fbpx

Skool Hoef Nie ‘n Nagmerrie Te Wees Nie

Kind wat huiswerk doenDom, stupid.

Dis verseker die mees afskuwelike woorde denkbaar en behoort as vloekwoorde verklaar te word. Tog is dit hoe kinders hulself ervaar as skool ‘n nagmerrie word. ‘n Leesles neem ure om deur te werk, verwarring tussen letters soos b en d is ‘n nare werklikheid, woorde word verkeerdom gelees en uitgespreek, en alles moet geklank word.

Terwyl Sus smiddae na skool op haar bed lê en smul aan ‘n lekker dik storieboek, sal kleinboet verkieslik prenteverhale deurblaai — ás jy hom sover kan kry om ‘n boek oop te maak. Die woorde is min en die prente vertel alreeds helfte van die storie. Dis maar ‘n enkele manier om lees te vermy.

Klink dit bekend? Sug jy al uit pure moedeloosheid?

En ja, julle sit tot laatnag en spelling oefen. Môre gedurende die toets word alles weereens verkeerd gespel. Jy as ouer is raadop en die onderwyser sê sy werk raak agter want hy skryf te s-t-a-d-i-g.

Kinders het oor al die jare natuurlik nie verander nie. Hulle koggel sommer vinnig as een van die maats bietjie ondergemiddeld presteer. Dit is nou as die kind wat sukkel met lees en spel nie sommer sélf ‘n etiket soos ‘n rots om sy eie nek gebind het nie. Sy selfbeeld is diep in die modder en dit kan vir jare bly vassteek. Dikwels so vas geanker dat hy tot diep in sy volwasse lewe nog sal glo aan sy eie onvermoë!

Maar hierdie gesukkel spel nie die somtotaal van jou kind se intelligensie nie. Jy mag dalk vind dat daar ‘n briljante kind onder die swak punte versteek is. Iemand wat eendag met trots ‘n graad gaan behaal in sy gekose studierigting. Die moontlikheid van ‘n professionele loopbaan word glad nie uitgesluit nie. Dink net aan Richard Branson. Branson het aan disleksie gely wat meegebring het dat hy akademies swak presteer het, maar dit het nie die briljante sakeman gepootjie nie. Hy het op ander maniere gekompenseer vir sy leesprobleem en word sy welvaart vandag beraam op 4.6 miljard Amerikaanse dollars.

Gelukkig is daar vandag soveel hulp beskikbaar dat dit ondenkbaar is dat ‘n kind aanhou worstel. Selfs disleksie is nie meer die doodsvonnis van jare gelede nie. Dis nie ‘n leergestremdheid nie, maar bloot ‘n onvermoë wat met die regte hulp in ‘n sterk punt omskakel kan word.

Nuwe navorsing, onlangs gepubliseer in die Journal of Neuroscience, toon dat die breinverskille tussen disleksielyers en gewone lesers die gevolg en nie die oorsaak van hulle leesprobleme is nie. Navorsing toon ook dat dat die brein voortdurend nuwe bane of neurone vorm, wat beteken dat kinders met disleksie gehelp kan word om dit te oorbrug.

Dit is sekerlik elke ouer se droom om die beste vir sy kind te wil bied, en wanneer jy sien hoe hy/sy worstel met lees en spelling, is dit tyd om hulp in te roep. Die geleentheid is daar — gee hom ‘n regverdige kans.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar