fbpx

Só Identifiseer Jy ‘n Leesprobleem (Gratis Vraelys)

Daar’s ‘n gesegde wat lui, “Geluk is nie die afwesigheid van probleme nie, dis die vermoë om hulle te hanteer.”

Party probleme word die beste hanteer deur hulle net te ignoreer. As jy vir jou kind skoene gekoop het wat te groot is kan jy dit maar net los, dit sal wel die een of ander tyd pas.

Dan is daar probleme wat nie net gelos kan word nie, wat mettertyd net groter en groter word. Een so ‘n probleem is ‘n leesprobleem, waar die gaping tussen kinders wat goed kan lees en kinders wat sukkel oor tyd net al hoe groter en groter word. Amerikaanse kundiges noem dit die Matteus-effek, verwysend na Matteus 25:29 wat sê dat die rykes ryker sal word en die armes armer.

Partymaal is die gaping reeds in graad 1 so groot dat mens dit nie kan miskyk nie.

Partykeer word dit misgekyk. By Edublox sien ons gereeld graad 2- en 3-leerders wat ‘n 6 of 7 op hulle rapport kry vir lees (selfs vir onvoorbereide lees), maar as mens hulle met die ESSI-leestoets evalueer, kry hulle ‘n stanege van 1-3, wat beteken hulle lees baie swak tot swak. Die ESSI-leestoets, wat op 34,000 Suid-Afrikaanse leerders gestandardiseer is, meet outomatiese woordeherkenning. Leesbegrip is natuurlik ten diepste afhanklik van outomatiese woordhekenning — daarsonder kan daar hoogstens gedeeltelike begrip wees.

Partymaal neem dit net te lank voordat iemand bewus raak van ‘n leesprobleem. Een van ons kliënte hierdie jaar was ‘n volwassene wat matriek met universiteitevrystelling geslaag het, maar universiteit self was net een te veel en het hy vier jaar agtermekaar gedruip. Hy is op die ouderdom van 22, tot verbasing van sy ouers, gediagnoseer met disleksie – ‘n term wat verwys na ‘n intelligente persoon met ‘n ernstige leesprobleem.

Om sulke situasies te voorkom is dit belangrik dat opvoerders – ouers en onderwysers – op die uitkyk is vir die simptome van ‘n leesprobleem. Die vraelys hieronder (klik op die skakel om die vraelys in PDF af te laai) kan gebruik word om leesprobleme betyds te identifiseer. Kontak jou naaste Edublox-tak vir ‘n formele assessering en hulp.


Gratis vraelys: Tekens van leesprobleem


Tekens van ‘n leesprobleem:

BeskrywingNooitPartykeerDikwels
1.       Omkering van letters soos b en d of p en q, of lees bv. tak vir kat of sak vir kas.
2.       Plaas letters in die verkeerde volgorde en lees bv. emelent vir element, snik vir niks, en tekel vir ketel.
3.       Lees klein woordjies verkeerd bv. ’n vir nie, vir i.p.v. van, met vir meer.
4.       Raak gedisoriënteerd met ’n reël of op ’n bladsy terwyl hy lees, mis reëltjies of herhaal wat reeds gelees is.
5.       Hardoplees is hakkelrig, woord-vir-woord, monotoon.
6.       Probeer die letters van die woord klank maar kan dan nie die korrekte woord sê nie. Sal bv. die letters ‘k-a-t’ klank, maar dan koud sê.
7.       Spreek woorde verkeerd uit, of plaas klem op verkeerde lettergrepe.
8.       Verkort woorde bv. porsie vir proporsie.
9.       Weglating van voorvoegsels, weglating van agtervoegsels of byvoeging van agtervoegsels.
10.   Lees met swak begrip.
11.   Onthou nie veel van wat gelees is nie.
12.   Kan nie die regte letter by ’n gegewe klank pas nie.
13.   Ignoreer gereeld leestekens, laat punte en kommas uit.

.

Algemene riglyne:

Graad 1 (4de termyn) en Graad 2: As enige twee items as “Dikwels” gemerk is of as meer as drie items as “Partykeer” gemerk is, word ‘n toepaslike lees-assessering aanbeveel.

Graad 3+: As enige item as “Dikwels” gemerk is of as meer as twee items as “Partykeer” gemerk is, word ‘n toepaslike lees-assessering aanbeveel.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar