fbpx

Tutor Vox-Pops: ‘n Oorsig oor 2016 (Deel 1)

vox-pops-visual_editedOm vir oulaas oor 2016 te reflekteer voor ons die nuwe skooljaar aandurf, het Edublox besluit om by ons tutors regoor die land te gaan uitvind wat hulle hoogtepunte was. Hier is hulle stories.

Hierdie jaar het ek baie vaardighede aangeleer as ʼn tutor by Edublox. Edublox het my geleer om ten alle tye bewus te wees van die tyd wat jy aan sekere aktiwiteite spandeer. In my persoonlike lewe het hierdie vaardigheid my gehelp om tyd beter te bestuur. Edublox het my ook geleer om kinders ter alle tye op ʼn positiewe manier te motiveer. Dit was interessant om te sien hoe goed hierdie manier van motivering werk. Dit is ʼn tegniek wat ek definitief eendag as ʼn onderwyser sal toepas.

“Die grootste beloning hierdie jaar was om te sien hoe elke kind persoonlik groei — nie net kognitief nie, maar ook emosioneel. Leerders kom met ʼn baie lae selfbeeld en ʼn teruggetrokke persoonlikheid by ons aan. Dit is ʼn seëning om te sien hoe hulle uit hulle doppe kom en meer spontaan begin raak.

“ʼn Aspek van Edublox wat ook uitgestaan het, is die positiewe kommentaar wanneer mens geëvalueer word. Ek het nie een keer ʼn evaluasie ontvang wat my afkraak nie. Dit het eerder voorstelle gegee oor hoe ek kan verbeter. Dit was ʼn seëning om ʼn kode 4 te kon verwerf hierdie jaar en het my gemotiveer om aan te hou so goed doen.

“Die laaste aspek wat uitgestaan het, is dat ek as tutor ook kognitief sterker geraak het. Die resultate is te siene in my studies. Ek kon baie beter die werk onthou wat ek deurgelees het, asook die logiese volgorde van sinne in my opstelle het verbeter. Ek kan net dink hoeveel meer Edublox sou help as ek ʼn student by Edublox was en nie ʼn tutor nie.

– Corne, Wellington


Om ‘n tutor te wees by Edublox, is vir my baie bevredigend. Dit is my tweede familie. As ek smiddae hier instap, word ek gegroet deur al die kinders met glimlagte en drukkies en almal wil gelyktydig hulle stories vir jou vertel. Maar die beste gedeelte vir my, is om te sien hoe die kinders vorder. Die opwinding op hulle gesigte as hulle uiteindelik meer blokkies in ‘sequence’ kan pak; hulle blydskap en trots as hulle ‘n patroon kan regpak. Elke halfuur kom sit daar nuwe gesiggies voor my en dit is vir my ‘n plesier om elke kind te leer ken en om hom/haar te help om meer te bereik.

“Die ander tutors by ons sentrum is ook meer as net my kollegas, hulle is my vriendinne en ons werk almal lekker saam.

– Ilze, Paarl


“Hierdie jaar het vir my so baie nuwe dinge geleer. Ek het so baie ervaring opgedoen in verskillende afdelings van wat ‘n tutor werklik is. My passie was nog altyd om met kinders te werk en om daar waar ek kan vir hulle nuwe vaardighede aan te leer. Elke dag is ‘n nuwe uitdaging, maar tog ‘n fantastiese uitdaging. Die verskillende karakters wat mens elke dag sien in die kinders is iets wat geen mens rêrig kan beskryf nie. Die vreugde wat hulle vir mens bring is wonderlik. As jy bietjie af voel die dag is ‘n glimlag of drukkie van die kinders net wat mens nodig het. Elke kind is spesiaal in sy of haar eie manier en om ‘n verskil in hulle lewens te maak is so bevredigend. Dis lekker om nuwe gesiggies te sien en hartseer om totsiens te sê vir die kinders wat ons verlaat. Mens raak so geheg aan elkeen van hulle. Daar is dae wat ons so lekker lag saam met die kinders dat maagspiere skoon seer is en dan is daar dae wat ons met alle erns hard werk om te presteer. Die beste deel van tutor wees is definitief wanneer jy ‘n verskil kan sien in ‘n kind, of dit nou in sy of haar lees, wiskunde of skoolwerk is. Ek kan definitief saam met die gesegde stem wat sê ‘Never a dull moment’.

“Dit was en is vir my so groot voorreg om met kinders te kan werk en ‘n verskil te maak in hulle lewens. :)”

– Shane, Paarl

Share Button
December 29, 2016

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar