fbpx

Studiewenke: Haal die Angel Uit Eksamenskryf met 9 Studiewenke

Daar is min woorde wat leerders en hul ouers se bloed so vinnig in yswater laat verander soos die woord ‘eksamen’. Goeie studiegewoontes kan egter die eksamenvrees in eksamenvreugde verander. Hier is nege studiewenke, verskaf deur Hannelie Brönner van die Edublox-tak in Durbanville, wat sal help om die angel uit eksamenskryf uit te haal.
.

Het jy raad met tydsbeplanning en om ‘n eksamenrooster uit te werk?

Die beste raad is altyd: studeer regdeur die jaar. Maak opsommings/breinkaarte aan die einde van elke onderwerp/hoofstuk sodat, teen twee tot drie weke voor die eksamen, die hardste werk reeds gedoen is en die eksamentyd slegs hersiening behels. Wanneer ʼn mens staatmaak om alles gedoen te kry reg voor die eksamen, dra dit by tot onnodige stres wat jou brein sal keer om die inligting behoorlik en georganiseerd te stoor en te onthou. Jy maak staat op jou korttermyngeheue, wat beteken dat die inligting nie deurdring tot jou langtermyngeheue nie en gou vergeet kan word.

Die hersieningsrooster moet sover moontlik ooreenstem met die eksamenrooster. Indien dit nie bekend is nie, begin met die vakke wat die meeste werk vereis. Wees realisties wanneer besluit word hoeveel tyd aan elke vakke toegeken moet word. Baken jou werk af in hoofstukke of aantal bladsye.  Werk afwisselend aan twee vakke — dit sal help om motivering en konsentrasie te behou.
.

Hoe lank moet leerders op ‘n slag studeer en hoe lank blaaskanse vat? Hoekom is dit nodig?

Hoërskoolkinders kan tot ʼn uur op ʼn slag studeer, terwyl jonger leerders enigiets tussen 30 en 50 minute kan konsentreer. Dit wissel van persoon tot persoon. Gereelde blaaskanse van 10 minute is nodig om:

  • die brein ʼn kans te gee om die werk wat behandel is te prosesseer en te stoor voordat nuwe inligting ingeneem kan word;
  • te beweeg na die lank stilsit;
  • konsentrasie en motivering te behou.

Dit is goed om gereeld gesonde verversings te eet en water te drink. Sorg dat jou blaaskans weg is van jou studeerkamer. ʼn Langer breuk elke drie ure is belangrik.
.

Waar moet jy studeer? Is dit OK om op jou bed te lê of na musiek te luister? 

ʼn Goeie studiearea moet voldoen aan die volgende basiese vereistes:

  • Weg wees van afleiding/onderbrekings
  • Toevoer van vars lug
  • Gemaklike stoel
  • Goeie beligting

Baie leerders verkies om op hul bed te lê en studeer. Terwyl dit aanvaarbaar is om op die bed te lê en lees vir kort rukkies, is dit nie ʼn goeie posisie vir volgehoue studie nie. Eerstens, kan lê jou slaperig maak en dit dus moeilik maak om te konsentreer. Tweedens is dit swak vir jou oë, aangesien jy te na aan jou boek lê en teen ʼn te skerp hoek lees.

Opinies oor musiek luister tydens studie is uiteenlopend, maar dit ís so dat sekere leerders sal verkies om na musiek te luister en voel dat dit hulle beter laat studeer. Daar is ooreenstemming dat musiek met lirieke en populêre musiek aandag kan aftrek en negatief kan inwerk op leer. Klassieke musiek (soos Mozart) en rustige instrumentele musiek kan konsentrasie verbeter vir sekere leerders.
.

Hoe belangrik is slaap?

Genoeg slaap is essensieel. Hoe meer uitgerus jy is voor ʼn eksamen, hoe beter sal jy kan dink, skryf en probleme oplos. Dit is goed om minstens nege ure se slaap te probeer inkry voor ʼn eksamen, maar ook in die algemeen gedurende die eksamentyd.
.

Sommige mense sê hul studeer makliker vroegoggend, ander laataand. Maak dit ‘n verskil?

Individue verskil — party mense het meer energie in die oggend en kan dan op hulle beste konsentreer, terwyl ander meer energiek is in die aand en dan op hulle beste funksioneer. Daar is voordele aan elk gekoppel: in die oggend is die brein vars en kan op sy beste nuwe inligting absorbeer, terwyl slaap na studie laataand geleentheid gee vir die brein om inligting wat reeds geleer is te konsolideer en stoor.

Ongeag of leerders in die oggend of in die aand op hulle beste leer, is die volgende beginsels belangrik:

  • Slaap voor studie maak die brein gereed om nuwe inligting te ontvang. ʼn Slapie in die middag voor studie sal dieselfde effek hê vir dié wat aandstudie verkies.
  • Slaap na studie help om inligting te konsolideer en herroeping daarvan te verbeter. Vir die oggend-leerders is dit goed om, waar moontlik, tydens langer blaaskanse vir ʼn rukkie te slaap.
  • Nagrus moet nie versteur word deur studie nie. Dit is belangrik om steeds tussen agt en nege ure per nag te slaap.

.

Wat moet leerders doen net voor hulle eksamen skryf?

Wees uitgerus en ontspan. Moenie tot laat die vorige aand of in die uur voor die eksamen leer nie.

Probeer om nie aan die eksamen te dink nie. Moenie notas saamneem na die eksamen nie — jy het geleer wat jy kon!

Hidreer! Moenie liters water drink sodat jy onnodiglik die badkamer moet gebruik nie, maar ʼn bietjie water is belangrik. Hou ʼn bottel water by jou in die eksamen en neem klein slukkies om jou brein te verfris.
.

Het jy raad vir leerders om kalm te bly?

Dit is baie belangrik om onnodige angs en spanning te vermy op die dag van die eksamen. Wanneer jy gespanne word, stuur jou hart meer bloed na jou spiere toe en minder na jou brein sodat jy minder helder kan dink. Hier is ʼn paar wenke:

  • Sit alles reg die aand voor die eksamen en wees betyds by die skool/eksamenlokaal.
  • Moenie die leerwerk met ander leerders bespreek op die dag van die eksamen nie. Dit lei net tot vrees dat jy nie genoeg geleer het nie.
  • Haal diep asem, selfs voordat die vraestel oopgemaak word. Hoe meer suurstof daar in die bloedstroom is, hoe helderder sal jy kan dink en hoe makliker sal dit wees om dit wat jy geleer het te herroep.

Hier is ʼn asemhalingstegniek wat jy kan gebruik:

  • Maak jou oë toe en asem in deur jou neus tot die telling van vier.
  • Asem dan uit deur jou mond tot die telling van vier.
  • Terwyl jy in en uit asem, konsentreer op jou skouers en voel hoe die spanning verdwyn.
  • Doen dit tien keer na mekaar.

.

Watse raad het jy om vraestelle te beantwoord?

Beplan jou tyd. Trek vyf minute af vir beplanning en om vinnig die vraestel deur te lees; dit sal jou brein voorberei om te begin filtreer deur die feite wat jy geleer het. Deel die oorblywende tyd deur die aantal punte om uit te werk hoeveel tyd daar is vir elke punt. Dit verseker dat jy nie te veel tyd spandeer aan vrae wat nie baie punte tel nie.

Hoe om die vraestel te benader:

  • Beantwoord kort vrae eerste (meervoudige keuse, ontbrekende woorde, ens.)
  • Beantwoord nou die vrae wat een of twee sinne benodig.
  • Laastens, beantwoord die lang vrae. Indien jy jou toegelate tyd oorskry vir ʼn vraag, beweeg aan na die volgende vraag. As daar tyd oor is, kan jy teruggaan na die vrae wat nie klaargemaak is nie.
  • Indien jy onseker is oor ʼn vraag:
    • Maak ʼn merkie daarby en beweeg aan na die volgende vraag. Kom terug na hierdie vraag wanneer jy al die vrae beantwoord het wat jy ken.
    • Haal asem (soos bo beskryf) sodat jy genoeg suurstof na jou brein toe voer en ontspan.
    • Lees die vraag weer deur en probeer antwoord, al is jy onseker. Vertrou jou instink. Dit is beter om te raai en dalk minstens een punt vir jou antwoord te kry as om dit heeltemal uit te los.
    • Gaan jou vraestel rustig deur wanneer jy klaar is — maak seker al die vrae is beantwoord en geen bladsye is per ongeluk gemis nie, en lees weer vinnig deur jou vrae om seker te maak dit is korrek beantwoord.

.

Hoe kan ouers hulle kinders ondersteun en motiveer?

  • Moedig jou kinders aan om ʼn positiewe ingesteldheid te hê teenoor leer. Dit is belangrik dat jou kind weet hulle beste is goed genoeg, maar dat jy wel hulle beste verwag. Gee positiewe terugvoer so gereeld as moontlik om hulle selfbeeld op te bou en hulle gemotivereerd te hou.
  • Moedig jou kind aan om deur die kwartaal by te hou met opsommings. ʼn Goeie studiemetode-kursus kan help om hulle toe te rus om effektief te leer, sowel as met die aankweek van goeie huiswerk/leergewoontes deur die kwartaal.
  • Help jou kind om hulle werk af te baken en ʼn studierooster op te stel.
    • Wees sensitief vir die tye van die dag wat hulle op hulle beste leer.
    • Dit is belangrik dat hulle eienaarskap neem van hulle rooster — dit sal dit makliker maak vir hulle om daarby te hou. Moenie die rooster VIR hulle opstel nie.
    • Skep geleenthede in die rooster vir totale wegbreek van die studies vir ‘n paar ure — iets om na uit te sien!
  • Maak seker dat jou kind ʼn goeie studiehoekie het, weg van afleidings.
  • Probeer om onnodige onderbrekings te minimaliseer, sodat jou kind maksimaal kan konsentreer.
  • Maak seker dat jou kind genoeg slaap en rus inkry, sowel as gesonde kos wat maklik en vinnig verteer, en ryk is aan vitamines. Probeer suiker en gemorskos vermy.
  • Moedig jou kind aan om gereeld water te drink en gereeld tydens hul blaaskanse te beweeg. Moedig middagslapies aan indien daar in die aand studeer word.
  • Beperk toegang tot selfone, TV, rekenaars (tablette), ensovoorts wanneer hulle leer.
  • Probeer om ʼn balans te handhaaf tussen om te help waar nodig en om vir hulle te leer! Dit is belangrik om te onthou dat ʼn eksamen nie ʼn toets van geheue is nie, maar van leer.

.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar