fbpx

Só Help Jy Jou Kind Met Disleksie

Girl sleeping on her writing book“My dogtertjie in Graad 2 ruil haar b, d en p om wanneer sy lees en skryf,” vertel Madelein van Biljon. “Sy skryf ook soms letters na die verkeerde kant toe, soos j en t, en ruil ook syfers soos 2 en 7 om. Dit gebeur party dae meer as ander dae.

“Ek het dit nog nie self opgetel nie, maar haar juffrou sê sy skryf party woorde van agter na voor. Omdat my broer disleksie het, en ek weet waardeur hy is, is ek baie bekommerd. My ma het altyd gesê dat sy brein verkeerd bedraad is. Ons het dus in die middel van die jaar ons dogtertjie laat toets maar volgens die sielkundige kon disleksie nie vasgestel word nie want sy is nog te jonk.”

Dis verstaanbaar dat Madelein baie bekommerd is oor haar dogtertjie, veral omdat sy haar broer se swaarkry moes aanskou. Tussen toe en nou is daar egter baie navorsing oor disleksie gedoen, veral oor wat disleksie is, wat dit veroorsaak en wat daaraan gedoen kan word.

Die historiese siening dat disleksie ongeneeslik is, bestaan byvoorbeeld bloot omdat daar verkeerdelik geglo is dat die brein onveranderlik is. Destyds is geglo as daar iets verkeerd is met ‘n persoon se brein, daar niks gedoen kan word om dit reg te maak nie. Die brein is verkeerd bedraad en dis die einde van die saak. Wetenskaplikes het ook geglo dat elkeen van ons gebore word met ‘n vasgestelde aantal breinselle, en as enige van daardie selle seerkry, kan die skade nie herstel word nie.

Vandag weet ons van beter.

Navorsing bring hoop

Teen die draai van hierdie eeu het nuwe metodes dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak om in die brein te sien en het dit geblyk dat die brein plasties is: Nuwe verbindings of herbedrading tussen neurone kan vorm en die interne struktuur van die bestaande sinapse kan verander. Nuwe neurone word ook voortdurend gebore, veral in die leer- en geheue-sentrums. As jy ‘n kundige op ‘n sekere gebied raak, dan groei die deel in jou brein wat daarmee te make het. Of, as ‘n persoon breinskade aan die linkerkant van die brein opdoen, wat gewoonlik die taalsentrum van die brein is, kan die regterkant van die brein met oefening daardie funksies oorneem.

Met fMRI-skanderings is nou bevestig dat daar wel, soos altyd geglo is, verskille is tussen die breine van dislektiese persone en mense wat goed kan lees. Maar navorsing deur byvoorbeeld Krafnick en span het bevind dat die anatomiese verskille in die brein ‘n gevolg van die leeservaring is, eerder as ‘n oorsaak van disleksie.

Mens moet ook in gedagte hou dat ‘n neurologiese verskil nie ‘n neurologiese gestremdheid impliseer nie! Ons weet nou ook daar is verskille tussen die breine van mense wat jongleer (“juggle”) en mense wat nie jongleer nie, en tussen die breine van mense wat ‘n musiekinstument bespeel en mense wat nie ‘n musiekinstument bespeel nie. Dan is dit mos logies dat daar ook verskille tussen die breine van persone sal wees wat goed kan lees en persone wat sukkel met lees!

Nie ‘n gestremdheid

Edublox se benadering, gebaseer op die die nuutste navorsing, is dat disleksie nie ‘n gestremdheid is nie, maar bloot ‘n onvermoë (dis nie ‘n disability nie, maar ‘n inability), en dat dit oorkom kan word as mens die oorsaak daarvan aanspreek. Terwyl daar ander oorsake is, is die mees algemene oorsaak van disleksie dat die vaardighede wat lees en spel ten grondslag lê, nie na behore ontwikkel is nie.

Leer vind trappie vir trappie plaas. Jy moet eers een ding kan doen voor jy ‘n volgende kan bemeester.

Hierdie beginsel, dat leer ‘n laagsgewyse gebeure is, kan aan die hand van enige sportsoort, soos byvoorbeeld yshokkie, verduidelik word. Voordat ‘n persoon yshokkie kan speel, moet hy eers leer om baie goed te skaats. Nadat hy geleer het om vorentoe te skaats, moet hy ook leer om agteruit te skaats en om binne ‘n oogwink te kan stop of van rigting te verander. Wanneer hy hierdie vaardighede so goed bemeester het dat hulle as’t ware geoutomatiseerd geraak het, is hy gereed vir die volgende vlak, naamlik om al die elemente, waaruit yshokkie bestaan, te bemeester. Dan kan hy begin leer om die rubberskyf met sy yshokkiestok te beheer, om dit uit te gee en te skiet, en om sy opponent te skouer. Nadat hy al hierdie vaardighede bemeester het en intussen ook die reëls van die spel geleer het, kan hy begin om hierdie vaardighede in die spelsituasie toe te pas.

Net soos wat daar ‘n verskeidenheid van vaardighede is wat ‘n voorvereiste vir yshokkie is, so is daar ‘n verskeidenheid vaardighede waarop lees en spel berus en wat ‘n kind moet baasraak voor hy behoorlik kan leer lees en spel.

Vier boustene

Naas taal, wat die heel onderste bousteen van lees is (mens kan tog net ‘n taal lees wat jy ken), is daar vier boustene of pilare: konsentrasie, persepsie, geheue en logiese denke. Al hierdie vaardighede kan deur oefening ontwikkel en verbeter word.

Terwyl daar waarskynlik ook ander tekortkominge is, is die vermoë om rigtings te interpreteer beslis een van die probleme wat wat Madelein se dogtertjie ervaar. Rigtingsin is ‘n perseptuele vaardigheid en behels die vermoë om te onderskei tussen links en regs, voor en agter, en bo en onder.

Vir kinders wat probleme ondervind met rigtingsin, sal dit moeilik wees om die posisie van objekte ten opsigte van hulleself te bepaal, byvoorbeeld “regs van my”, “links van my”, “agter my” en “voor my”. Sulke kinders sal dit moeilik vind om sekere pen-en-papier take, waarby die bepaling van rigting en posisie nodig is, korrek uit te voer, soos byvoorbeeld “skryf jou naam regs bo in die hoek”. Hulle mag ook letters soos b en d met mekaar verwar, asook getalle soos 17 and 71, of hulle sal dalk van regs na links in spieëlskrif skryf.

Madelein kan haar dogtertjie dus help deur seker te maak dat die vaardighede wat lees en spel ten grondslag lê behoorlik ontwikkel en geoutomatiseer is, wat dit dan baie makliker sal maak om haar suksesvol te leer lees en spel.


Edublox lees- en leerklinieke spesialiseer in breinopleiding wat kinders slimmer maak, en hulle help om vinniger, makliker en beter te leer en te lees. Die klasse spreek die volgende aan:

• Konsentrasie: Gefokusde en volgehoue aandag.
• Perseptuele vaardighede: Visuele en ouditiewe voorgrond-agtergrond onderskeidingsvermoë; visuele en ouditiewe diskriminasie, sintese en analise; vorm-onderskeiding; rigtingsin en ruimtelike verhoudings.
• Geheue: Visueel en ouditief, kort- en langtermyn, reeks- en werkende geheue.
• Logiese denke: Deduktiewe en induktiewe redenering.
• Lees, spel, woordeskat en begrip.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar