fbpx

GROOT Verbetering in Vermoë om Take te Benader, te Beplan en Deur te Voer

Tertius het van die begin van sy skoolloopbaan af gesukkel om take te beplan en suksesvol deur te voer. Die probleem het verdubbel toe lees en spel in die prentjie begin kom en daarmee saam die angs, onsekerheid en afname in selfvertroue. Verskeie programme van arbeidsterapie, neuroterapie, spraakterapie en leesprogramme het ‘n verskil gemaak, maar dit het alles gehelp tot ‘n punt en dan is dit asof hy ‘n plato bereik het en net niks verder vorder nie.  ‘n Evaluasie by ‘n skolastiese sielkundige het daarop gedui dat hy die potensiaal het om te presteer, en almal wat met hom te doen het, kon onmiddellik sien dat die potensiaal daar is, en tog kon mens dit glad nie in sy skoolwerk sien nie. Nodeloos om te sê het hy teen die tyd wat ons Edublox begin het, lankal gedink hy is dom en “hy kan nie”. Die moontlikheid van disleksie het opgekom en ek het op die internet gaan soek om hulp; dis hoe ek op Edublox afgekom het. Tydens sy eerste evaluasie is disleksie uitgeskakel, maar het daarop gedui dat hy omtrent ‘n twee jaar agterstand het in lees en spel.

Ek kon binne ‘n maand al ‘n GROOT verskil sien in sy beplanning. Waar hy gewoonlik “rondgeval” het tussen sy spelwoorde en klanke, het hy nou sy spelwoorde doelgerig aangepak en sy take van ‘n kant af begin doen. Die tyd wat dit geneem het om woorde vas te lê het elke week afgeneem. Sy toetse het begin verbeter en daarmee saam sy selfvertroue. Vanweë sy groot agterstand, kon ons nie dadelik ‘n verskil in sy punte sien nie, maar vir die eerste keer kon ek sien dat hy begin hoop kry. Na ‘n jaar en een kwartaal van Edublox kan ek as ouer ‘n ongelooflike verskil in my kind opmerk. Die lees en spel is steeds nie heeltemaal op standaard nie, maar hy is vinnig en goed oppad daarheen. Die aspek wat ek nog by GEEN ander program kon kry nie, is die kognitiewe verwerking van inligting. Dit was altyd asof Tertius ‘n kop vol inligting gehad het wat hy glad nie kon aanwend nie. Deesdae kry hy die regte antwoorde by die regte vrae; hy memoriseer inligting binne minute; sy selfvertroue het met rasse skrede verbeter; en sy algemene vermoë om take te benader, te beplan en deur te voer het van “geen” tot “sonder probleem” verbeter. Ek kyk terug na tye waar ek elke liewe woord moes regmaak wanneer ons huiswerk doen en vandag help ek hom met slegs enkele woorde.

Tertius se punte was tussen 3 en 5 toe ons Edublox begin het; hy is nou besig met sy laaste eksamen in Gr 4 en dit gaan sommer BAIE goed. Die wonderlikste ding vir my as ouer, is sy gesig en houding as hy met ‘n toets of eksamen vraestel huis toe kom waarop 90% staan. Die mikpunt wat hy vir homself vir hierdie kwartaal gestel het is ‘n A gemiddeld (en hy gaan dit regkry!) en DIT van ‘n kind wat minder as ‘n jaar gelede gedink het hy is sommer “stupid en dom”.

Tertius se Graad 3 rapport:

Tertius se Graad 4 rapport:

Baie dankie aan Hannelie en haar span by Edublox Durbanville; julle bydrae tot Tertius se groei as skolier en mens word ongelooflik waardeer.

Zané Oosthuizen

Share Button

Zané Oosthuizen Tertius se moeder

Skip to toolbar