met die klankmetode te leer lees,” sê Ringoen.

Volgens Ringoen moet ‘n kind ‘n ouditiewe geheuespan van byna ses hê om met die klankmetode geleer te word.

‘n Mens se syferspan word algemeen beskou as ‘n goeie maatstaf van jou korttermyn-geheue. Dit is die aantal syfers wat ‘n persoon in volgorde kan verwerk en herroep nadat hy dit een maal gehoor of gesien het.

Om die ouditiewe syferspan van ‘n kind te toets, sê ‘n reeks syfers in ‘n monotone stem, met intervalle van een sekonde. Sê, byvoorbeeld, 6-1-5-8 en laat die kind dit herhaal. As hy kan, sê dan 9-2-4-7-5.

Die kind moet in staat wees om ‘n reeks van vier syfers 75 persent van die tyd korrek te kan herroep met die eerste probeerslag om ‘n ouditiewe geheuespan van vier te hê. Dieselfde geld vir ‘n reeks van vyf, ses, sewe en agt syfers.

Terwyl ouditiewe geheue belangrik is in aanvangslees, wanneer ons probeer om die klanke in kinders se koppe te kry, is visuele geheue belangrik om beginnerlesers te verander in goeie lesers.

Visuele geheue

Visuele geheue is die vermoë om visuele waarnemings te stoor en later, as die oorspronklike waarneming nie langer sigbaar is nie, weer te herroep. Dit beteken dat die persoon in staat moet wees om ‘n duidelike beeld van die stimulus, byvoorbeeld ‘n woord, in sy geestesoog te vorm, sodat wanneer die stimulus nie meer voorhande is nie, hy nogtans in staat is om dit duidelik en sonder enige hulp weer op te roep.

’n Goeie visuele geheue is onontbeerlik vir die opbou van ’n visuele “woordeboek” in die brein.

Goeie lesers kan woorde teen die spoed van lig erken wanneer hulle lees, omdat hulle die woorde in soort van ‘n visuele woordeboek geplaas het, sê Georgetown University Medical Center (GUMC) neurowetenskaplikes. Die visuele woordeboek-idee weerlê die teorie dat ons brein woorde klank elke keer wanneer ons dit sien.

GUMC-navorsers het die woordherkenning in 12 vrywilligers met behulp van fMRI-skanderings getoets. Die navorsers het bevind dat woorde wat verskillend is, maar dieselfde klink (soos “ly” en “lei”) verskillende neurone aktiveer. “As die klanke van die woord ‘n invloed gehad het sou dieselfde of soortgelyke neurone geaktiveer gewees het, maar dit was nie die geval nie. ‘Ly’ en ‘lei’ kon net sowel ‘ly’ en ‘sop’ gewees het. “Dit dui daarop dat, wanneer ons ‘n woord eers ken, die visuele inligting al is wat ons gebruik en nie die klanke nie,” het hoofnavorser Laurie Glezer verduidelik.

‘n Kind met ‘n swak visuele geheue sal dus baie sukkel om sigwoorde te leer.

Reeksgeheue

Reeksgeheue verwys na die herroep van items in ‘n spesifieke volgorde. In reekse soos die dae van die week, maande van die jaar, ‘n telefoonnommer, die alfabet en in tel is die volgorde van die elemente van kardinale belang.

Aangesien elke woord uit letters in ‘n spesifieke volgorde bestaan, is reeksgeheue sonder twyfel belangrik in die leesproses. Om te kan lees, moet ‘n mens die letters in volgorde waarneem, en ook onthou watter woord deur daardie lettervolgorde verteenwoordig word. Deur bloot die volgorde van die letters in name te verander, kan dit mane of amen word.

Baie leerders met leesprobleme het ‘n swak reeksgeheue. ‘n Studie, gepubliseer in die Journal of General Psychology (2012), het 33 dislektiese kinders en 33 normale lesers van dieselfde ouderdom met mekaar vergelyk en bevind dat die dislektiese groep se visuele en ouditiewe reeksgeheue beduidend swak was.

Nog ‘n studie, gepubliseer in die Archives of Clinical Neuropsychology (1999), het 24 persone met ouditiewe disleksie en 21 met visuele disleksie vergelyk met ‘n kontrole groep van 90 deelnemers. ‘n Swak ouditiewe reeksgeheue was waarneembaar in persone met ouditiewe sowel as visuele disleksie.

Ikoniese geheue

Indien ‘n skrifreël vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde voor jou geflits word, sal al die letters wat jy vir ’n kort oomblik daarna visualiseer, jou ikoniese geheue voorstel. Jou ikoniese geheue, saam met jou vermoë om te diskrimineer tussen voor- en agtergrond, bepaal jou oogspan. Oogspan is die aantal letters wat jy in ‘n oogopslag kan inneem.

‘n Persoon wat lees se oë beweeg nie aaneenlopend met die teksreël nie, maar voer eerder ‘n reeks vinnige bewegings uit. Die Franse woord ‘saccade’ wat ‘ruk’ beteken word gebruik om hierdie afwisselende fiksasies van die oë te beskryf. Hoe meer gereeld die oë moet fikseer (stop), hoe stadiger is die leesspoed. Regressies vind plaas wanneer die oë links moet beweeg om weer te kyk na woorde wat reeds gedek was.

‘n Swak leser sal geneig wees om meer dikwels te pouseer vir fiksasies, en die duur van elke fiksasie is gewoonlik ook langer as by die normale leser. Die swak leser is ook geneig tot meer regressies as ander lesers.

Korttermyngeheue

Die retensie van materiaal vir tydperke van ‘n paar sekondes of hoogstens ‘n minuut, word korttermyngeheue genoem.

‘n Praktiese voorbeeld van korttermyngeheue is wanneer ‘n mens die telefoon gebruik (wanneer jy jou selfoon by die huis vergeet het). Wanneer jy die telefoonnommer naslaan, berg jy dit in jou korttermyngeheue. Terwyl jy nou die nommer skakel, kan jy dit onthou, maar vir langer tye slegs solank jy daarop konsentreer en niks anders jou aandag vereis nie. Die rede is dat die inhoud van korttermyngeheue gedurig herhaal moet word, so nie gaan dit verlore. Indien iemand met jou sou praat terwyl jy besig is om die telefoonnommer op hierdie wyse te bewaar, moet jy die spreker ignoreer. As jy dit nie doen nie, sal jy die nommer vergeet. Sodra jy die nommer geskakel het, vergeet jy dit gewoonlik onmiddellik daarna.

Terwyl meeste studies op die gebied van leesprobleme en disleksie op korttermyngeheue fokus, naamlik op die vermoë om ‘n klein hoeveelheid toeganklike inligting vir ‘n kort periode in die geheue te stoor, het navorsing bewys dat persone met leesprobleme ook sukkel met langtermyngeheue.

Langtermyngeheue

‘n Studie wat in 2010 in Dyslexia gepubliseer is, is gedoen deur 60 dislektiese kinders se prestasie op verbale en visueel-ruimtelike vlak te vergelyk met 65 normale lesers van dieselfde ouderdom. Die resultate van hierdie studie het daarop gedui dat die dislektiese kinders ‘n gebrek het aan kapasiteit ten opsigte van langtermyngeheue.

Werkende geheue

Die term werkende geheue is in die 1970’s deur twee navorsers, Baddeley en Hitch saamgestel, en verwys na die vermoë om tydelik sekere feite of gedagtes in die geheue te hou terwyl ‘n probleem opgelos word of ‘n taak verrig word.

Korttermyngeheue hou inligting slegs vir ‘n paar sekondes in die verstand terwyl dit verwerk word. Verwerkte inligting word dan permanent in die langtermyngeheue vasgelê. Die werkende geheuestelsel tree as aktiewe tussenganger in die inligtingsverwerkingarea van die brein op; dit is ‘n belangrike geheuestelsel en meeste van ons gebruik dit elke dag.

Navorsing bewys dat persone met leesprobleme ook sukkel met werkende geheue‘n Studie, gelei deur sielkundige Merav Ahissar, het 52 musikante bestudeer waarvan 24 dislekties was; die ander 28 was nie. Beide groepe was onderwerp aan ‘n verskeidenheid ouditiewe toetse. Alhoewel beide groepe ewe goed presteer het met die ouditiewe persepsie toetse, het die musikante wat dislekties is heelwat swakker gevaar in toetse wat ouditiewe werkende geheue getoets het.

‘n Belangrike en deurlopende bevinding is dat ‘n swak werkende geheue leesbegrip benadeel. Lees is ‘n komplekse vaardigheid wat die gelyktydige aktivering van baie verskillende breinprosesse vereis. Wanneer ‘n woord gelees word, moet die leser die vorms van die letters asook die lettervolgorde herken.

Om sinne te verstaan, is nog baie meer vaardighede nodig. Die leser moet nie net die woorde dekodeer nie, maar ook die sintaksis verstaan, die volgorde van die woorde onthou, kontekstuele aanwysings gebruik en dit integreer met bestaande kennis. Al hierdie moet gelyktydig gebeur om sinne te kan verstaan.

Terselfdertyd moet sinne in die werkende geheue gehou word en met mekaar geïntegreer word. Elke sin word gelees, verstaan, geassosieer en geïntegreer met die vorige een, en so meer. Uiteindelik het die leser die hele paragraaf gelees, en gaan hy dan voort na die volgende een.

Teen die einde van die hoofstuk moet beide die details en die hoofgedagte in die werkende geheue gestoor word, anders kan die leser dalk geïsoleerde feite onthou, maar nie die volgorde van gebeure onthou of die hoofgedagte verstaan nie.

Sukkel jou kind met onthou en lees? Só kan Edublox help:.

.
“Maré-Louise het altyd uitstekend in haar toetse en eksamens gevaar, maar ek moes ure en ure saam met haar sit en haar help. Dit het regtig baie lank geneem om deur haar werk te gaan en te leer.

“Ek het ‘n afspraak by Edublox Paarl (Louna Spies) gemaak. Op 2 November 2013 was Maré-Louise vir ‘n assesering. Na assessering was dit duidelik gewees dat sy intensiewe aandag nodig het. Sy het ‘n 2 vir die ESSI leestoets gekry (waarvan 1 baie swak en 9 baie goed is). Sy het Desember 2013 die intensiewe kursus bygewoon en vanaf Januarie 2014 tot Oktober 2014 het sy een keer ‘n week Edublox-klasse bygewoon. Sy het ook Compublox tuis gedoen.

“Maré-Louise se lees het baie verbeter (Afrikaans en Engels) en haar geheue het verskerp. Sy het NOOIT van lees gehou nie; groot was my verbasing toe ek een oggend in haar kamer in stap en sy lê en lees ‘n boek!! Toe ons met vakansie gegaan het, het sy vir haar boeke saamgeneem om te LEES!

“Sy moes van Graad 3 af ‘n ‘reading aid’ bril dra om haar te help wanneer sy lees en van die bord afskryf. Na 120 uur se klasse is dit nie meer nodig om haar bril te dra nie. Haar lees het op die ESSI verbeter van 2/9 (swak) na 7/9 (goed). Haar geheue van 70% na 92%.

“Sy is meer gedissiplineerd as dit kom by leer- en huiswerk, ek hoef nie meer met haar te baklei om haar huiswerk te doen nie. Sy leer ook nou op haar eie.

“Edublox het Maré-Louise weer lus gemaak vir skool gaan en lees!”

Dankie Edublox
Lizelle Joubert
Februarie 2015

Klik hier vir 590+ suksesverhale


Meer inligting:

Edublox lees- en leerklinieke spesialiseer in breinopleiding wat kinders slimmer maak, en hulle help om vinniger, makliker en beter te leer en te lees. Die klasse spreek die volgende aan:

* Konsentrasie: Gefokusde, volgehoue en verdeelde aandag.

* Perseptuele vaardighede: Visuele en ouditiewe voorgrond-agtergrond onderskeidingsvermoë; visuele en ouditiewe diskriminasie, sintese en analise; vorm-onderskeiding; ruimtelike verhoudings.

* Geheue: Visueel en ouditief, kort- en langtermyn, reeks-, ikoniese en werkende geheue.

* Logiese denke: Deduktiewe en induktiewe redenering.

* Lees, spel, woordeskat en begrip.

Klasse word in Afrikaans en Engels aangebied. Kontak ons

Share Button

1
Leave a Reply

avatar
1 Comment threads
0 Thread replies
0 Followers
 
Most reacted comment
Hottest comment thread
1 Comment authors
Daleen Mare Recent comment authors
  Subscribe  
newest oldest most voted
Notify of
Daleen Mare
Guest
Daleen Mare

Kan iemand my asb kontak ek stel belang my seun is 13 jaar oud en in Graad 7 0837034442. Ons bly in Lydenburg Mpumalanga. Baie dankie.

Skip to toolbar