fbpx

Gretig om te Lees; Omkering van Woorde Het Verdwyn

Feedback.3185717_stdDie Direkteur Akademies,
Hulpsentrum,
Disleksie-sentrum,
Technikon Pretoria

Geagte Mnr. Fourie

Ons skrywe aan u i.v.m. die kursus van die Disleksie-sentrum by die Technikon Pretoria.

Ons seun, Pat, 9 jaar, is op 6-jarige ouderdom deur middel van E.E.G. en toetse deur ‘n neuroloog, klinies en skoolsielkundiges gediagnoseer as dislekties a.g.v. ‘n breinbesering. Daar hy hoogs intelligent getoets het, was daar aanvanklik gereken dat hy met behulp van remediërende onderwys en spesifieke oefeninge sy probleme in ‘n gewone skool behoort te kan hanteer. Dit het egter nie so uitgewerk nie, en sy lees- en leerprobleme het vererger. Ons was toe nog op Cradock, in die Oostelike Provinsie.

Op aanbeveling van Dr. Meyer, die neuroloog, asook die skoolsielkundiges, is hy toe na die Martie Du Plessis-skool vir Spesiale Onderwys in Bloemfontein. Hy het pragtig aangepas en het met behulp van remediërende onderwys, arbeidsterapie en fisioterapie, verbetering getoon.

In 1989 is ons verplaas na Pretoria en Pat is oorgeplaas na Pretoria Skool vir Serebraal Gestremdes. A.g.v. te-min-staf-probleme was sy onderrig nie so intensief nie, en het sy werk weer begin verswak. Tot so ‘n mate, dat hy std. 1 moes herhaal. Met behulp van sy nuwe onderwyseres was daar toe weer geleidelike verbetering, maar nog steeds nie waartoe hy wel instaat is nie.

Vanaf Maart 1990 het ons toe die ± 6 maande lange, 1 x ‘n week, kursus van die Disleksie-sentrum by die Technikon Pretoria begin bywoon en het Pat begin met die Oudiblox-kursus.

Nou, na 3 maande, toon sy werk reeds ‘n opmerkilike verbetering.

Waar hy vroeër traag was, en soms selfs geweier het om te lees, is hy gretig om te lees, en vra selfs soms vir ‘n ekstra leesles by sy onderwyseres. Sy omkerings van woorde — hy het bv. “gaan” gelees vir “nag” — het verdwyn en sy omkerings van letters en syfers het drasties verminder, wat natuurlik ook sy leesspoed vebeter het.

Dieselfde verbetering is ook by sy skryfwerk waargeneem.

Sy konsentrasievermoë, geheue en selfvertroue het verbeter, sodat dit waarneembaar was in sy algehele skoolwerk. Hy het selfs verbetering getoon in sy koördinasie.

Ons kan werklik die kursus aanbeveel by alle persone wat lees- of leerprobleme het.

Ons sou graag wou sien dat daar miskien aan die begin, in die middel, en aan die einde van die kursus, individuele toetsing kon plaasvind, sodat spesifieke probleme uitgelig kon word om sodoende riglyne te gee aan ons as ouers, wat nie onderrig-opleiding het nie, om te verseker dat ons ons kind op die regte manier help.

Ons is baie dank verskuldig aan Dr. Jan Strydom en die Technikon van Pretoria, vir die hulp en ondersteuning tot dusvêr, en wens u alle voorspoed toe, met die kursus vir die toekoms.

Doet so voort!

Met dank en waardering.
Pieter en Susan van Heerden

Share Button

Pieter en Susan van Heerden Pat se ouers

Skip to toolbar