fbpx

Ouditiewe Persepsie Kry ‘n Hupstoot

Theron het in September 2017 (die derde kwartaal van Graad 2) by Edublox begin, nadat sy Graad 2 onderwyseres Edublox aanbeveel het. Ons het saamgestem dat Theron enorme potensiaal vir bogemiddelde punte het, en ‘n baie harde werker is. Daar het egter iets “gemis”. Dis asof hy net nie die finale bruggie kon oorsteek na die eindpunt toe nie. As ‘n ma het dit my hart gebreek om te sien hoe hard hy probeer presteer, en dan hoe hard hy ook dan probeer om sy teleurstelling weg te steek as hy nie die resultate kry wat hy voor gehoop het nie.

Theron se ouditiewe persepsie het ‘n “speedbump” (soos ons verkies om dit te noem), en ons het gehoop dat Edublox die “speedbump” kan “uit level”. Die hoop het nie nie beskaam nie. Theron het gesukkel om in Graad 2 selfs ‘n 5 te behaal vir van sy vakke; sy punte het egter begin geklim tot by ‘n 7 in van sy vakke in Graad 4. Neem in ag dat die sprong van Graad 3 tot Graad 4 baie groot is met die tempo en hoeveelheid werk, asook die feit dat daar leervakke bygekom het.

Ek en Theron het sedert hy met mondelinge in die skool begin het, dit albei omgehuil. Dit was ‘n frustrasie en Theron was elke keer bang en onseker voor elke mondeling. Sedert hy by Edublox begin het, het mondelinge ‘n plesier geraak, en hy doen dit met die grootste gemak en ‘n goeie dosis ‘attitude’.

Theron was baie agter met sy lees, en baie selfbewus en frustreerd. Hoe ouer hy geword het, hoe meer het hy besef hy lees beslis nie soos sy maats nie. Sedert hy by Edublox begin het, lees hy met soveel gemak en selfvertroue.  Ek het vir hom Engelse leesboeke begin koop wat hy vreeslik geniet en met gemak lees.

As ‘n mens se kind sukkel, is dit ‘n instinktiewe reaksie om die fout by jou as ouer te soek. Ek het myself oor en oor probeer oortuig dat daar iets is wat ek dalk op ‘n sekere stadium anders kon doen. Jy maak jou self later siek van onsteltenis en vrese oor jou kind se toekoms. Om ‘n goeie ma vir jou kind te wees, beteken om te erken wanneer jy hulp moet inroep.

Ek is dankbaar vir Hannelie en haar span by Edublox. So lank as wat Theron daar kan wees, sal hy getrou opdaag vir sy klassies. Ons gaan nêrens heen nie, want behalwe dat Theron enorme groei in sy akademie begin toon het, het sy selfvertroue ‘n stewige hupstoot gekry en my kind is gelukkig. Dit beteken… ek is gelukkig!!!

Louise Lategan


Theron se Graad 2 rapport: 

Theron se Graad 4 rapport: 

Share Button

Louise Lategan Theron se moeder

Skip to toolbar