fbpx

Drastiese Veranderinge In ‘n Kort Tydjie

Hanco het gesukkel met Engels voordat ons hom by Edublox ingeskryf het – nou lyk ons prentjie heel anders – kom ek vertel julle bietjie wat by ons gebeur het…

Ons het Hanco, onwetend, Afrikaans grootgemaak. Van baba-tyd af het hy nie baie TV gekyk nie, maar wanneer ons iets gekyk het, was dit Kyknet se Towertuin en Zim-Zim.

Ons het Afrikaanse kinderliedjies gesing en Lollos was natuurlik ’n treffer. Op geen stadium het Hanco nodig gehad om eers te weet dat Engels bestaan nie.

My tannie, wat ’n kleuterskoolonderwyseres was, het ons net gewaarsku om nie ons tale te meng nie, anders gaan die kinders op skool sukkel om onderskeid te tref tussen die tale en dit gaan hulle baie deurmekaar maak.

In Graad 1 het Hanco uitstekend gevaar in Afrikaans – die onderwysers het klomp woordjies gegee om sinne te maak en ons het baie gekonsentreer op Afrikaans. Hanco het hier en daar te doen gekry met Engels, maar op ’n baie klein skaal – toe ek verlede jaar moes terugdink aan die oorsprong van als.

In Graad 2 bring Hanco vir my ’n Engelse toets om te teken.

NIE goeie punte nie – hy was skaars deur, ek onthou 56% — dit was nogal ’n skok op my sisteem en ek besluit om die juffrou te gaan sien – sonder om klippe te gooi, gelukkig! Sy vertel dat sy ’n stukkie gelees het en Hanco moes terugantwoord, maar hy kon nie. Hy het geweier om enige van die 5 vrae te antwoord. Daar weg, besluit ek om die juffrou se woord op proef te stel en DAAR HET EK DIT! Hy het geen selfvertroue om Engels te praat nie.

Ek begin toe Engelse stukkies lees saans, maar hy verstaan nie regtig wat ek sê nie, en kan nie volg wat in Engelse stories gebeur nie – hy kan dit nie eers in Afrikaans weergee nie. Hanco is my oudste kind en ek weet toe nie eers waar om te begin soek nie. Iemand vertel my toe van ’n tannie in die dorp en ek begin dadelik vir Hanco daarheen stuur vir klasse. Die tannie het speletjies gespeel en dit lekker probeer maak, maar die vordering was stadig en in my oë glad nie waarna ek op soek was nie.

Aan die begin van Graad 3 gaan sien ek sy nuwe juffrou en vra haar hulp – sy was wonderlik! Sy was eerlik met my en het gesê hy sukkel, en ons het baie moeite gedoen met Hanco. Sy het baie moeite gedoen en probeer help en goedjies vir my gegee om met hom te doen.

Hanco is Graad 3 gemaklik deur met redelike goeie punte en ek het gedink die basis is reg… maar TOE kom Graad 4.

Die eerste kwartaal het die Engels weer nie goed gelyk nie. Tweede kwartaal was dit grendeltyd en ’n onsekere en moeilike tyd. Dinge het net nie reg geloop nie en toe die juffrou op die derde kwartaal se rapport aandui dat ons moet aandag gee aan Engels, het ek besluit om dadelik iets aan die saak te doen – die basis was nie reg nie – die huis gaan nie staande bly nie.

Ek het nie geweet wat om te doen nie, maar was bereid om enige iets te probeer. Toevallig het my suster net na die ergste grendeltydperk verby was, haar kinders by Edublox (Kempton) ingeskryf en sy kon nie uitgepraat raak oor haar seuntjie se leesvermoë wat amper oornag verbeter het nie. Hy was opgewonde oor Edublox en wat hy daar leer en ek het dadelik op die internet gaan soek vir die naaste Edublox-sentrum… en hier in ons eie dorpie, onder leiding van Michelle van Deventer, vind ek toe een. Ek het dadelik kontak gemaak en ’n afspraak vir Hanco gekry.

Die evaluasie was gedoen en sy het presies geweet hoe ons hom gaan kan help…

Ek het geweet sy sal KAN help, maar ek het nie geweet daar kan in so kort tydjie sulke drastiese veranderinge gebeur nie! Ek het hom net na die derde kwartaal ingeskryf by Michelle… en toe sy 4de kwartaalrapport kom, het ek amper bokspronge gemaak! Ek was stomgeslaan van dankbaarheid! Loer gerus na die DRASTIESE verandering in EEN kwartaal op Hanco se rapport van Graad 4 se derde na vierde kwartaal, en van verlede jaar tot hierdie jaar.

MAAR die rapport was nie die plek waar ek die grootste verandering agtergekom het nie. Ons het gedurende die jaar Engelse mense ontmoet en Hanco het met die kinders Engels gepraat – dit was gebroke hier en daar – maar  hy het baie beter as ek gepraat.

Hanco speel ook graag skaak – a.g.v. COVID is dit meestal aanlyn en hy gesels nou lekker met sy skaak-maats. Hy speel ook aanlyn TV-speletjies en daar het hy ook met ’n hele klompie Engelse maats van die ander skool in Bethlehem bevriend geraak.

Deesdae help hy my wanneer ek ’n woord vergeet of help hy wanneer ons nie kan onthou wat die Engelse woord vir ’n Afrikaanse woord is nie, of andersom. Die feit dat hy selfvertroue gekry het om Engels te praat, sonder om twee keer te dink (soos in die verlede) het my tranerig.

SELFVERTROUE, wat net van een plek af kon kom – en dit is van die Edublox-sentrum af.

Ek wil nie hê my kind moet die slimste wees nie, ek wil net nie hê hy moet onnodig sukkel nie.

Edublox se aanbieding is modern – dis wat kinders verstaan!

Die vriendelikheid en hulpvaardigheid (en soms ’n Milo-bederfie) is wat dit nog meer spesiaal maak en ek is elke dag dankbaar dat Michelle en haar span oor ons pad gekom het.

Ek voel ook dat as mens kinders van kleins af toerus met die regte ‘wapens’ sal die breinpaadjies reg ontwikkel en hulle sal nie so sukkel in die hoërskool en waar hulle hulself eendag gaan bevind nie.

Ek is dankbaar vir die program en dankbaar dat daar so groot verskil in ’n kind se lewe gemaak kan word!

Rhona Steyn 


Hanco se Graad 4-rapport wys reeds ‘n verbetering in Engels vanaf die 3de tot 4de kwartaal 

Hanco se Graad 5-rapport. Sy Engelse punte verbeter uiteindelik van 66% na 83%!

Share Button

Rhona Steyn Hanco se Moeder

Skip to toolbar