fbpx

Vra vir Susan: Roetine, Roetine, Roetine

Hierdie rubriek is gepos op MaroelaMedia.co.za op 28 Februarie 2017:

Hallo Susan,

Tydens my tweeling se babadae was ek dwalende. Dit was asof ek van die een wiegie na die ander beweeg het soos ’n leë dop, wat net nie meer krag gehad het vir nog ’n bottel, nog ’n doek, nog winde en nog kuiermense nie. Toe hulle peuters en later kleuters was het dit stadigaan begin beter gaan, maar ek kon hulle nog nooit gelyk in die bad, gelyk in die bed of gelyk aan hulle eettafeltjie kry nie. Sommige aande eet Craig 5 uur aandete en raak dadelik aan die slaap, net om agtuur wakker te word en eers weer 12 uur aan die slaap te raak, gewoonlik in die sitkamer na hy uiteindelik gebad is. William sou weer so laat saans gaan slaap dat dit ’n probleem is om hom soggens uit die bed en aan die ontbyttafel te kry.

Hulle is nou 6 jaar oud en in Graad 1 en dit word nou ’n nóg groter probleem, want soggens moet hulle 07:15 in die kar wees anders is hulle laat vir skool. My middae is ’n nagmerrie en teen vroegaand is ek uitgemergel. Wat doen ek om hierdie twee in ’n roetine te kry sodat dinge normaal kan verloop?

Help asseblief.

Trudie


Hallo Trudie,

Dankie vir jou brief. Ja, roetine is baie belangrik, nie net vir rus en vrede in jou huis nie, maar ook sodat jou kinders grense het wat vir hulle geborgenheid gee.

Die skrywer en gedragskonsultant Ron Morrish het gesê: “Unless you create routines for your children, they will create events for you.” As ek jou brief reg verstaan is daardie ‘events’ in julle geval eet-, slaap- en badtye wat net nie reg uitwerk nie.

In haar boek Kweek Dissipline met Deernis beskryf die welbekende Hettie Brittz roetine as die “steunstruktuur van dissipline.” Kom ons kyk hoekom.

Babas se eet- en slaappatrone is twee dinge wat op mekaar volg. Ek kan verstaan dat dit met ’n tweeling, veral aan die begin, nogal moeilik kan wees om in ’n roetine te kom en dis heel waarskynlik reeds daar wat julle bloot deur die dag (en nag) moes kom en nie vaste roetines ingestel het nie.

Roetine gee vir kinders sekuriteit omdat dit voorspelbaarheid bied. Ons dink miskien nou net aan een dag op ’n slag, maar dink daaraan dat roetine ’n week, ’n skooljaar, ’n kindertyd en ’n leeftyd se voorspelbaarheid bied. Ons kinders voel veilig wanneer hulle weet wat om te verwag.

Noudat jou tweeling 6 jaar oud is, mis hulle die roetine wat sedert babadae daar moes wees, en tydens hulle kleuterjare gevestig moes word. Dis heelwaarskynlik hoekom jy dit moeilik vind om dissipline in jou huis te handhaaf. Hou goeie moed; dit kan reggestel word.

Maar waar begin mens?

Die skool bied struktuur aan julle dag, want die skool is, per definisie, ’n plek wat nie sonder streng roetine kan funksioneer nie. So kom ons begin dus met ’n middagroetine.

Wanneer hulle tuis kom na skool, maak hulle attent op hoe laat dit is en stel voor dat hulle hande was, gemaklik aantrek, middagete eet en dan speel tot byvoorbeeld 15:00. Onthou dat die horlosie jou grootste bondgenoot gaan word in die vestiging van jou tweeling se roetine. Teen 15:00 is dit dan byvoorbeeld tyd vir ’n koeldrankie en ’n gesonde happie en daarna wil jy hoor of daar enige opdragte is wat hulle moet doen.

So deel jy die middag in sodat hulle teen byvoorbeeld 18:00 gebad is en reg is vir aandete. Aandete moet stiptelik bedien word op die tyd wat jy bepaal en dis belangrik dat jy dit sal noem: “Dis nou sewe uur en ons gaan nou almal saam aandete eet.” Om seker te maak hulle is beide teen agtuur in die bed, maak van bedtyd storietyd en lees hulle aan die slaap. Wanneer hierdie roetine goed gevestig is, kan jy dinge byvoeg, soos byvoorbeeld om hulle te leer om seker te maak hulle klere en skooltasse is reg vir die volgende dag.

Trudie, as ek dit so skryf lyk dit baie eenvoudig, maar glo my, dit gaan moontlik aan die begin maar moeilik wees. Wees kreatief. Beloon hulle wanneer hulle met die horlosie saamwerk. Wees streng; die outjies sal vinnig besef dat Mamma, soos juffrou by die skool, nie van die plan gaan afwyk nie.

Wanneer hulle middagroetine vasgelê is, sal jy vind die oggendroetine begin ook in plek val, want hulle sal goed uitgerus opstaan en soggens makliker saamwerk. Die oggendroetine moet weereens uitgespel word met die horlosie wat die program aankondig!

Dis baie belangrik dat julle tydens naweke en skoolvakansies steeds by ’n roetine hou, al is dit dan ’n uur of wat later met ander aktiwiteite.

Kom ons gaan terug na roetine as steunstruktuur vir dissipline, en kyk na Hettie Brittz se definisie: Dissipline is die doelgerigte vorming van ’n kind se denke, besluite, gedrag, gesindheid en karakter op die pad na selfbeheerste volwassenheid.

Roetine-aanleer is deel van jou kinders se deelname aan die proses van hulle vorming. Onthou jou kinders het ’n wil; hulle kan hulle wil gebruik om ongehoorsaam of gehoorsaam te wees. Gebruik die daarstelling van ’n vaste roetine om vir hulle geborgenheid te gee, chaos te elimineer en gehoorsaamheid in te oefen. Dis die liefdevolle ding om te doen vir hul vorming, en dis die begin van die vestiging van dissipline wat nie net onontbeerlik is vir behoorlike volwasse selfbeheer nie, maar ook vir skoolwerk, studies en suksesvolle loopbane.

Groete

Susan oor Skoolkwessies


Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ‘n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ‘n opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ‘n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ‘n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 590 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

Bronverwysing:

Brittz, H. (2014). Kweek dissipline met deernis. Rietvalleirand: Green Hope Media

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar