fbpx

Vakkeuses vir ʼn Beroep

beroepe

Hierdie rubriek is gepos op MaroelaMedia.co.za op 2 November 2016:

Hallo Susan,

My gr. 9-seun het geen idee wat hy wil doen ná skool nie. Die beroepsvoorligter sê hy ken homself nie goed genoeg om te weet waarin hy belangstel nie. Sy vakkeuses moet dus so wyd moontlik wees sodat wanneer hy wel ’n beroepskeuse maak, hy die nodige vakke het. Hy is baie goed in al sy vakke. 

Wat sou ’n goeie vakkeuse vir hom wees?

Groete.

Karien

Hallo Karien,

Ja, ʼn mens kan nie ’n keuse uitoefen sonder om te weet in watter rigting jy wil gaan studeer nie. Jou seun is nie die enigste wat met hierdie dilemma sit nie; baie gr. 9-leerders bevind hulle in dieselfde situasie, maar wat in jou seun se geval verblydend is, is dat hy goed presteer in al sy vakke.

Kom ons neem die verskillende studierigtings een vir een.

  1. Tegnologie en ingenieurswese:

Wiskunde en fisiese wetenskappe is verpligtend vir graadkursusse en meeste nasionale diplomas. Indien jou seun later sou agterkom dit is waarin hy belangstel, is die vereistes vir universiteitskursusse dus wiskunde, fisiese wetenskappe en Engels.

Vir B.Tech-kursusse is wiskunde en fisiese wetenskappe ʼn vereiste. Sommige nasionale diploma-kursusse soos industriële ontwerp aanvaar wiskundige geletterdheid.

Beroepe in hierdie veld klassifiseer ons onder ingenieurswese, argitektuur en tegniese tekeninge, bou en konstruksie, en dan al die verskillende ambagte.

  1. Gesondheids- en biologiese wetenskappe:

Wiskunde, fisiese wetenskappe en biologie is verpligtend vir medies, oogheelkunde, tandheelkunde, farmakologie, biologiese wetenskappe, navorsing en die mediese ondersteuningsberoepe. Sommige universiteite aanvaar wiskundige geletterdheid vir arbeidsterapie. Vir sielkunde, maatskaplike werk, berading en mediese ondersteuningsberoepe is wiskunde of wiskundige geletterdheid verpligtend, en biologie of fisiese wetenskappe word aanbeveel.



Beroepe in hierdie veld klassifiseer ons onder mediese praktisyns, oogheelkunde of optometrie-ondersteuning, tandheelkunde en -ondersteuning, gesondheidsorg, biologie en navorsing, sielkunde, maatskaplike werk en berading.

  1. Rekenaar- en inligtingstegnologie:

Hierdie beroepsrigting vereis oor die algemeen wiskunde en fisiese wetenskappe, en in sommige gevalle ook inligtingstegnologie. Alle BCom-grade vereis wiskunde. Tegniese opleidingsinstansies vereis wiskunde, wiskundige geletterdheid en Engels, en beveel toegepaste rekenaartegnologie, inligtingstegnologie en ontwerp, visuele kunste, of ekonomie aan.

Beroepe in hierdie veld klassifiseer ons onder inligtingstegnologie en -stelsels, rekenaar harde- en sagteware, netwerke, multimedia en ontwerp.

  1. Handelsake en bestuur:

Die sakebedryf, finansies en bestuur vereis wiskunde of wiskundige geletterdheid. Vakke soos besigheidstudies, ekonomie, rekeningkunde, toegepaste rekenaartegnologie of informatika word ook aanbeveel.

Alle BCom-graadkursusse vereis Engels of Afrikaans en wiskunde.

Ons kan beroepe in hierdie veld soos volg klassifiseer: finansies, waaronder rekenmeeter en ouditeurs ressorteer; kommersiële handels- en bedryfswese; bemarking en verkope; menslike hulpbronne en administrasie.

  1. Landbou, omgewingsake en geografiese wetenskappe:

Wiskunde of wiskundige geletterdheid en/of biologie en/of geografie is gewoonlik verpligtend vir beroepe in hierdie veld. ʼn BSc-studie vereis Engels, Afrikaans en wiskunde met óf fisiese wetenskappe óf biologie.

Beroepe in hierdie veld sluit onder meer in landbou en boerdery, kundigheid in diere, voëls en/of insekte, omgewingsbewaring of afval en herwinning, plante, landskapsargitektuur en tuinbou, marine- of water- en oseaantegnologie, geografie en argeologie.

  1. Sosiale wetenskappe en onderwys:

Afrikaans en Engels, wiskunde of wiskundige geletterdheid is verpligtend vir hierdie beroepsveld. Tale, biologie, toerisme, toegepaste rekenaartegnologie, geskiedenis, handel en geografie word aanbeveel.

Beroepe in hierdie veld is opvoedkunde, onderwys, opleiding en Educare, sport en fiksheid, skoonheidstegnologie en kosmetika, godsdiens, geskiedenis- en kultuurberoepe soos byvoorbeeld dié van antropoloog, antieke handelaar, ikonoloog, museumkurator, filosoof of sosioloog.

  1. Dienslewering:

Verpligte vakke is Afrikaans en Engels, en wiskunde of wiskundige geletterdheid.

Beroepe in hierdie veld is reis en toerisme, hotelbestuur en gasvryheid, lugvaart, verdediging, die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), die Suid-Afrikaanse Vloot, regerings- of openbare diens, veiligheid en sekuriteit.

  1. Kuns en kultuur:

Engels met een addisionele Nasionale Senior Sertifikaat-taal en wiskunde of wiskundige geletterdheid. Ander vakke wat aanbeveel word, is ontwerp, die visuele kunste, sakestudies, musiek, drama en dans, na gelang van die individu se talent.

Beroepe in hierdie veld is skone kunste en ontwerp, tekstiel en modemakery, juweelvervaardiging en ontwerp, rolprenttegnologie en televisie, mediastudies en uitgewery, en musiek en vermaaklikheid.

  1. Taal en regte:

Engels of Afrikaans met ’n ander Nasionale Senior Sertifikaat-taal, asook wiskunde of wiskundige geletterdheid, is verpligte vakke.

Beroepe in hierdie veld is taal en joernalistiek, soos byvoorbeeld skrywer, kopieskrywer en tolk; beroepe in die regte, soos byvoorbeeld advokaat, prokureur of ondersteunende regsberoepe soos byvoorbeeld speurder.

Karien, uit bogenoemde wil dit voorkom asof ’n veilige vakkeuse op hierdie stadium Engels, Afrikaans, biologie (lewenswetenskappe), wiskunde, en fisiese wetenskappe moet insluit.

Alles van die beste.

Groete,

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae na [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 550 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

Share Button

4
Leave a Reply

avatar
3 Comment threads
1 Thread replies
0 Followers
 
Most reacted comment
Hottest comment thread
4 Comment authors
Susan du PlessisEmilia PrinslooTiffany MinnaarEstelle Burls Recent comment authors
  Subscribe  
newest oldest most voted
Notify of
Estelle Burls
Guest
Estelle Burls

My seun is n gr 10 leerder en kom glad nie reg met wiskunde en wetenskap nie. wat kan hy gaan swot as hy besigheidstudies vat in die plek van wetenskap en wisk gelets in wiskinde se plek

Tiffany Minnaar
Guest

EK wil n wetenskap word en ek weet nie watter vakke on te kies nie

Emilia Prinsloo
Guest
Emilia Prinsloo

more Susan, jou inligting is baie waardevol, kan jy my ook help asb. My seun werk nou al 4 jaar by n maatskappy waar hy n mechanic is. Hulle het hom gereeld gestuur vir kursesse waar hy al sy levels deurgekom het , noudat hy vir sy rooi seel moet gaan se hulle vir hom dat hy nie kan gaan nie omdat hy gewone wiskunde het en nie geletterde wiskunde het nie. kan jy my asb help waar ons kan uitvind wat hy moet doen om verder te gaan om sy rooi seel te kry.

Susan du Plessis
Admin

Hello Emilia, ek stel voor jy kontak ‘n beroepsvoorligter vir hulp. Hulle behoort te kan help. Groete, Susan

Skip to toolbar