fbpx

Edublox Lei tot Belangrike Skuif in Denkwyse

Jayden was omtrent 3 en ʼn half toe hy gediagnoseer is met Ankyloglossia (“Tongue-tie”) en baie vergrote adenoïede en mangels; al drie toestande is as verduideliking gegee hoekom hy steeds nie kon praat nie. Na ʼn operasie om die mangels en adenoïede te verwyder, en die Ankyloglossia te korrigeer, het Jayden met spraakterapie begin.

Jayden het niks daarvan gehou nie, en ure en ure se oefeninge en baie trane oor die volgende paar jare het beperkte vordering getoon. Jayden was teruggetrokke en wou nie praat nie. Hy was op hierdie stadium ook reeds twee jaar agter met spraak- en taalontwikkeling.

Van graad R af was dit duidelik dat hy skolasties sukkel en sy juffrouens het hulle bekommernis uitgespreek, en weereens terapie aanbeveel. Spraakterapie het voortgegaan tot in graad R. Voor graad een begin is, is sy gehoor en visie getoets, en albei was op die stadium normaal.

In graad een, met die hulp van die skool en onderwysers het ons ook met remediërende onderrig begin, omdat sy lees en skryf net nie op datum kon kom nie; hy was steeds ongeveer ʼn jaar agter met spraak en taalontwikkeling, en lees was ʼn nagmerrie. Weereens het Jayden glad nie die remediërende lesse geniet nie, en vordering was beperk. Die skool het aanbeveel dat Jayden getoets word om sy skolastiese vermoëns te bepaal. Die terugvoer was bemoedigend, maar daar is sterk aanbeveel dat hy moet voortgaan met terapie en spesiale hulp.

Jaar vir jaar het sy skool juffrouens hulle kommer uitgespreek. Die boodskap was dieselfde: “Jayden is oulik maar hy sukkel met die werklading,” “Jayden let nie op in die klas nie,” “Jayden moet ekstra klasse bywoon,” “Jayden moet ekstra werk oefen,” “Jayden moet dalk na ʼn spesiale skool toe gestuur waar die klasse kleiner is.” Huiswerk het nagmerrie-proporsies aangeneem en geweldige stres vir hom en in die huishouding veroorsaak.

Verdere opvoedkundige sielkundige assessering, op aanbeveling, het getoon dat hy geen rede het om te sukkel nie – dit was nie die resultate wat kwartaal na kwartaal op sy rapporte weerspieël is nie. As ʼn gesin was ons desperaat en Jayden was ongemotiveerd. Ons het permanent gestry oor huiswerk, leerwerk, leeswerk en punte.

Met ʼn selfbeeld en punte wat vinnig agteruit gaan, het ons teen die einde van Graad 4 remediëring gestaak en vir Jayden by die Edublox-program ingeskryf.

Ek was verstom dat Jayden weekliks uitgesien het na sy Edublox-lesse, ʼn ervaring totaal die teenoorgestelde as met spraak en remediërende lesse. Hy het ook boeke begin lees, iets wat hy nooit wou doen nie omdat hy eenvoudig te stadig gelees het en in elk geval bitter min van die storie self kon herroep. Ons het minder vasgesit by die huis, omdat sy houding teenoor skoolwerk en ook sy selfbeeld begin verbeter het. Alhoewel hy vordering getoon het in die Edublox-assessering, het ons nie dadelik ʼn verskil in sy skoolpunte gesien nie. Wat wel duidelik was, was dat hy meer doelgerig studeer het, en dat hy die studietegnieke wat hy by Edublox aangeleer het, effektief benut het.

In die derde kwartaal van Gr 5 het Hannelie my op ʼn dag my geskakel om my te laat weet dat Jayden merkwaardige vordering begin toon het in die Edublox-lesse. In dieselfde kwartaal het Jayden se gemiddelde punte op sy rapport met omtrent 13% verbeter. As ʼn familie sien ons vir die eerste keer uit na hierdie kwartaal se rapport.

Vir my is die grootste verskil Jayden se gesindheid en sy selfbeeld. Ek weet Hannelie en haar span het dit hulle missie gemaak om vir Jayden ʼn rede te gee om te ‘wil’, en vir hom te wys dat hy kan. Iets wat nie sy ouers, juffrouens of ander terapeute in al die jare kon regkry nie.

Hy werk al vir baie jare baie hard, maar ek glo dat as dit nie vir hierdie uiters belangrike skuif in sy denkwyse was nie, sou die res van sy harde werk nooit in plek begin val het nie.

Amanda Wilson


Jayden se rapport aan die verbeter…

 

Share Button

Amanda Wilson Jayden se Moeder

Skip to toolbar