Disleksie: Kenmerke, Tipes, Oorsake en Hulp

Wat is disleksie?

Die term disleksie is saamgestel uit twee Griekse woorde dys en lexis wat letterlik “swak met taal” beteken, en word gebruik om te verwys na iemand vir wie lees eenvoudig bokant sy vuurmaakplek is. Spel en skryf, as gevolg van die nou verband wat dit met lees het, word gewoonlik hierby ingesluit.

Die outydse (en dalk nog populêre) siening is dat disleksie ‘n fisiese versteuring in die brein is wat veroorsaak dat inligting verkeerd verwerk en geïnterpreteer word, wat dan lei tot leesprobleme. Histories is die disleksie-etiket toegeken aan leerders wat ‘n gemiddelde tot ‘n bogemiddelde IK het, en ten spyte van “voldoende” leergeleenthede ‘n ernstige leesagterstand het. Kinders wat sukkel met lees, wie se IK laag is, se leesprobleme is toegeskryf aan hulle intellektuele beperkinge.

Dan is daar bepaalde simptome, soos omkering van letters soos en of en q, of die persoon lees of skryf byvoorbeeld tak vir kat of sak vir kas.

Is omkerings die enigste kenmerk van disleksie?

Beslis nie. Baie persone wat met disleksie gediagnoseer word maak nie omkerings nie. Hier is ‘n lys van ander kenmerke:

      • ‘n Ander teken is weglatings — wanneer ‘n kind “staf” lees of skryf wanneer die woord eintlik “straf” is.
      • Plaas letters in die verkeerde volgorde en lees of skryf byvoorbeed emelent vir element, snik vir niks, en tekel vir ketel.
      • Lees klein woordjies verkeerd byvoorbeeld ‘vir nievir i.p.v. vanmet vir meer.
      • Raak gedisoriënteerd met ’n reël of op ’n bladsy terwyl hy lees, mis reëltjies of herhaal wat reeds gelees is.
      • Hardoplees is hakkelrig, woord-vir-woord, monotoon.
      • Probeer die letters van die woord klank maar kan dan nie die korrekte woord sê nie. Sal byvoorbeeld die letters ‘k-a-t’ klank, maar dan koud sê.
      • Spreek woorde verkeerd uit, of plaas klem op verkeerde lettergrepe.
      • Verkort woorde byvoorbeeld porsie vir proporsie.
      • Weglating van voorvoegsels, weglating van agtervoegsels of byvoeging van agtervoegsels.
      • Lees met swak begrip.
      • Onthou nie veel van wat gelees is nie.
      • Kan nie die regte letter by ’n gegewe klank pas nie.
      • Ignoreer gereeld leestekens, laat punte en kommas uit.

Hoe lyk disleksie?

Hieronder is die handskrifte van ‘n graad 1-leerder, ‘n graad 4-leerder en ‘n volwassene persoon, almal met ‘n ligte graad van disleksie:

disleksie-01

disleksie-02

Hoeveel mense het disleksie?

Dit hang van jou definisie af. Die statistieke wissel van 3% tot 40%. Die mees algemene persentasie wat gegee word is 10%. Wat redelik seker is, is dat meer seuns as meisies met leesprobleme worstel.

Wat is die emosionele impak van disleksie?

Disleksie word dikwels as baie verwarrend en frustrerend beleef. Die kind kan hoogs intelligent wees en vakinhoude ten volle verstaan, maar vanweë die probleem nie in staat wees om toetse en eksamens te slaag nie. Soms is onderwysers nie opgelei om hierdie spesifieke tekortkoming te hanteer nie. Dit gebeur dus dat die disleksielyer binne die skoolstelsel onderwerp word aan vernedering en spot. Dit veroorsaak angs, wat kan lei tot onttrekking aan hierdie situasies, of oorkompensasie op ander gebiede.

In ‘n studie oor die emosionele impak wat disleksie op kinders uitoefen, het Janis Edwards bevind dat hierdie kinders hul ontevredenheid met die situasie dikwels wys deur stokkies te draai of te weier om skool by te woon. Hulle vind dit moeilik om te kommunikeer en voel afgesonder en alleen. Gevoelens van mislukking, nutteloosheid en depressie is algemeen. Hierdie gevoelens kom uiteindelik uit in die vorm van gedragsprobleme. Gedragsprobleme sluit aggressiewe optrede en bakleiery, vandalisme, ontwrigting van die klas, vyandigheid jeens onderwysers en so meer in.

Die negatiewe ondervindings waaraan disleksielyers blootgestel word, kan verreikende gevolge hê vir hul verdere lewe. Navorsing het byvoorbeeld bewys dat daar ‘n noue verband is tussen ongeletterdheid en misdaad. Volgens die VSA se Departement van Onderwys het 85% van alle jeugmisdadigers leesprobleme. In die volwasse bevolking is 60% van alle gevangenes funksioneel ongeletterd, wat beteken dat hulle nie goed genoeg kan lees of skryf om aan die daaglikse lewensvereistes te voldoen nie.

Is disleksie ongeneeslik? 

Mens hoor en lees dikwels dat disleksie ongeneeslik is: “Dyslexia is like alcoholism…it can never be cured” (Clark, M., & Gosnell, M., “Dealing with dyslexia,” Newsweek, 22 March 1982, 55-56.)

Die siening dat disleksie ongeneeslik is, is die gevolg van ‘n aanname dat die brein nie kan verander nie, laat staan nog verbeter. Mense het geglo as daar iets verkeerd is met ‘n persoon se brein, daar niks gedoen kan word om dit reg te maak nie. Wetenskaplikes het geglo dat elkeen van ons gebore word met ‘n vasgestelde aantal breinselle, en as enige van daardie selle seerkry, kan die skade nie herstel word nie. G’n wonder dat leerprobleme soos disleksie, wat met die brein te doen het, vir baie jare as ongeneeslik beskou was nie!

Teen die draai van hierdie eeu het nuwe metodes dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak om in die brein te sien en het dit geblyk dat die brein plasties is: Nuwe verbindings of herbedrading tussen neurone kan vorm en die interne struktuur van die bestaande sinapse kan verander. Nuwe neurone word ook voortdurend gebore, veral in die leer- en geheue-sentrums. As jy ‘n kundige op ‘n sekere gebied raak, dan groei die deel in jou brein wat daarmee te make het. Of, as ‘n persoon breinskade aan die linkerkant van die brein opdoen, wat gewoonlik die taalsentrum van die brein is, kan die regterkant van die brein daardie funksies oorneem.

Met fMRI-skanderings ensovoorts is nou bevestig dat daar wel (soos altyd geglo is) verskille is tussen die breine van dislektiese persone en mense wat goed kan lees. Maar dieselfde verskille word ook by swak lesers met ‘n lae IK waargeneem, wat daarop dui dat IK nie ‘n geldige maatstaf vir die diagnose van disleksie is nie.

Die resultate van daaropvolgende studies dui ook daarop dat ons dalk die oorsaak-gevolg verhouding moet omdraai, met ander woorde dat hierdie breinverskille nie die oorsaak van leesprobleme is nie, maar wel die gevolg.

‘n Aanlyn publikasie van die Journal of Neuroscience berig oor navorsing waarin die breine van kinders met disleksie vergelyk is met twee ander groepe kinders: ‘n groep van dieselfde ouderdom sonder disleksie en ‘n groep jonger kinders op dieselfde leesvlak as die met disleksie. Die kinders met disleksie het minder grysstof as die groep met dieselfde ouderdom gehad, maar wel dieselfde grysstof as die jonger kinders op dieselfde leesvlak.

Volgens hoofnavorser Krafnick beteken dit dat die anatomiese verskille in die linkerkant van die brein ‘n gevolg van die leeservaring van die kinders is, eerder as ‘n oorsaak van disleksie.

Om op te som: Die brein van ‘n dislektiese persoon — en ook alle ander swak lesers — lyk anders as die gewone leser se brein, maar die breinverskille is nie die oorsaak van die leesprobleem nie. Dis die leesprobleem wat die breinverskille veroorsaak, en as ‘n dislektiese persoon leer om goed te lees, sal sy of haar brein verander om uiteindelik soos die normale leser se brein te lyk. Selfs al sou daar in enkele gevalle ‘n breindisfunksie wees wat bydra tot die disleksieprobleem, weet ons vandag dat die brein wel kan herstel.

Edublox se beskouing, gebaseer op die die nuutste navorsing, is dat disleksie nie ‘n gestremdheid is nie, maar bloot ‘n onvermoë (dis nie ‘n ‘disability’ nie, maar ‘n ‘inability’), en dat dit oorkom kan word as mens die oorsaak daarvan aanspreek.

Wat veroorsaak disleksie?

Die situasie van ‘n kind met disleksie kan nie verstaan word tensy ons raaksien dat hy ‘n mens is nie. ‘n Belangrike kenmerk van die mens is dat hy niks weet en niks kan doen wat hy nie geleer het nie. Dit sluit natuurlik liggaamsfunksies soos asemhaal uit, sowel as reflekse, soos byvoorbeeld die oogrefleks wat meebring dat die oog geknip word wanneer ‘n voorwerp dit nader.

Tweedens moet ons verstaan dat leer ’n laagsgewyse reeks gebeure is. Een vaardigheid moet eers vasgelê word voor ons ’n daaropvolgende vaardigheid kan baasraak. Dis soos met ‘n leer opklim: sportjie vir sportjie, anders val jy.

Die manier waarop die skoolstelsel in alle lande ter wêreld georganiseer is, is inderdaad ‘n erkenning hiervan. ‘n Mens kan nie jou kind eers universiteit toe stuur nie. Hy moet by die eerste klas begin, en dan jaar na jaar vorder na hoër vlakke van onderwys. Aan die einde van elke jaar word daar van die kind verwag om bewys te lewer — gewoonlik deur ‘n eksamen te slaag — dat hy genoeg van die kennis wat gedurende die jaar aan hom voorgehou is, bemeester het, sodat dit ‘n stewige grondslag sal vorm waarop die kennis van die daaropvolgende jaar gebou kan word.

‘n Verdere eenvoudige en praktiese voorbeeld is die feit dat ‘n kind eers geleer moet word om te tel, voordat dit moontlik word om hom te leer om op te tel en af te trek.

Veronderstel daar was ‘n kind wat nog nie geleer tel het nie. As ‘n mens hom sou probeer leer om op te tel of af te trek, sou ‘n mens vind dat dit onmoontlik vir so ‘n kind is om sulke berekeninge te doen, ongeag hoeveel moeite gedoen word. As ‘n mens egter die kind eers sou leer tel, sou dit daarna redelik maklik wees om hom te leer optel en aftrek. Dit bewys dat die vaardigheid van tel ‘n voorvereiste is vir die bemeestering van die vaardigheid om op te tel en af te trek.

Hierdie beginsel, dat leer ‘n laagsgewyse gebeure is, kan ook aan die hand van enige sportsoort, soos byvoorbeeld yshokkie, verduidelik word. Voordat ‘n persoon yshokkie kan speel, moet hy eers leer om baie goed te skaats. Nadat hy geleer het om vorentoe te skaats, moet hy ook leer om agteruit te skaats en om binne ‘n oogwink te kan stop of van rigting te verander. Wanneer hy hierdie vaardighede so goed bemeester het dat hulle as’t ware geoutomatiseerd geraak het, is hy gereed vir die volgende vlak, naamlik om al die elemente, waaruit yshokkie bestaan, te bemeester. Dan kan hy begin leer om die rubberskyf met sy yshokkiestok te beheer, om dit uit te gee en te skiet, en om sy opponent te stamp of te skouer. Nadat hy al hierdie vaardighede bemeester het en intussen ook die reëls van die spel geleer het, kan hy begin om hierdie vaardighede in die spelsituasie toe te pas.

Net soos wat daar ‘n verskeidenheid van vaardighede is wat ‘n voorvereiste vir yshokkie is, so is daar ‘n verskeidenheid vaardighede waarop lees en spel berus en wat ‘n kind moet baasraak voor hy kan leer lees en spel.

Jy sê disleksie word veroorsaak deur ‘n tekort aan vaardighede. Watter vaardighede is ter sprake?

Terwyl taalvaardigheid die onderste sportjie van die leesleer is, is kognitiewe vaardighede die volgende een. Daar is ’n hele klomp kognitiewe vaardighede wat onontbeerlik is vir lees en spel:

AANDAG

Aandag, of konsentrasie, speel ‘n krities belangrike rol in leer. Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word. Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.

VISUELE PROSESSERING

Visuele prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit die inligting wat ons sien. Dis anders as probleme wat sig of visie insluit. Probleme met visuele prosessering affekteer die interpretasie of verwerking van dit wat ons met ons oë waarneem. ’n Kind met visuele prosesseringsprobleme mag 20/20-visie hê, maar sukkel om te onderskei tussen voorgrond-agtergrond, vorms, grootte en posisie in die ruimte. Hy mag ook sukkel met sintese en analise.

• Voorgrond-agtergrond diskriminasie is die vermoë om voorwerpe op die voorgrond en agtergrond waar te neem en hulle sinvol te skei. ‘n Kind wat sukkel met voorgrond-agtergrond diskriminasie mag sy plek op die bladsy verloor, of kan nie sy plek op die bladsy kry en behou nie.

• Vormwaarneming kan beskryf word as die vermoë om vormverskille tussen onderskeie voorwerpe te kan waarneem. Dit is een van die mees basiese diskriminasies wat ‘n kind moet kan maak. Enige kind met swak vormwaarneming het beslis ‘n groot agterstand wanneer hy met skoolverwante aktiwiteite van enige aard gekonfronteer word. Daar is skaars enige akademiese aktiwiteit te bedink wat nie van die kind verwag om vormwaarnemings te maak nie

Die mees voor-die-handliggende klaskamer-aktiwiteit wat vormwaarneming van die kind vereis, is lees. Letters van die alfabet leer, lettergrepe en woorde aanleer sal ongetwyfeld moeilik wees as die kind probleme daarmee het om letters, lettergrepe en woorde se vorms te onderskei.

• Grootte-onderskeiding. Die kind met probleme in hierdie gebied mag sukkel om onderskeid te tref tussen ‘n hoofletter S en ‘n kleinletter s.

• Ruimtelike verhoudings verwys na die posisie van voorwerpe in ’n ruimte. Dit verwys ook na die vermoë om voorwerpe se verhouding tot ander voorwerpe akkuraat te bepaal. ’n Persoon met probleme op die gebied van ruimtelike oriëntering mag die moeilik vind om te onderskei tussen b,d, p en q.

• Sintese en analise behels die vermoë om ‘n voorwerp as ‘n geheel waar te neem, dit op te breek in dele en weer sinvol saam te voeg.

Die term visuele disleksie of diseidetiese disleksie word dikwels gebruik om ’n dislektiese persoon wat sukkel met visuele prosessering te beskryf.

OUDITIEWE PROSESSERING

Ouditiewe disleksie of disfonetiese disleksie, aan die ander kant, is terme wat gebruik word om ’n dislektiese persoon met ouditiewe prosesseringsprobleme te beskryf.

Ouditiewe prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit inligting wat gehoor word. Dis nie ’n onvermoë om te hoor nie, maar ’n onvermoë om dit wat gehoor word te interpreteer, te organiseer of te analiseer.

Probleme met ouditiewe persepsie kom oor die algemeen ooreen met die in die visuele area en ons onderskei tussen die volgende:

• Ouditiewe voorgrond-agtergrond differensiasie verwys na die vermoë om dit te selekteer waaraan ons aandag wil gee en te ignoreer wat nie relevant is nie.

• Ouditiewe diskriminasie verwys na die vermoë om te onderskei tussen eenderse en verskillende klanke.

• Ouditiewe sintese en analise. Ouditiewe sintese is die vermoë om klanke of lettergrepe saam te voeg tot ‘n woord. Die kind wat probleme het op hierdie gebied kan byvoorbeeld die klanke van die woord l-a-m-p apart uitspreek, maar kan die afsonderlike klanke nie saamvoeg om die woord lamp te vorm nie. Hy mag ook probleme ondervind met ouditiewe analise, oftewel die vermoë om die geheel van die woord wat ouditief waargeneem word, in sy afsonderlike (klank-) eenhede te analiseer (of op te breek); hy sal dus nie lamp kan klank nie.

PROSESSERINGSPOED

Prosesseringspoed verwys na hoe lank dit vat om dinge gedoen te kry.

Disleksie word verbind met stadige prosesseringspoed. Hermunder Sigmundsson en sy kollegas het twee simulasies van bestuurstoetse vir ses disleksie-lyers en elf ander persone laat uitvoer. Daar was padtekens en hulle het op nagebootsde plattelandse- en stadspaaie teen verskillende snelhede bestuur. Die span navorsers het waargeneem dat die dislektiese persone 20% stadiger reageer het op verkeerstekens op plattelandse paaie, en 30% stadiger op dié van stadspaaie, as die nie-dislektiese kontrole groep.

GEHEUE

Geheue is die stoor van inligting oor ’n tydperk. Alhoewel die woord ‘geheue’ ’n “alles-of-niks”-proses veronderstel, is dit duidelik dat daar verskillende tipes geheue is, elk tot ’n mate onafhanklik van die ander.

• Visuele geheue is die vermoë om visuele waarnemings te stoor en later, as die oorspronklike waarneming nie langer sigbaar is nie, weer te herroep. Dit beteken dat die persoon in staat moet wees om ‘n duidelike beeld van die stimulus, byvoorbeeld ‘n woord, in sy geestesoog te vorm, sodat wanneer die stimulus nie meer voorhande is nie, hy nogtans in staat is om dit duidelik en sonder enige hulp weer op te roep.

’n Goeie visuele geheue is onontbeerlik vir die opbou van ’n visuele “woordeboek” in die brein.

Goeie lesers kan woorde teen die spoed van lig erken wanneer hulle lees, omdat hulle die woorde in soort van visuele woordeboek geplaas het, sê Georgetown University Medical Center (GUMC) neurowetenskaplikes. Die visuele woordeboek-idee weerlê die teorie dat ons brein woorde klank elke keer wanneer ons dit sien.

GUMC-navorsers het die woordherkenning in 12 vrywilligers met behulp van fMRI-skanderings getoets. Die navorsers het bevind dat woorde wat verskillend is, maar dieselfde klink (soos “ly” en “lei”) verskillende neurone aktiveer. “As die klanke van die woord ‘n invloed gehad het sou dieselfde of soortgelyke neurone geaktiveer gewees het, maar dit was nie die geval nie. “Ly” en “lei” kon net sowel “ly” en “sop” gewees het. “Dit dui daarop dat, wanneer ons ‘n woord eers ken, die visuele inligting al is wat ons gebruik en nie die klanke nie,” het hoofnavorser Laurie Glezer verduidelik.

• Ouditiewe geheue veronderstel die vermoë om inligting wat mondelings aangebied word te prosesseer, te stoor en te kan weergee.

Volgens Cyndi Ringoen, ‘n Amerikaanse kundige op die gebied van breinontwikkeling, is ‘n swak ouditiewe korttermyngeheue dikwels die oorsaak van ‘n kind se onvermoë om met die klankmetode te leer lees.

“Die klankmetode is ‘n ouditiewe sisteem, en as daar tekortkominge in ouditiewe korttermyngeheue is, sal dit die kind verhinder om met die klankmetode te leer lees,” sê Ringoen.

• Reeksgeheue verwys na die herroep van items in ‘n spesifieke volgorde. In reekse soos die dae van die week, maande van die jaar, ‘n telefoonnommer, die alfabet en in tel is die volgorde van die elemente van kardinale belang.

Aangesien elke woord uit letters in ‘n spesifieke volgorde bestaan, is reeksgeheue sonder twyfel belangrik in die leesproses. Om te kan lees, moet ‘n mens die letters in volgorde waarneem, en ook onthou watter woord deur daardie lettervolgorde verteenwoordig word. Deur bloot die volgorde van die letters in name te verander, kan dit mane of amen word.

Baie leerders met leesprobleme het ‘n swak reeksgeheue. ‘n Studie, gepubliseer in die Journal of General Psychology (2012), het 33 dislektiese kinders en 33 normale lesers van dieselfde ouderdom met mekaar vergelyk en bevind dat die dislektiese groep se visuele en ouditiewe reeksgeheue beduidend swak was.

Nog ‘n studie, gepubliseer in die Archives of Clinical Neuropsychology (1999), het 24 persone met ouditiewe disleksie en 21 met visuele disleksie vergelyk met ‘n kontrole groep van 90 deelnemers. ‘n Swak ouditiewe reeksgeheue was waarneembaar in persone met ouditiewe sowel as visuele disleksie.

• Terwyl meeste studies op die gebied van disleksie op korttermyngeheue fokus, naamlik op die vermoë om ‘n klein hoeveelheid toeganklike inligting vir ‘n kort periode in die geheue te stoor, het navorsing bewys dat persone met disleksie ook sukkel met langtermyngeheue.

‘n Studie wat in 2010 in Dyslexia gepubliseer is, is gedoen deur 60 dislektiese kinders se prestasie op verbale en visueel-ruimtelike vlak te vergelyk met 65 normale lesers van dieselfde ouderdom. Die resultate van hierdie studie het daarop gedui dat die dislektiese kinders ‘n gebrek het aan kapasiteit ten opsigte van langtermyngeheue.

• Werkende geheue dui op die vermoë om verskeie feite of gedagtes tydelik in die geheue te hou terwyl ‘n probleem opgelos word, of terwyl ‘n taak uitgevoer word. Mens gebruik byvoorbeeld hierdie werkplek in jou brein wanneer jy getalle moet optel sonder die hulp van pen en papier of ‘n sakrekenaar.

‘n Navorsingstudie, gelei deur sielkundige Merav Ahissar, het 52 musikante bestudeer waarvan 24 dislekties was; die ander 28 was nie. Beide groepe was onderwerp aan ‘n verskeidenheid ouditiewe toetse. Alhoewel beide groepe ewe goed presteer het met die ouditiewe persepsie toetse, het die musikante wat dislekties is heelwat swakker gevaar in toetse wat ouditiewe werkende geheue getoets het.

‘n Ander belangrike en konsekwente bevinding is dat probleme op die gebied van werkende geheue veroorsaak dat kinders sukkel om te begryp wat hulle lees. Lees is ‘n ingewikkelde vaardigheid wat die gelyktydige aktivering van verskeie prosesse in die brein vereis.

LOGIESE DENKE

Logiese denke is die proses van redenering wat ons gebruik om tot ‘n gevolgtrekking te kom. Probleme en situasies waarby logiese denke betrokke is vereis struktuur, verbande tussen feite en aaneenskakeling van redenasies wat ‘sin’ maak.

Logiese denke gee lesers die vermoë om afleidings te maak, wat vereis dat ons dit wat ons weet gebruik om te probeer bepaal wat ons nie weet nie, of om ‘tussen-die-lyne’ te lees. Lesers wat afleidings kan maak gebruik leidrade uit die teks asook hulle eie ervarings om hulle te help ontsyfer wat nie direk gesê word nie. Logiese denke speel dus ook ‘n vername rol in leesbegrip.

Is disleksie dan nie oorerflik nie? 

Vele navorsers is van mening dat disleksie ‘n genetiese disfunksie is wat oorgeërf word van geslag tot geslag. As ondersteuning vir hierdie siening word vele studies voorgehou wat aandui dat daar dikwels ‘n familiegeskiedenis van disleksie is. Professor Beve Hornsby het byvoorbeeld bevind dat soveel as 85% van disleksielyers ‘n nabye familielid het wat soortgelyke probleme met lees en spel het of gehad het. Volgens een Amerikaanse studie verhoog die risiko dat ‘n kind ‘n leesprobleem sal hê viervoudig tot dertienvoudig, as een van die ouers ook so ‘n probleem gehad het.

‘n Mens mag egter nooit vergeet dat statistiese gegewens dikwels niks meer is as omstandigheidsgetuienis nie, en omstandigheidsgetuienis moet altyd geïnterpreteer word. Ongelukkig kan dit maklik verkeerd geïnterpreteer word.

Dit is dalk wenslik om ‘n voorbeeld te gee van hoe gevaarlik dit kan wees om gevolgtrekkings te maak op grond van statistieke alleen. Tot ‘n aantal dekades gelede is inwoners in bepaalde dorpe in Suid-Afrika toegelaat om boorgatwater as drinkwater te gebruik. In sommige van hierdie plekke het die boorgatwater veroorsaak dat die inwoners se voortande verkleur het. Behalwe as iemand in die huis valstande gedra het, was almal — pa, ma en kinders — se voortande gevlek. Trouens, die persentasie van kinders en ouers wat almal gekleurde voortande gehad het, was waarskynlik 100%. Soos reeds aangedui, was oorerflikheid egter nie die oorsaak van die verkleurde voortande nie, maar wel die omstandighede waarbinne die gesinslede geleef het en die unieke omgewing wat hulle gedeel het, in die sin dat almal dieselfde water gedrink het.

Een van die vernaamste besware teen studies oor die oorerflikheid van disleksie is dus dat die statistieke verkeerd geïnterpreteer word: die voorkoms van disleksie in families word nie noodwendig veroorsaak deur gene nie, maar kan ook veroorsaak word deur die unieke omgewing wat die individue deel.

Dat gene wel ‘n rol speel in menslike vermoëns en talente word nie ontken nie. Om te bepaal presies hoe groot die rol is wat gene speel en hoeveel die omgewing daartoe bydra, is egter onmoontlik. Neem byvoorbeeld ‘n man soos Mozart, wat een van die briljantste musici van alle tye was. Mozart se hele gesin was musici en vandat hy klein was, is hy blootgestel aan ‘n omgewing waar hy daagliks musiek gehoor het. Gestel nou net dat Mozart direk na geboorte deur ouers aangeneem is wat glad nie musiek gemaak het nie. Sou ons nog vandag geweet het van Mozart se bestaan? Dit is mootlik, maar dit is te betwyfel.

‘n Laaste vraag wat ons onsself moet afvra: selfs al sou dit wees dat disleksie oorgeërf word, bly die vraag nog of ‘n mens gedoem is tot mislukking omdat jy ‘n slaaf van jou gene is, of kan jy leer om dit te oorkom?

By Edublox glo ons dat die kind nie ‘n slaaf van sy gene is nie, maar sy leesprobleme kan oorkom.

Het Einstein disleksie gehad?

Om bewustheid vir disleksie te kweek het ondersteuningsgroepe die idee versprei dat vele beroemde mense, onder andere Albert Einstein, dislekties was. Die storie is soveel keer herhaal dat dit vandag as ‘n feit beskou word ten spyte daarvan dat die literatuur dit weerlê.

Dit word dikwels beweer dat Einstein eers op die ouderdom van vier begin praat het, wat dan ‘n “teken” van sy disleksie was. Volgens Einstein se biografieë is dit eenvoudig nie waar nie. Toe Einstein twee en ‘n half jaar oud was is sy nuutgebore suster Maja aan hom gewys. Einstein, wat ‘n speelding verwag het, het teleurgesteld gesê, “Maar waar is haar wieletjies?” Toe hy sewe jaar oud was, skryf sy ma: “Gister het Einstein sy rapport gekry. Hy was weer eerste in sy klas. Sy rapport was briljant.” Teen die ouderdom van nege en ‘n half was Einstein aanvaar deur die kompeterende Luitpold-Gymnasium, wat bewys dat hy akademies bo-gemiddeld presteer het. Op ouderdom dertien het Einstein boeke, geskryf deur Darwin en Kant gelees. Dis beslis nie verteenwoordigend van dislektici nie.

Kan Edublox disleksie ophef?

Daar is meer as 500 gevallestudies en getuigskrifte op hierdie webtuiste van leerders wat gehelp is om hulle leerprobleme, insluitend disleksie, te oorkom. Daar is ook navorsingstudies wat bewys dat Edublox vaardighede soos gefokusde aandag, prosesseringspoed, visuele geheue en lees verbeter. Klik hier vir meer besonderhede. Hieronder is ‘n voorbeeld van ‘n gevallestudie:

Onafhanklike toetsresultate het bevind dat Marie, ‘n graad 5-dogter, drie jaar onder graadvlak lees. Haar spelling was twee en ‘n half jaar onder graadvlak. Sy is met behulp van die Disleksie-Beslissings-Toets met “disfoneidese” gediagnoseer. Disfonese is ‘n slim woord vir ouditiewe disleksie, terwyl diseidese verwys na visuele disleksie. Disfoneidese beteken dat albei tipes teenwoordig is.

Scan 10003

Twee jaar later, danksy Edublox-klasse, het Marie se lees en spel genoegsaam verbeter sodat sy nie meer as dislekties beskou word nie:

Scan 10001

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of

Setup Menus in Admin Panel

Skip to toolbar