fbpx

Leer Afrikaans: 300+ Diere-Idiome, Uitdrukkings en Vergelykings

Idiome (ook gesegdes of segswyses genoem) en uitdrukkings is kragtige vorme van beeldspraak wat kleur verleen aan die alledaagse taalgebruik van die moedertaalsprekers van ’n taal, dikwels sonder dat hulle eens daarvan bewus is.

Omtrent elke taal wat aan ons bekend is, beskik oor sy eie skat van idiome en uitdrukkings, wyshede en waarhede wat die ervaring, kulture en gebruike van vorige geslagte weerspieël. Afrikaans het baie diere-idiome en ook uitdrukkings uit Nederland geërf, maar talle het uit eie bodem gegroei. Hier volg 300+ voorbeelde van A tot Z:

Aap:

  • Aapstert = niksbeduidende persoon
  • Al dra ‘n aap ‘n goue ring, hy is en bly ‘n lelike ding = mooi versiersels kan ‘n lelike mens nie mooi maak nie
  • Die aap kom uit die mou = die geheime planne word bekend
  • Die aapstuipe kry = onbeheerbaar kwaad wees
  • Dit weet die aap se stert = almal weet dit
  • Iemand se aap wees = hom in alles volg
  • Iemand vir ‘n aap hou = ‘n gek van hom maak
  • Jou ‘n aap skrik = geweldig skrik
  • ‘n Aap in die mou hê = slinkse streke verberg
  • ‘n Aap in ‘n porseleinekas = baie onhandig
  • Nes ‘n aap op ‘n stokkie sit = erg beteuterd lyk
  • Soveel van iets weet as ‘n aap van godsdiens = niks daarvan weet nie

 

Aasvoël:

  • Die aasvoëls het sy broek beet gehad = sy broek is baie stukkend
  • Jou lyf aasvoël hou = op ander teer
  • Nes ‘n aasvoël = gesê van ‘n gas wat net na ete vertrek

 

Adder:

  • Addergebroedsel = gemene mense; nydige, venynige spul — in die Bybel gesê van Skrifgeleerdes en Fariseërs
  • Daar skuil ‘n adder in die gras = daar is iets onaangenaams, gevaarliks onder ‘n skoon skyn verborge
  • ‘n Adder aan die bors koester = weldade bewys aan iemand wat dit met ondank sal vergeld

 

Beer:

  • Iemand is ‘n beer = lomp, onbeskofte persoon
  • Moenie die beer se vel verkoop voordat jy hom geskiet het nie = moenie op iets staatmaak, voordat jy heeltemal seker daarvan is nie

 

Bees:

  • Die beeste het in die brand geloop = skertsend gesê as koffie sonder melk opgedien word
  • Hy maak ‘n bees van homself = hy gedra hom sleg
  • ‘n Bees van (bv.) ‘n pampoen = groot eksemplaar, knewel
  • ‘n Bees van ‘n vent = wrede, slegte persoon
  • Ou bees! = uitroep van bewondering

 

Bobbejaan:

  • Bobbejaanstuipe = aanval van woede, boosheid
  • Bobbejane het daar ‘n kierie nodig = gesê van ‘n onbegaanbare pad
  • Die bobbejaan agter die bult gaan haal = jou moeilikhede vooruitloop
  • Hulle is bobbejane = hulle is baie dom
  • Soveel van iets weet as ‘n bobbejaan van godsdiens = niks daarvan weet nie
  • Toe jy nog ‘n bobbejaan was = voor jou geboorte

 

Bok:

  • Bokhorings maak = sweer
  • Hulle bokke deurmekaar ja = trou
  • Hy is bok op die muur = hy is neutraal
  • Hy jaag bokke = hy het te veel gedrink
  • Maer bokke dip = kinders slaan
  • ‘n Lelike bok skiet = fout, flater
  • ‘n Mooi bok = nooi
  • ‘n Ou bok lus ook wel ‘n groen blaartjie = ‘n ouerige man hou ook wel van ‘n jong nooi
  • So bang soos ‘n bok vir ‘n skoot hael = baie bang
  • Vleis braai voor jy ‘n bok skiet = op iets staatmaak voor jy daaroor sekerheid het

 

Buffel:

  • Hy is ‘n buffel = onbeskofte vent

 

Bul:

  • Die bul by die horings pak = iets moeilik flink aanpak
  • ‘n Bees van (bv.) ‘n spanspek = groot eksemplaar, knewel
  • Nou is dit bul teen bul = gesê wanneer twee teenstanders wat omtrent ewe sterk is, mekaar pak
  • Ou bul! = uitroep van bewondering — teenoor ‘n manlike persoon gebruik
  • Sommer pure bul wees = flukse man
  • Soos ‘n briesende bul tekere gaan = erg
  • Soos ‘n bul in ‘n glashuis = ontuis, ongemaklik wees


By:

  • Stok (jou kop) in ‘n bynes steek = groot moeilikheid soek; kwaai gevoelens wek

 

Donkie:

  • Donkie skel vir Langoor uit = gesê as albei dieselfde foute het
  • Donkiejare = baie lank, bv. Ek ken haar al donkiejare OF = lank gelede, bv. Dit het donkiejare gelede gebeur.
  • Iemand is ‘n donkie = domkop

 

Duif:

  • Duifie sonder gal = onskuldige persoon
  • Gebraaide duiwe vlieg niemand in die mond nie = sonder inspanning bereik ‘n mens niks nie
  • Onder iemand se duiwe skiet = hom onderkruip; inbreuk op sy gebied maak

 

Gans:

  • Ganse najaag = weens besopenheid slingerend loop
  • Iemand is ‘n gans = ‘n baie dom persoon
  • ‘n Gebraaide gans vlieg niemand in die mond nie = sonder inspanning bereik ‘n mens niks nie
  • ‘n Stadige gans verloor sy kans = deur alte stadig te wees, laat ‘n mens jou kans verbygaan

 

Eend:

  • Die belofte is goed maar die eend lê die eier = dis nie so seker dat ‘n belofte uitgevoer sal word nie
  • Die gebraaide eend vlieg in haar mond = sy kry dinge sonder veel moeite reg
  • Eendstert = jongmens, veral in die jare vyftig en sestig van die vorige eeu, gewoonlik met lang hare wat agter soos ‘n eend se stert gekam is (en wat dikwels baldadig optree)
  • Iemand slaan dat hy sy ma (ouma) vir ‘n eendvoël aansien = hom gedug afransel
  • Lelike eendjie = weinig belowende kind (wat soms tot groot skoonheid of belangrikheid ontwikkel)
  • Soos water op ‘n eend se rug = gesê van ‘n teregwysing waarop geen ag geslaan word nie

 

Esel:

  • Iemand is ‘n esel = dom persoon; domkop
  • ‘n Esel stoot hom nie twee maal aan dieselfde klip nie = wie iets onaangenaams ondervind het, vermy dit voortaan
  • Soos ‘n esel werk = baie hard werk
  • Van die os op die esel = gesê deur ‘n spreker voordat hy die huidige gespreksonderwerp los en iets heeltemal anders aanroer

 

Haan:

  • As Petrus by is, praat ‘n mens nie van die haan nie = dit sou taktloos wees om onaangenaamhede uit ‘n persoon se verlede in sy teenwoordigheid te bespreek
  • Elke haan is koning op sy eie mishoop = elkeen laat hom op sy eie gebied geld, voel hom die meerdere op sy eie gebied
  • Geen haan sal daarna kraai nie = niemand sal ooit iets daaroor rep nie
  • Iemand is ‘n kapokhaantjie = eiewys, veglustige, parmantige klein persoontjie
  • Lyk soos ‘n haan waarvan die stertvere uitgetrek is = lyk bedremmeld, verwaarloos
  • Moenie jou kom haantjie hou by my nie = moenie so astrant wees in my teenwoordigheid nie
  • ‘n Haan by die werk (of by die dames) wees = ‘n flukse, kranige kêrel
  • Net ’n hanetreetjie = slegs ’n kort afstand
  • Sy haan moet (altyd) koning kraai = hy moet (altyd) sy sin kry, die grootste sê hê
  • Twee hane op een mishoop = gesê wanneer gesamentlike besit tot twis tussen twee mense lei

 

Haas:

  • Iemand is ‘n haas = dwaas, gek
  • So bang vir iemand soos ‘n haas vir ‘n hond = uitermate bang, baie bang
  • Slaap soos ‘n haas = baie lig slaap; op jou hoede wees

 

Hen:

  • Die eier wil slimmer wees as die hen = jou ouer, meerdere, ‘n deskundige wil leer
  • Die hen wat die eerste gekekkel het, het die eier gelê = hy wat die eerste melding maak van ‘n saak, weet die meeste daarvan af
  • ‘n Hen met spore = vroulike persoon wat haar soos ‘n man gedra
  • Rondloop soos ‘n hen wat nes soek = rusteloos dwaal sonder om iets uit te rig

 

Hoender:

  • As die hoenders tande kry = nooit
  • Die hoenders in maak/wees/word =  boos, vererg, kwaad maak
  • Gaan na die hoenders = loop in jou verstand
  • Iemand na die hoenders laat gaan = jou nie bekommer oor wat van hom word nie
  • Mal Jan onder die hoenders = gesê van ‘n enkele manspersoon tussen ‘n aantal dames
  • ‘n Hoender in die bank hê = grootdoenerig, windmakerig wees, bv. As jy so na sy praatjies luister, sou jy sweer hy het ‘n hoender in die bank.
  • Saam met die hoenders gaan slaap = baie vroeg gaan slaap
  • Sy lyk of die hoenders haar kos afgeneem het = beteuterd
  • Soos ‘n natgereënde hoender lyk = beteuterd, verleë
  • Vir iemand die hoenders in wees = vir iemand baie kwaad of vies wees

 

Hond:

  • Agter elke hond aan blaf = ander napraat sonder om ‘n eie mening te hê
  • As ‘n mens ‘n hond wil slaan, kry jy maklik ‘n stok = as jy iemand leed wil aandoen, kan jy maklik ‘n kamtige rede vind om dit te doen 
  • Baie honde is ‘n haas se dood = deur samewerking word veel uitgerig
  • Bekend soos die bont hond = alom berug
  • Blaf met die honde en huil met die wolwe = met persone van verskillende menings saampraat
  • Blaffende honde byt nie = hy dreig meer as wat hy werklik doen
  • Dag hond! = teregwysing aan iemand wat nie dag gesê het nie
  • Dankie hond! = teregwysing aan iemand, veral ‘n kind, wat nie dankie gesê het nie
  • Die hond in die pot kry = te laat wees vir ete
  • Dis nie om die hondjie nie, maar om die halsbandjie = daar is ‘n ander rede of motief as wat voorgegee word
  • Dit weet die hond se stert = almal weet dit — as afjak bedoel
  • Deur jou eie honde gebyt word = deur jou eie mense benadeel word
  • Dooie honde byt nie = dié wat dood is, is onskadelik
  • Eie honde byt die seerste = jou eie mense kan jou die meeste leed besorg
  • Elke hond is baas op sy eie werf = elkeen voer gesag op sy eie gebied
  • Elke hond kry sy dag = elkeen kry sy dag van geluk, teëspoed, of vergelding
  • Hond se gedagtes kry = agterdogtig raak
  • G’n hond kan dit hou nie = niemand kan dit verduur nie
  • G’n hond kan dit vreet nie = dit is baie sleg — van oneetbare kos gesê
  • Groot (kwaai) honde byt nie sommer nie = sterk teëstanders laat mekaar met rus
  • Haastige hond verbrand sy mond = gesê wanneer iemand oorhaastig te werk gaan en sake verbrou
  • Iemand is ‘n hond = veragtelike persoon; skurk
  • Iemand soos ‘n hond behandel = iemand baie sleg behandel
  • Jy kan ‘n hond die blaf nie belet nie = jy kan ‘n mens nie belet om sy mening uit te spreek nie
  • Kom ‘n mens oor die hond, dan kom jy oor die stert = as jy oor die ergste moeilikheid kom, kan jy oor die kleinere ook kom
  • Kommandeer jou honde en blaf self = doen self wat jy aan ander opdra
  • Lyk asof die honde sy kos afgeneem het = verleë, beteuterd lyk
  • Lyk soos ‘n hond wat vet gesteel het = sku, verleë, beteuterd lyk as gevolg van skuldgevoel
  • Met alle honde saampraat = almal napraat
  • Met onwillige honde kan mens g’n hase vang nie = met onwillige werkers bereik ‘n mens nie jou doel nie
  • Moenie slapende honde wakker maak nie = dinge wat moeilikheid kan veroorsaak, moet liefs verswyg word
  • ‘n Hond keer tot sy eie braaksel terug = iemand keer terug na wat hy vroeër verfoei het
  • ‘n Hondelewe lei = ‘n ellendige bestaan voer
  • Nie hond haaraf maak nie = niks uitrig nie
  • Oor die hond se stert wees = oor die ergste of die moeilikste wees
  • Praat ‘n hond uit ‘n bos uit = iemand wat aanhoudend praat
  • So siek soos ‘n hond wees = baie siek wees
  • Soos kat en hond lewe = in onenigheid lewe, voortdurend rusie maak — veral van man en vrou gesê
  • Twee honde veg om een been, die derde loop daarmee heen = twee mense of partye twis oor iets en ‘n derde trek die voordeel daaruit
  • Vir die kat kwaad wees en die hond skop = jou op ‘n onskuldige persoon wreek as jy kwaad is
  • Wors in ‘n hondestal soek = iets soek waar jy dit nie sal kry nie


Jakkals:

  • Dit gaan op ‘n jakkalsdraffie = dit gaan redelik goed, of nie te goed en nie te sleg nie
  • Dit is die klein jakkalsies wat die wingerde verniel = klein foutjies veroorsaak groot moleste
  • Hoe kaler jakkals, hoe groter stert = wie die minste besit, wil die meeste spog
  • Iemand is ‘n jakkals = ‘n listige, skelm persoon
  • Jakkals prys sy eie stert = gesê van ‘n persoon wat homself prys
  • Jakkals sê die druiwe is suur = gesê van iemand wat minagtend praat oor iets wat buite sy beheer is
  • Jakkals trou met wolf se vrou = die son skyn terwyl dit reën
  • Jakkals verander van hare maar nie van snare nie = ‘n skelm mens verander uiterlik maar nie innerlik nie
  • Jakkalsdraaie maak/gooi/loop = slim uitvlugte uitdink
  • ‘n Kaal jakkals = persoon wat niks besit nie
  • Vir jakkals skaapwagter maak = die grootste skelm ‘n verantwoordelike pos gee

 

Kalf:

  • As die kalf verdrink is, demp hulle die put = hulle herstel ‘n fout as dit te laat is
  • Die gemeste (vetgemaakte) kalf slag = iemand rojaal onthaal
  • Die goue kalf aanbid = rykdom najaag; kruiperige hulde aan ryk mense bewys
  • Die kalf is in die put = die werk moet dringend gedoen word al is dit ons op hierdie tydstip nie geoorloof om dit te doen nie, veral gesê van iets wat noodwendig op ‘n Sondag moet klaar kom
  • Iemand is ‘n kalf = dommerige, goedhartige persoon, bv. So ‘n kalf kan jy enigiets wysmaak. 
  • Jong kalwers inspan = opbring, vomeer
  • Met ‘n ander man se kalf (kalwers) ploeg = die kennis, middele of planne van ander só aanwend asof dit jou eie is
  • Nie al jou kalwers in die hok hê nie = nie heeltemal reg wees nie
  • Oor koeitjies en kalfies praat = oor alledaagse dinge praat

 

Kalkoen:

  • Nie onder ’n kalkoen uitgebroei wees nie = nie so dom wees as ‘n ander miskien sal dink nie
  • So parmantig soos ‘n kalkoenhaantjie = oordrewe parmantig
  • So rooi soos ‘n kalkoen = baie rooi in die gesig

 

Kat:

  • As die kat dik is, smaak die muis bitter = as iemand genoeg geëet het, smaak die kos nie meer lekker nie
  • As die kat weg is, is die muis baas = as die baas (die ouers) weg is, maak sy werkers (die kinders) nes hulle wil
  • Daar is meer as een manier om ‘n kat dood te maak = ‘n mens kan ‘n saak op verskillende maniere aanpak en tog ‘n sukses daarvan maak
  • Die kat aan die stert beet hê = verkeerd wees
  • Die kat die bel aanbind = die gevaarlike en onpresierige in ‘n onderneming of stryd doen
  • Die kat in die donker knyp = in die geheim stoutighede aanvang
  • Die kat uit die boom kyk = dinge eers goed deurkyk voordat jy iets aanpak (byvoorbeeld voordat jy ’n transaksie beklink)
  • Geen katjie om sonder handskoene aan te pak nie = ‘n baie moeilike persoon — veral van die vroulike geslag
  • Gooi die kat in die duiwehok = veroorsaak ‘n groot konsternasie
  • Jou ‘n kat in die sak koop = ‘n slegte koop sluit; jou laat verkul
  • Hy is ‘n ramkat = ‘n flink, bekwame kêrel in sy werk
  • Hy kerm soos ‘n kat oor ‘n derm = oor onsin kla en neul
  • Hy lyk of die katte sy kos afgeneem het = hy is terneergeslae of stil; sien daar verleë uit
  • Jy het die kat aan die stert beet = jy het nie ‘n benul wat hier aangaan nie; jy weet niks
  • ‘n Kat kan ook na ‘n koning kyk = die eenvoudigste mens het ook sekere regte
  • ‘n Kat val altyd op sy pote = hy red hom altyd uit die moeilikheid
  • Nie ‘n kat se kans hê nie = geen kans op sukses hê nie
  • Om iets draai soos ‘n kat om warm pap — iets baie graag wil hê, maar skrikkerig wees om dit te neem
  • Snags is alle katte grou = in die donker lyk al die meisies eenders, en kan mens nie sien of hulle mooi is nie (seksisties)
  • So nat soos ‘n kat = baie nat, papnat
  • So welkom soos ‘n kat in ‘n melkkamer = baie onwelkom
  • Soos kat en hond lewe = in onenigheid lewe, voortdurend rusie maak  — veral van man en vrou gesê
  • Soveel van iets weet as ‘n kat van saffraan = daar niks van weet nie
  • Sy is ‘n kat = vals of snipperige vrou of meisie
  • Sy is ‘n lekker katjie = aangename nooi — soms neerhalend gebruik
  • Vir die kat kwaad wees en die hond skop  = jou op ‘n onskuldige persoon wreek as jy kwaad is

 

Koei:

  • Die koeie loop in die brand = skertsende verskoning as koffie of tee sonder melk aangebied word
  • Dis nie die koei wat die hardste bulk wat die meeste melk gee nie = lawaaimakers rig die minste uit
  • Hy is nie so groen dat ‘n koei hom sal vreet nie = hy is nie so dom as wat ‘n mens dink nie
  • Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie = moenie ou griewe, skandes of moeilikhede weer oprakel
  • ‘n Mens kan ‘n koei nie belet om te bulk nie = die natuur moet sy beloop hê
  • ‘n Mens noem nie ‘n koei bont as daar nie ‘n vlekkie aan is nie = skinderpraatjies is meestal oordrewe, maar tog nie heeltemal sonder grond nie
  • ‘n Koei kan moontlik ‘n haas vang = wat onmoontlik lyk, kan tog gebeur
  • ‘n Waarheid soos ‘n koei = iets wat baie vanselfsprekend is
  • Oor koeitjies en kalfies praat = oor alledaagse sakies gesels

 

Kraai:

  • Al moet die kraaie dit uitbring = die saak sal tog bekend word
  • Deur die kraaie bespreek wees = gesê van ‘n baie maer dier
  • Elke swart kraai dink sy eier is die witste = elkeen dink sy eie (veral kinders) is die beste
  • Kind nog kraai hê = geen enkele bloedverwant hê nie
  • Kraaie pik nie mekaar se oë uit nie = misdadigers sal mekaar nie verraai of benadeel nie
  • Lyk of die kraaie jou kos afgeneem het = bek-af lyk
  • ‘n Sittende kraai aas niks nie = deur op een plek te bly sit, verdien jy niks
  • So maer soos ‘n kraai = brandmaer, baie maer
  • So warm dat die kraaie gaap = snikwarm
  • Soos die kraai vlieg = in ‘n reguit lyn, bv. Soos die kraai vlieg is hulle 3 km hiervandaan, maar met die pad is dit goed 10 km. 
  • Voel soos ‘n kraai met pouvere = baie ongemaklik, ontuis voel

 

Lam:

  • Moeder se lammetjie = liefkosende naam vir ‘n kind
  • Soos ‘n lam ter slagting gelei word = sonder verset jou dood (op geweldadige wyse) tegemoetgaan

 

Leeu:

  • Die leeueaandeel kry = die grootste, die belangrikste gedeelte ontvang
  • Hy en die leeu was deurmekaar = hy is dronk
  • Iemand is ‘n leeu = iemand wat dapper, gevierd, buitengewoon bekwaam is, bv. ‘n Leeu in die die politiek; ‘n Leeu op die slagveld; ‘n Leeu in die akademiese wêreld.
  • So reg in die leeu se bek = in die grootste moeilikheid

 

Luis:

  • So kaal soos ‘n luis = baie arm

 

Mossie:

  • Dood soos ‘n mossie = morsdood
  • Jou oor ‘n dooie mossie verheug = bly wees oor iets onbeduidends
  • Mossie maar man = gesê van ‘n klein persoontjie wat hom deur dapperheid, uithouvermoë, intelligensie ens. onderskei

 

Muggie:

  • Die muggie uitsif, maar die kameel insluk = op kleinighede let, maar op belangrike, ernstige dinge geen ag slaan nie; iets wat onskuldig is, veroordeel, maar ‘n groot sonde sonder enige skaamte begaan
  • Muggie maar man = gesê  van ‘n kleinerige persoon wat baie sterk is, liggaamlik of geestelik
  • Van ‘n muggie ‘n olifant maak = iets sterk oordryf

 

Muis:

  • As die kat weg is, is die muis baas = as die baas (die ouers) weg is, maak sy werkers (die kinders) nes hulle wil
  • As die muis dik is, is die meel bitter = as ‘n mens genoeg geëet het, vind jy die kos nie lekker nie
  • Die berg het ‘n muis gebaar = dit waarna iemand so gretig uitgesien het, het toe op niks uitgeloop nie
  • ‘n Muis het ‘n stertjie = gesê van iets wat ‘n onaangename nasleep het
  • Haar kop is vol muisneste = sy is so verlief dat sy net die hele tyd aan haar kêrel dink
  • Klein muisies het groot ore = kinders luister fyn en ‘n mens moet versigtig wees wat jy voor hulle sê
  • Met man en muis vergaan = sodat niemand gered word nie

 

Muishond:

  • Iemand soos ‘n muishond behandel = veragtend, asof hy sleg ruik

 

Olifant:

  • Hy is ‘n ronkedoor = ongesellige manspersoon (‘n Ronkedoor is ‘n alleenloperolifant wat uit die trop verstoot is.)
  • ‘n Wit olifant = ‘n lastige besitting wat van weinig nut is en hoë onderhoudskoste vereis
  • Van ‘n muggie (vlieg) ‘n olifant maak = iets sterk oordryf


Os:

  • Agteros kom ook in die kraal = die stadige werker of persoon kom darem ook klaar
  • Eerlik het ‘n os geslag = word gesê wanneer ‘n persoon voorgee om eerlik te wees, maar ons dit nie glo nie
  • Jong osse inspan = vomeer, opbring
  • Nie al jou ossies in die kraal hê nie = half mal wees, nie by jou volle verstand nie
  • Soos ‘n os neerslaan = geweldig hard val
  • Van die os op die jas (esel) = gesê deur ‘n spreker voordat hy die huidige gespreksonderwerp los en iets heeltemal anders aanroer

 

Padda:

  • ‘n Opgeblaasde padda = verwaande persoon
  • ‘n Padda in die keel = hees wees
  • So waar as padda manel dra = uitdrukking ter versterking van wat gesê is
  • Van ‘n padda vere probeer pluk = gesê van iets wat onmoontlik is

 

Papegaai:

  • Iemand is ‘n papegaai = naprater, bv. Hy klink soms intelligent, maar eintlik is hy net ‘n papegaai. 

 

Perd:

  • As die perde horings kry = nooit
  • Die beste perd struikel ook wel = elkeen kan ‘n fout maak
  • Die kar voor die perde span = ‘n saak verkeerd, agterstevoor aanpak
  • Die maerste perd skop die seerste = wat ‘n mens die minste verwag, gebeur dikwels
  • Die oog van die meester maak die perd vet = as mens self jou sake bestuur, vaar jy die beste
  • Die perd ruik sy stal = begin vinniger loop, span hom meer in
  • Die perd se stert afpraat = geweldig baie babbel
  • Die perd wat die hawer (voer) verdien, kry die strooi = dié wat die hardste werk, kry dikwels die minste beloning
  • Die perdjie het maar net gespring = gesê aan ‘n klein kind om hom te paai as hy geval het
  • Die Trojaanse perd inbring = sonder om dit te merk, self die vyand of die gevaar inbring
  • Die voorperdjie wees = die eerste in kwaaddoen wees
  • Die wit perde = skuimende golwe
  • Hy is altyd voorperd = die leier, die belhamel
  • Iemand is baie gou op sy perdjie = hy word gou kwaad
  • Iemand is oor sy perdjie getel = gesê van iemand wat te veel geprys word
  • Jy kan ‘n perd by die water bring, maar hom nie dwing om te suip (drink) nie = gesê van iets wat nie deur dwangmiddele bereik kan word nie
  • ‘n Gegewe perd moet jy nie in die bek kyk nie =  ‘n geskenk moenie gekritiseer word nie
  • ‘n Perd met vier pote struikel, laat staan (wat van)  ‘n mens met een tong = elke persoon verspreek hom partymaal
  • ‘n Verkeerde perd opsaal = iets verkeerds begin; ‘n verkeerde koers inslaan
  • Ou perd! = uitroep van bewondering
  • Pure perd! = uitroep van bewondering
  • Pure perd voel = baie gesond, fiks
  • Ryperd! = ‘n uitdrukking van bewondering of spot
  • Siekte kom te perd, dog vertrek te voet = ‘n mens word gouer siek as gesond
  • Trou is nie perdekoop nie = trou is ‘n ernstige stap

 

Perdeby: 

  • Sy het ‘n perdebylyfie = baie dun middeltjie, soos dié van ‘n perdeby

 

Rot:

  • Iemand is ‘n ou rot = ou kalant; geslepe persoon
  • Jou oor ‘n dooie rot verheug = oorhaastig bly wees oor iets

 

Seekoei:

  • Dis net die oortjies van die seekoei = wat aan ons bekend is, is slegs ‘n baie klein deeltjie van die volle waarheid of die eintlike probleem

 

Sekretarisvoël:

  • Sektretarisbene = lang, maer, dun bene soos dié van ‘n sekretarisvoël

 

Skaap:

  • As een skaap deur die hek is, volg al die ander = as een die voorbeeld gee of voorgaan, volg almal
  • Baie mak skape gaan in een kraal = ‘n klomp vreedsame mense woon maklik saam
  • Die bokke van die skape skei = goddeloses van die vromes skei
  • Die swart skaap van die familie = persoon wat die ander lede van die familie in die skande steek, hulle tot oneer strek
  • Een brandsiek skaap steek die hele trop aan = die slegte voorbeeld van een enkele persoon kan ‘n hele gemeenskap op die verkeerde pad bring
  • Hulle het hulle skapies in een klomp (kraal) = hulle is getroud
  • Hulle moes onder die skaapstert deurloop = hulle moes gestraf word
  • Hy jaag skape = hy het te veel gedrink
  • ‘n Verlore skaap = iemand wat van die regte spoor afgewyk het; ‘n afgedwaalde
  • Skapies bymekaar jaag = gaan trou
  • Sy skapies op die droë hê = genoeg besit om sorgeloos te kan lewe

 

Skilpad: 

  • Die skilpad het gou in sy dop gekruip = ‘n minder hoë toon aanslaan
  • Soos ‘n skilpad loop = baie stadig loop
  • Vere van ‘n skilpad probeer pluk = wat onmoontlik is, probeer doen

 

Slang:

  • Daar is ‘n slang in die gras = daar skuil gevaar; die omstandighede lyk verdag
  • Iemand is ‘n slang = venynige, boosaardige persoon
  • ‘n Slang aan jou boesem koester = ‘n skurk met weldade oorlaai
  • Sy kon slange vang = sy was woedend
  • Was dit ‘n slang dan het hy jou lankal gebyt (gepik) = gesê teen iemand wat vlak by ‘n voorwerp is wat hy soek, sonder om dit te sien

 

Swaeltjie:

  • Een swaeltjie maak nog geen somer nie = een goeie teken is nie genoeg nie; uit een enkele geval kan nie ‘n algemene gevolgtrekking gemaak word nie

 

Uil:

  • Hy dink sy uil is ‘n valk = hy meen dat syne die beste is
  • Iemand is ‘n uiloog = iemand met groot ronde oë en donker wenkbroue
  • Iemand is ‘n uilskuiken = dom
  • Iemand is uilagtig = onnosel, bv. Hy gedra hom uilagtig.
  • Lyk soos ‘n uil op ’n kluit = eensaam, verleë en onnosel oorkom
  • ‘n Uil tap = ‘n grap maak
  • ‘n Uiltjie knip = ‘n rukkie insluimer; dut
  • Nie onder ‘n uil uitgebroei nie = nie so dom wees as ‘n ander miskien sal dink nie
  • Soos ‘n uil op ‘n kluit = heeltemal alleen en verleë voel
  • Uil onder die kraaie = voorwerp van bespotting
  • Uile na Athene bring = onnodige werk doen
  • Uilskuiken =’n dwaas, domkop

 

Valk:

  • Iemand met ‘n valkoog dophou = iemand goed dophou

 

Vark:

  • Daar soveel van weet as ‘n vark van politiek (godsdiens) = heeltemal niks daarvan weet nie
  • Hy kan nie vark vang nie = hy het hoepelbene
  • Iemand jaag varke aan = dronk wees
  • Iemand is ‘n vark = morsige, vuil persoon
  • Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou = as jy met slegte mense omgaan, word jy ook sleg
  • Met die hele vark gooi = grof lieg; erg oordryf
  • Nie al sy varkies in die hok hê nie = effens mal wees
  • Skree soos ‘n maer vark = baie hard skree
  • Sy bont varkie is weg = hy is effens mal
  • Varke skuur hulle modder teen pilare af = slegte mense beklad fatsoenlikes

 

Verkleurmannetjie:

  • Iemand is ‘n verkleurmannetjie = ‘n persoon wat kort-kort sy sienswyse verander
  • So deurmekaar soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartie-boks = baie deurmekaar

 

Vis:

  • Botter by die vis = kontant betaal
  • Drink soos ‘n vis = baie sterk drank drink
  • In troebel water vis = wins probeer kry uit ander se moeilikhede of probleme
  • Op die droë grond visvang = tevergeefs probeer om iets uit te vind
  • Sit en visvang = aan die slaap wil raak
  • So fris soos ‘n vis = baie gesond
  • So lewendig soos ‘n vis = baie opgewek
  • Soos ‘n vis op droë grond = heeltemal magteloos
  • Vis moet swem = as ‘n mens vis geëet het, wil jy iets drink

 

Vlieg:

  • Ek kom nie om vlieë te vang nie = kom nie om dowe neute nie, kom met ‘n doel
  • Geen vlieg enige kwaad aandoen nie = besonder goedhartig wees
  • Iemand ‘n vlieg afvang = iemand uitoorlê, voorspring
  • Lyk soos ‘n vlieg wat in karringmelk geval het = spierwit aangetrek wees
  • ‘n Arend vang nie vlieë nie = ‘n hoogstaande persoon steur hom nie aan ‘n kleinsielige se kritiek nie
  • ‘n Hand vol vlieë = iets wat baie onseker is of weinig waarde het
  • ‘n Vlieg in die salf = iets of iemand wat moeilikheid maak of onaangenaamheid veroorsaak
  • Twee vlieë in (met) een klap slaan = twee dinge tegelyk doen
  • Van ‘n vlieg ‘n olifant maak = vergroot, oordryf
  • Vlieë vang = met ‘n oop mond sit

 

Voël:

  • Een voël in die hand is beter as tien in die lug = wat seker is, bo die onsekere verkies
  • Ek het ‘n voëltjie hoor fluit = ‘n gerug gehoor
  • Elke voël sing soos hy gebek is = elkeen handel volgens sy eie insigte
  • Is daar ‘n voëltjie onder jou hoed?  = gesê aan iemand wat met sy hoed op die kop die huis ingestap kom
  • ‘n Ou voël met kaf probeer vang = ‘n bedrewe persoon probeer kul
  • So vry soos ‘n voëltjie op ‘n takkie = heeltemal vry wees
  • Solank die voël vlieg, kan enigeen skiet = solank ‘n meisie ongetroud is, kan enigeen by haar gaan vlerksleep
  • Soos die voël vlieg = reguit na ‘n plek, sonder ompaaie, bv. Soos die voël vlieg is hulle 3 km hiervandaan, maar met die pad is dit byna 10 km. 
  • Soos ‘n voël op ‘n tak sit = sonder vaste woonplek wees; ‘n onbestendige lewe lei
  • Voëls van eenderse vere = gesê van persone wat dieselfde geaardheid het

 

Volstruis:

  • Iemand is soos ‘n volstruis, waar hy kom is hy tuis = hy maak hom gou tuis by vreemde mense
  • ‘n Volstruis-maag hê = gesê van iemand wat enigiets kan eet sonder om siek te word
  • ‘n Volstruispolitiek volg = soos ‘n dwaas sy oë sluit vir die waarheid

 

Wolf: 

  • Blaf met die honde en huil met die wolwe = met persone van verskillende menings saampraat
  • Iemand is ‘n nagwolf = persoon wat tot diep in die nag werk of plesier soek
  • Iemand is ‘n wolf = persoon wat ‘n ander se ondergang bewerk
  • Met die wolwe in die bos huil = maak soos jou maats maak; saamgaan met die meerdere
  • ‘n Wolf in skaapklere = ‘n skurk met ‘n onskuldige voorkoms; skynheilige mens
  • Soos ‘n wolf eet = gulsig eet
  • Wolf skaapwagter maak = ‘n skurk of onbetroubare persoon te veel vertrou


 

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar