fbpx

Waarom Sommige Kinders Vlot Lees Maar Sonder Begrip

Seun wat leesLeesbegrip is die doel van lees; die rede waarom ons lees is immers om sin te maak uit dit wat op die bladsy geskryf staan. Wanneer ‘n kind vlot lees, aanvaar ons dat hy verstaan wat hy gelees het, maar drie tot tien persent van vlot lesers begryp nie wat hulle gelees het nie.

Navorser Laurie Cutting van die ‘Vanderbilt Peabody College of Education and Human Development’ beskryf die probleem as volg: “Ek kan Spaans lees want ek weet hoe die letters klink en hoe die woorde uitgespreek moet word, maar ek kan jou nie vertel wat dit beteken nie.”

Wanneer ‘n kind vlot kan lees word daar sommer net aangeneem dat sy begrip ook goed is, maar tussen drie en tien persent van daardie kinders verstaan meeste van die tyd nie wat hulle lees nie. “Teen die tyd dat hierdie probleem aan die lig kom, gewoonlik om en by graad drie of vier, kortwiek dit alreeds die kind se leervermoë,” sê Cutting.

Alhoewel daar ander redes mag wees, is die algemene oorsake van ‘n gebrek aan leesbegrip die volgende:

1. Beperkte woordeskat

Woordeskat is noodsaaklik vir suksesvolle lees. Leerders kan nie verstaan wat hulle lees as hulle nie die betekenis van die woorde verstaan nie. Dekades se navorsing het die belangrike rol van woordeskat in leesbegrip bevestig. Woordeskat is ook noodsaaklik vir leerders se algemene akademiese sukses.

2. Probleme met geheue

Navorsers weet presies watter breinaktiwiteite bydra tot disleksie, maar geen funksionele magnetiese resonansieskanderings of fMRI-studies het, tot onlangs, die neurobiologiese profiel van vlot lesers met swak leesbegrip ondersoek nie.

Neuro-skanderings wat gedoen is op kinders terwyl hulle besig is om te lees toon dat die breinfunksie van diegene met leesbegripprobleme beduidend verskil van die kinders met disleksie. Kinders met disleksie toon abnormaliteite in ‘n spesifieke area van die oksipitaal-temporale korteks, ‘n deel van die brein wat geassosieer word met die suksesvolle herkenning van die geskrewe woord. Kinders met leesbegripprobleme, daarenteen, toon spesifieke afwykings in die areas wat tipies met geheue geassosieer word.

Dat daar afwykings in die breinareas gemoeid met geheue sal wees, maak sin. Verskeie studies het bevestig dat leesbegrip tot ‘n groot mate afhanklik is van beide werkende – en langtermyn-geheue.

Korttermyn-geheue hou inligting slegs vir ‘n paar sekondes in die verstand terwyl dit verwerk word. Verwerkte inligting word dan permanent in die langtermyn-geheue vasgelê. Die werkende geheuestelsel tree as aktiewe tussenganger in die inligtingsverwerkingarea van die brein op; dit is ‘n belangrike geheuestelsel en meeste van ons gebruik dit elke dag.

Om te kan begryp wat ons lees, benodig ons die ondersteuning van ‘n fikse en gesonde werkende geheue. Ons gebruik ons werkende geheue om ingewikkelde sinne soos “Die hanswors wat die seun omhels, soen die meisie,” te verstaan. ‘n Geoefende werkende geheue help ons om ingewikkelde instruksies korrek uit te voer soos byvoorbeeld, “Antwoord eers elke tweede vraag op bladsy vyftien en dan al die vrae op bladsy sestien voordat jy jou antwoorde met die antwoorde agter in die boek vergelyk.” Ons gebruik ons werkende geheue wanneer sinsbou belangrik is vir begrip, soos byvoorbeeld in die volgende sin: “Dit was die seun se bal, nie die meisie s’n nie, wat vuil was.”

3. Probleme met logiese denke

Logiese denke is die proses waardeur ‘n mens redenering konsekwent en deurlopend gebruik om tot ‘n besluit te kom. Probleme of situasies waarbinne logiese denke plaasvind verg struktuur, verbande tussen feite, en opeenvolgings van beredeneringe wat uiteindelik op ‘n sinvolle gevolgtrekking uitloop.

Die verband tussen logiese denke en lees is lank reeds in die literatuur bevestig. Daar word gesê, “daar is nie lees sonder redeneer nie”; daar word selfs gesê: “lees is redeneer”.

Van teorie tot praktyk

Om ‘n leerder se woordeskat te verbeter kan jy vir hom klein kaartjies maak, met die woord op die een kant, en die betekenis agterop. Die woord “argipel ” sal dan bv. op die voorkant staan, met die woorde “’n groep eilande” agterop. Laat die leerder eers net vyf sulke woordkaartjies bestudeer en voeg elke keer vyf nuwe woordkaartjies by wanneer hy die betekenis van die vorige vyf bemeester het. Hersien gereeld sy kennis van die ouer woordkaartjies.

Die goeie nuus is dat leemtes in kognitiewe vaardighede, soos ‘n swak geheue of ‘n onvermoë om logies te kan dink, die hoof gebied kan word. Die sleutel tot sukses lê daarin dat die spesifieke leemtes geïdentifiseer word en dat hierdie breinvaardighede dan deur opleiding en oefening opgebou en versterk word. Kontak ‘n Edublox-kliniek vir hulp indien jy vermoed ‘n leerder se probleem lê by sy geheue of logiese denke.

Behalwe dat logiese denke belangrik is vir leesbegrip, bestaan duidelike bewys daarvoor dat spesifieke opleiding in logiese denke mense “slimmer” maak. Sodanige opleiding stel kinders in staat om ontwykende antwoorde soos “ek weet nie”, of “dit is te moeilik”, te vermy. Dit bemagtig hulle om dieper te delf en beter begrip te verwerf oor hoe om by ‘n oplossing van ‘n probleem uit te kom.

Hieronder is ‘n voorbeeld van ‘n oefening wat kan help om ‘n leerder se logiese denkvaardighede te verbeter. Maak vir die leerder ’n drukstuk van die vasvra hier onder. Hy sal ook ‘n geel en rooi potlood benodig. Sy uitdaging is om die vraagtekens met óf ‘n soliede geel, ‘n soliede rooi, ‘n geel rand of ‘n rooi rand te vervang:

Logical Thinking QuestionsAntwoorde

Logical Thinking Answers

Share Button

2
Leave a Reply

avatar
2 Comment threads
0 Thread replies
0 Followers
 
Most reacted comment
Hottest comment thread
2 Comment authors
Isabe GreenSandra Recent comment authors
  Subscribe  
newest oldest most voted
Notify of
Sandra
Guest
Sandra

Insig gewend! Dankie.

Isabe Green
Guest
Isabe Green

Lees vorm so ‘n integrale deel van elke mens se lewe waar hy hom ookal bevind – elke mens het die reg om te leer om te lees en daardeur sy lewenskwaliteit te verhoog. Lees is egter ‘n ineengevlegte, komplekse aksie wat verskeie breinprosesse aktiveer en verg intense samewerking tussen alle prosesse. Verhoogde aktualisering van hierdie konglomoraat van prosesse is essensieel as ons mense wil bemagtig om met goeie begrip en insig te kan lees.

Skip to toolbar