fbpx

Leergereed Is Skoolgereed

LeergereedHierdie artikel, verskaf deur Edublox, het verskyn in die Februarie 2016 uitgawe van Baba & Kleuter:   

Graad 1 kruip stadig nader. Gaan jou kind gereed wees? Wat beteken dit in elk geval om skoolreed te wees?

Skoolgereedheid is die maatstaf waarvolgens ons bepaal in watter mate ‘n kind verstandelik, motories, sosiaal en emosioneel daarop voorbereid is om ‘n sukses van sy skoolloopbaan te maak. ‘n Kind kan as skoolgereed beskou word wanneer hy voldoen aan die eise wat die skool stel, of, om meer spesifiek te wees, wanneer hy fisiek, perseptueel, sosiaal, emosioneel en akademies sonder stres met die eise van die skool kan byhou.

Wanneer ons oor skoolgereedheid praat gaan ons van die vertrekpunt uit dat kleuterskole en voorskoolse onderwyseresse net gedeeltelik vir jou kind se opvoeding verantwoordelik is. Jy is die primêre opvoeder en dit is jou voorreg om seker te maak dat jou kind behoorlik toegerus word sodat hy die maksimum voordeel uit die vakkennis kan trek.

Die belangrikheid van die ouers se rol in hulle kinders se skoolprestasies is al deur menige studies bevestig. ‘n Studie in die Review of Economics and Statistics wys daarop dat die insette van ouers, deur byvoorbeeld stories hardop te lees en oueraande by te woon, ‘n groter invloed op hulle kinders se opvoedkundige prestasies het as die insette van onderwysers of dié van die leerders self.

Navorsing bewys ook dat jy nie duur opvoedkundige speelgoed of digitale toestelle vir jou kind hoef te koop om hom op te skerp nie. Jy het ook nie nodig om jou kinders gedurig rond te ry na selfverrykingsklasse nie. Jy kan baie eenvoudiger dinge met jou kind doen om hom skoolgereed te maak.

Praat met jou kind

Taalvaardigheid is ‘n belangrike bepaler van leesvaardigheid. Dis dus van die uiterste belang dat jy alles uithaal om seker te maak jou kind kry soveel geleenthede moontlik om taalvaardig te word, veral omdat kinders voor hul sewende verjaarsdag ‘n fenomenale vermoë het om taal te leer. Van agt jaar oud af is jou kind se vermoë om taal te leer gelyk aan dié van ’n volwassene. Haal dus die meeste uit hierdie kort tydperk.

Praat met jou baba ― en later jou peuter en kleuter ― net waar jy kan. Dit bou sy woordeskat wanneer jy hom vertel wat jy doen, terwyl jy dit doen. Praat byvoorbeeld oor huis skoonmaak, kos kook en die roete waarlangs julle ry. Hier is voorbeelde van sinsnedes wat jy in die supermark kan gebruik:

  • “Kyk, hierdie appels is rooi, maar daardie appels is groen.”
  • “Hierdie bessies word bloubessies genoem. Wil jy vandag daarvan hê?
  • “Vertel my van die nartjies. Wat sien jy, ruik jy, hoe voel dit?”
  • “Hoeveel woorde het ons om ’n piesang te beskryf? Kom ons tel.”
  • “Ek hou baie van die reuk van lemoene; dis so vars.”

Dit is ook belangrik om elke dag tyd in te ruim vir stories lees en vertel. Dis van kardinale belang om ‘n maand lank een storie oor en oor te lees voor julle met ‘n nuwe storie ― ‘n bietjie meer gevorderd ― begin. Lees dan die nuwe storie ook vir ‘n maand of selfs twee.

Taal word aangeleer deur genoegsame herhaling van woorde, frases en sinskonstruksies. Moenie vergeet om vir jou kind kleuterversies te leer nie. Navorsing het bewys dat kennis van rympies by driejariges ‘n beduidende voorspeller vir latere leesvaardighede is, selfs as ons hul IK en die ma se opvoedkundige vlak buite rekening laat.

Hulp vir kognitiewe ontwikkeling

Kognitiewe vaardighede betrokke by lees, spel, skryf, wiskunde en leer kan opgedeel word in vier hoofboustene: konsentrasie, persepsie, geheue en logiese denke. Die eerste drie moet reeds voorskool tot ‘n hoë vlak ontwikkel word.

Navorsing het bewys dat kognitiewe vaardighede ‘n bepalende faktor van iemand se leervermoë is; dis dié vaardighede wat goeie leerders en middelmatige leerders van mekaar skei.

Wanneer kognitiewe vaardighede sterk is, word leer vinnig en maklik. Wanneer dit swak is, word leer ‘n worstelstryd.

KONSENTRASIE

Aandag, of konsentrasie, speel ‘n kritiek belangrike rol in leer. Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word. Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.

Verwag van babadae af dat jou kind vir kort rukkies op iets moet konsentreer en rek die tye geleidelik. Jou baba het ‘n aandagspan van net twee sekondes, maar teen ses jaar moet jou kind minstens 20 minute lank kan konsentreer.

  • Laat jou kind ouderdomstoepaslike legkaarte bou. Dit moenie te moeilik wees nie. As sy aandag begin dwaal, moedig hom aan om ‘n bietjie langer aan te hou.
  • Lees stories en maak dit geleidelik langer.
  • Laat jou kind gereeld buite speel. Studies wys dat kinders wat baie buitespeeltyd het, beter kan konsentreer as huisgebonde kinders.

PERSEPSIE

Jou kind word gebore met die vermoë om te sien en te hoor, maar nie met die vermoë om dit wat hy sien of hoor te interpreteer nie. Ons moet deur ervaring leer hoe om te interpreteer, soos byvoorbeeld die verskil tussen voorgrond en agtergrond, kleure, vorms, groottes en posisie in die ruimte.

Posisie in die ruimte is die mens se vermoë om ’n voorwerp se posisie relatief tot die self en die rigting waarin dit gedraai is, te interpreteer: op, af, voor, agter, links en regs.

‘n Kind met posisie-in-die-ruimte-probleme vind dit moeilik om voorwerpe in verhouding tot homself te bepaal soos byvoorbeeld “aan my regterkant”, “aan my linkerkant”, “agter my” en “voor my”. So ‘n kind sukkel dan met opdragte soos “skryf jou naam regs boaan die bladsy” en “trek ‘n streep onder die opskrif”. Hy mag ook letters soos b en d met mekaar verwar, nommers 17 en 71 omruil, of sal dalk regs na links skryf sodat die letters lyk soos gewone skrif wanneer dit in ‘n spieël gesien word.

Die geheim is om die rigtings links en regs, op en af, en bo en onder in te oefen totdat dit geoutomatiseer is, en vaslegging moet liefs voor skool gebeur.

  • Leer jou kind van kleins af om sy liggaamsdele te benoem: linkerhand en regterhand, linkervoet en regtervoet.
  • Oefen links en regs. Dit duur verskriklik lank om te internaliseer. Jy kan dit nie net een of twee keer sê nie — dit moet elke dag oor en oor herhaal word.
  • Speel speletjies met begrippe soos op, bo, links, regs, binne-in: “Sit die bal in die boks, gaan staan langs die boks.”

Leergereed 2GEHEUE

Speel geheuespeletjies om jou kind se visuele en ouditiewe geheue te verbeter. Visuele geheue is die vermoë om iets te sien en te onthou. ‘n Kind met ‘n baie swak visuele geheue sal byvoorbeeld sukkel om van die bord af te skryf.

Ouditiewe geheue maak dat ons kan onthou wat ons gehoor het. ‘n Kind van twee behoort ‘n ouditiewe geheuespan van twee te hê — as jy twee syfers sê moet hy 75 persent van die tyd die syfers reg kan terugsê, ‘n kind van drie moet ‘n ouditiewe geheuespan van drie hê, en so aan.

‘n Kind van sewe en ouer moet sewe syfers reg kan onthou. Jou kind het ‘n ouditiewe geheuespan van ses nodig om te kan leer lees.

LOGIESE DENKE

Jou kind moet logies kan dink, redeneer en afleidings kan maak. Dit sal hom help om met begrip te lees, want dan hy verbande raaksien tussen dit wat hy nou lees en reeds gelees of geleer het. Logiese denke is ook ‘n belangrike grondvaardigheid van wiskunde, en stel ‘n kind in staat om ontwykende antwoorde soos “ek weet nie” of “dit is te moeilik” te vermy omdat hy dieper kan delf om by die oplossing van ‘n probleem uit te kom.

  • Leer jou kind van oorsaak en gevolg.
  • Bied speelgoed wat die begrip van oorsaak en gevolg versterk.

Tel alles oral

‘n Mens kan die vermoë om te tel as die eerste stap na wiskundige taalvaardigheid beskou. Leer jou kind so vroeg moontlik om behoorlik te tel. Begin by sy vingertjies, eers net van die een hand en later beide hande.

Vorder geleidelik na ‘n hoër getal deur ander voorwerpe te gebruik:

  • Tel die skoene in die kas.
  • Tel blomme in die tuin.
  • Tel die huise waar julle verbyry.

Soos met alles, is herhaling ononderhandelbaar.

Oefen spiere groot en klein

Die ontwikkeling van groot motoriese vaardighede verwys na die versterking en beheer van jou kind se groot spiergroepe in die arms, bene en bolyf. Groot motoriese aktiwiteite stel ons in staat om te loop, hardloop, spring en klim. Fyn motoriese vaardighede verwys na die mate van beheer oor die spiere wat klein en fyn bewegings van die hande, vingers en gewrigte reguleer.

Algemene spierkrag van die liggaam word tot ‘n groot mate bepaal deur die krag van die rugspiere. Jy moet jou kind reeds vroeg in sy lewe geleenthede gee om sy spiere, veral sy rugspiere, te oefen. Dit kan van ‘n maand of twee oud al begin.

Met ‘n baie eenvoudige prosedure kan jy die grondslag lê vir jou kind om later goeie koördinasie en sterk spiere te hê. Vanaf ongeveer ‘n maand af moet jou baba toegelaat word om rukkies op sy magie te lê. Jou baba sal sy kop probeer oplig en dit sal help om sterk rugspiere te ontwikkel. Deur die baba gereeld vir rukkies in hierdie posisie te laat sal hom ook aanmoedig om te probeer vorentoe beweeg, wat uiteindelik tot kruip sal lei.

Begin ook vroeg om jou baba se fyn motoriese vaardighede te ontwikkel deur sy kneukels te streel sodat hy sy handjie oopmaak. Plaas dan ‘n klein, veilige speelding in die handjie.

Die ontwikkeling van jou kind se fyn motoriese vaardighede is belangrik vir baie skoolaktiwiteite, sowel as die lewe in die algemeen. Dit bepaal jou kind se vermoë om self te eet, leesbaar te skryf, ‘n rekenaar te gebruik, deur ‘n boek te blaai en persoonlike take te voltooi soos om aan te trek en hom self te versorg.

Namate jou baba groei tot peuter en later kleuter kan die volgende aktiwiteite ingespan word om sy fyn motoriese vaardighede te ontwikkel:

  • Inkleur en teken
  • Met klei speel
  • Teken van eenvoudige vorms sodat jou kind dit kan naboots
  • Speletjies waar boontjiesakkies gegooi en gevang word
  • Die frommel van sagte papier met een hand tot ‘n klein balletjie
  • Met ‘n skêrtjie knip

Emosionele ontwikkeling en sosiale vaardighede

Maatjies maak, negatiewe emosies op ‘n gesonde manier wys, konflik taamlik vreedsaam hanteer, empatie toon teenoor ‘n maatjie wat seergekry het, beurt afwag, eenvoudige reëls volg en ander se geselskap geniet is eienskappe wat gesonde emosionele ontwikkeling en sosiale vaardighede beskryf.

Soos alle vaardighede, ontwikkel jong kinders hierdie vermoëns in stappies en mettertyd. Jy kan heelwat doen om hom met sy sosiaal-emosionele ontwikkeling te help.

Wees liefdevol en versorgend. Aanraking, soentjies, drukkies, heen en weer wieg, vir jou baba sing en met hom praat stuur die boodskap dat hy deur dik en dun gelief en spesiaal is.

Wanneer jou kind sien dat jy daar is vir hom, maak nie saak of hy lag of huil, gelukkig of ongelukkig, siek of gesond is nie, beleef hy dat hy onvoorwaardelik gelief is en dit gee hom emosionele sekuriteit.

Wees ‘n rolmodel waar dit by sosiaal aanvaarde gedrag kom. ‘n Jong kind leer geweldig baie uit sy ouers se optrede. Wanneer jou kind sien dat jy ruimhartig en hulpvaardig is, jou gevoelens deel en dank betuig aan ander, kry hy ‘n goeie basiese begrip van hoe ‘n mens met ander moet omgaan.

Prys jou kind wanneer hy goeie sosiale gedrag toon. Dit versterk goeie gedrag en laat jou kind goed oor homself voel. Wanneer jy jou kind goed oor homself laat voel, ontwikkel jy sy empatie en emosionele intelligensie.

Reageer op jou kind se behoeftes; dink na oor wat dit is wat hy wil doen of hê en ondersteun hom daarin soos deur hom sy eie lepeltjie te gee wanneer hy begin wys dat hy homself wil voer.

Leer jou kind ken. ‘n Oop verhouding waarin julle “medewerkers” is sal jou kind geborge laat voel en hom emosioneel versterk.


Edublox is toonaangewende spesialiste in kognitiewe ontwikkeling met 25 lees-, wiskunde -en leerklinieke regdeur Suidelike Afrika. Edublox bied multi-sintuiglike kognitiewe onderrig aan vir leerders van Graad R tot Graad 10. Dié klasse stel hulle in staat om leesprobleme en leerversperrings te voorkom sowel as te bowe te kom, sodat hulle lewenslank kan leer en bemagtig word om hulle hoogste opvoedkundige doelwitte te bereik. Besoek hulle webtuiste by www.edublox.co.za

Share Button

2
Leave a Reply

avatar
1 Comment threads
1 Thread replies
0 Followers
 
Most reacted comment
Hottest comment thread
2 Comment authors
Susan du PlessisMarianne Botha Recent comment authors
  Subscribe  
newest oldest most voted
Notify of
Marianne Botha
Guest
Marianne Botha

Goeie dag, Graag wil ek hoor of u vir my die artikel kan stuur van “Leergereed is skoolgereed” en ook waar kan ek opvoedkundige speelgoed koop om kleuters en graad 1 kinders te help met skoolwerk en skoolgereedheid.

Dankie.

Marianne Botha
Windhoek Namibië
00264812919007

Susan du Plessis
Admin

Hello Marianne

Dankie vir jou belangstelling — jy is welkom om die artikel hierbo te ‘copy-paste’ in Word en dan te druk.

Ons is ongelukkig nie kenners van opvoedkundige speelgoed nie — eerder spesialiste op die gebied van kognitiewe ontwikkeling wat ons inspan om ons Edublox-programme voortdurend te hersien en te verbeter.

Groete
Susan

Skip to toolbar