fbpx

Volg dié Riglyne vir Voorbereiding

Moenie te laat begin met voorbereiding vir die eksamen nie.
Hierdie artikel, waarin Edublox-kundiges aangehaal word, het verskyn in Beeld op 30 Mei 2019:

Matrikulante oor die land heen het nog net ’n paar hekkies oor voordat hulle die eindeksamen aflê wat gewoonlik in Oktober begin. Ons het met ’n paar kundiges gepraat oor hoe om vir eksamens voor te berei.

Volgens Gerhard van der Merwe, ’n bedryfsielkundige van Pretoria, is dit belangrik om nie te laat met voorbereiding te begin nie.

“Begin vroegtydig. Moenie spot oor wat om te leer en wat om te los met voorbereiding nie. Weet wat om te leer. Moet ook nie jou ore uitleen vir pelle oor wat hulle gaan leer of nie gaan leer nie.”

Van der Merwe voeg by om nie te deurnag nie, veral nie met blikkies energiedrankies nie.

Susan du Plessis, ’n opvoedkundige praktisyn van Edublox, stem saam dit is belangrik om reg deur die jaar te studeer.

“Maak opsommings of breinkaarte aan die einde van elke onderwerp of hoofstuk sodat, teen twee tot drie weke voor die eksamen, die hardste werk reeds gedoen is en die eksamentyd slegs hersiening behels. Wanneer ’n mens staatmaak om alles gedoen te kry reg voor die eksamen, dra dit by tot onnodige stres wat jou brein sal keer om die inligting behoorlik en georganiseerd te stoor en te onthou. Jy maak staat op jou korttermyngeheue, wat beteken dat die inligting nie deurdring tot jou langtermyngeheue nie en gou vergeet kan word.”

Du Plessis sê die hersieningsrooster moet sover moontlik ooreenstem met die eksamenrooster.

“Indien dit nie bekend is nie, begin met die vakke wat die meeste werk nodig het. Wees realisties wanneer besluit word hoeveel tyd om aan sekere vakke toe te ken.”

Van der Merwe sê dis ook belangrik om ’n eksamenrooster op te stel oor wat om vir wanneer voor te berei.

“’n Rooster is ontsettend belangrik, want dit gee jou ’n riglyn en ook skedule om al jou werk te kan dek waaroor jy eksamen moet skryf. Dit kan ook dien as angsverminderinghulpmiddel omdat dit vir jou op papier alles kan dek indien jy by dit bly. Dissiplineer jouself om by die rooster te hou en beloon jouself as jy dit ’n week lank of ’n voorafbepaalde tydperk kon nakom. Belonings verskil van mens tot mens. Dit kan selfoontyd, TV-kyktyd of tyd saam met vriende wees sonder om skuldig te voel of druk deur ouers om weer voor die boeke te moet inskuif.

“Kry ook genoeg slaap – die standaard is agt uur.”

Van der Merwe sê voorbereiding en die gebruik van jou selfoon gaan nie saam nie, al dink jy en jou vriende so.

“Dis die een of die ander. Geen mens kan multitask nie. Studie of voorbereiding voor die TV, rekenaar en tablet werk nie. Leer of voorbereiding op ’n bed of rusbank werk ook nie. Jou brein gaan dadelik oor na slaap of ontspan.”

Du Plessis is van mening dat ’n goeie studie-area moet voldoen aan die volgende basiese vereistes:

■ Weg van afleiding en onderbrekings;

■ Toevoer van vars lug;

■ ’n Gemaklike stoel; en

■ Goeie beligting.

“Baie leerlinge verkies om op hul bed te lê en studeer. Terwyl dit aanvaarbaar is om kort rukkies op die bed te lê en lees, is dit nie ’n goeie posisie vir volgehoue studie nie. Eerstens kan lê jou slaperig maak en dit dus moeilik maak om te konsentreer. Tweedens is dit sleg vir jou oë, aangesien jy te na aan jou boek lê en teen ’n te skerp hoek lees.”

Van der Merwe sê teorie verwys na ’n uur per dag per vak om te leer.

“Dit wil sê ses vakke is gelyk aan ses uur. Hier verwys ek na die studiemodel wat ek voorstaan (SQ3R) wat behels herhaling van vorige leerwerk voordat die leerproses van nuwe werk begin. Dit sluit ook die maak van aantekeninge in.”

Hy sê die ouer se rol is om hul kind te ondersteun en motiveer.

“Subtiele druk op ’n leerling om by die rooster te bly. Skep ’n omgewing waar die leerling wel kan leer of kom ooreen wanneer tyd vir stilte en tyd vir lawaai is.”

Du Plessis sê ouers moet hul kinders aanmoedig om ’n positiewe ingesteldheid teenoor leer te hê.

“Dit is belangrik dat jou kind weet hul beste is goed genoeg, maar dat jy wel hul beste verwag. Gee positiewe terugvoering so gereeld as moontlik om hul selfbeeld en motivering te bou.”

Du Plessis sê op die dag van die eksamen is dit baie belangrik om onnodige angs en spanning te vermy.

“Wanneer jy gespanne word, stuur jou hart meer bloed na jou spiere en minder na jou brein sodat jy minder helder kan dink. Sit alles reg die aand voor die eksamen en wees betyds by die skool of eksamenlokaal.

“Moenie die leerwerk met ander leerlinge bespreek op die dag van die eksamen nie. Dit lei net tot vrees dat jy nie genoeg geleer het nie. Haal diep asem, selfs voordat die vraestel oopgemaak word.

“Hoe meer suurstof daar in die bloedstroom is, hoe duideliker sal jy kan dink en hoe makliker sal dit wees om die leerwerk te herroep.”

’n Rooster is ontsettend belangrik, want dit gee jou ’n riglyn en ’n skedule om al jou werk te kan dek waaroor jy eksamen moet skryf.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar