fbpx

Die Boublokke van Lees

Boublokke van lees 1Hierdie artikel is gepos op YourParenting.co.za in November 2010:

Voor ‘n kind loop, moet hy eers kruip. En vóór ‘n kind leer lees, moet die fondamente vir lees eers stewig vasgelê word, anders kan hy dalk heeltemal verkeerd leer lees en die res van sy lewe ‘n agterstand hê. Die meeste kinders is nie gereed om woorde op ‘n bladsy te ontsyfer voor hulle tussen vyf en sewe jaar oud is nie. Maar jy kan baie vroeër reeds jou kleuter se leesvaardighede begin ontwikkel.

Vir skoolkinders wat nie behoorlik kan lees nie, is skool soos om ‘n wedloop met een been te hardloop terwyl hulle meeding teen naellopers wat heeltemal normaal is.

Leer jou kind van die heel begin af om korrek te lees en hy sal vir die res van sy lewe ‘n voorsprong hê.

Dr. Jan Strydom, ‘n opvoedkundige van Pretoria en die ontwerper van die leerprogram Audiblox, het ‘n paar noodsaaklike boublokke vir lees neergelê.

“Om die proses van lees ten volle te verstaan, moet ‘n mens eers besef dat alles wat jy kan doen, aangeleerde gedrag is. Baie kinders word sommer uit die staanspoor gebrandmerk met ‘n leer- of gedragsafwyking, terwyl daar eintlik absoluut niks met hulle skort nie. Dié kind het dalk nog net nie ‘n sekere vaardigheid aangeleer nie.

“Elke mens beskik oor die verstandelike vermoë om feitlik enigiets te leer. Natuurlik leer sommiges makliker as ander, maar dis nie die punt nie. Die feit is: Almal kan eintlik reg en vinnig lees as dit op die korrekte manier vir hulle geleer is,” is Jan.

Boublok 1

Voor ‘n kind kan leer lees, moet hy deur sy sintuie bewus word van ‘n geskrewe woord. In die geval van lees sien jy die woord en jy hoor dit wanneer jy dit hardop sê. En dan moet die woord natuurlik geïnterpreteer word ― daar moet met ander woorde ‘n betekenis aan die woord gekoppel word.

Die enigste manier waarop ‘n betekenis aan ‘n woord gekoppel kan word, is wanneer jou kind reeds vooraf geleer het wat die woord kan beteken. En die enigste manier waarop dít kan gebeur, is as jy hom van babatyd af al aan ‘n uitgebreide woordeskat blootstel.

Praat met jou kind. Praat en praat en praat ― dis die enigste manier waarop hy woorde en hul betekenis kan leer. En lees onophoudelik vir hom. Wys vir hom prentjies en speel kinderliedjies. Leer hom liedjies, rympies en gediggies en maak jul eie rympies op. Só brei jy sy woordeskat uit.

Boublok 2

Van 4 jaar oud af behoort jou snuiter tussen links en regs te kan onderskei. Omdat sinne links begin en regs loop, is dié basiese beginsel noodsaaklik vir lees.

Wanneer ‘n mens lees, vind visuele diskriminasie plaas ― alle gedrukte letters word teen ‘n sekere agtergrond geplaas en om te kan lees, moet jou kind eers kleure van mekaar kan onderskei. Oefen ook sy ogies deur byvoorbeeld ‘n swart sirkel op ‘n wit papier te plaas en vra hom dan om tussen die kleure te onderskei.

Omdat ons met ons oë lees, is visuele persepsie een van die grootste faktore wat geoefen moet word.

Die tweede deel van visuele persepsie wat jou kind onder die knie moet kry, is om te kan onderskei tussen dít wat op die voorgrond is en dít wat in die agtergrond is. Speel met hom speletjies met diertjies of blokkies en gesels met hom oor wat voor is, in die middel en agter. Blokkies is ‘n wonderlike hulpmiddel om dié vaardigheid te oefen.

Ons Latynse alfabet bestaan uit 26 letters waarvan daar ook nog onderskei kan word tussen hoofletters en kleinletters. Boonop verskil die voorkoms van hoof- en kleinletters (dink maar aan die letters E en e, I en I, T en t, R en r ens.)

Daar is egter ook hoofletters wat byna nes hul klein eweknieë lyk en dis waarom dit belangrik is dat kleintjies moet kan onderskei tussen groot en klein voor hulle kan begin lees. Hulle moet ook weet wat die begin is en waar die einde is. Wat is bo en wat is onder?

Boublok 3

Ontwikkel jou kind se vertelvaardighede deur hom gedurig te vra om dinge en gebeure te beskryf. Laat hom toe om stories te vertel.

Speel ook klankspeletjies met woorde, soos Xander-kepander-keriekstiek-stander… Benno-kepenno-keriekstiek-stenno ens.

Boublok 4

Voordat kinders kan begin lees, moet daar ‘n bewustheid gekweek word dat letter van mekaar verskil, soos dat a vir appel staan en b vir by. Kinders moet reeds verstaan dat verskillende letters verskillende klanke verteenwoordig.

Begin met die letters van sy eie naam. Jy kan ook vir hom flitskaarte maak waarop die woord onder die voorwerp staan. Op dié manier begin hy al klaar sekere assosiasies maak.

Leer hom fonologiese vaardighede en help hom om te verstaan dat klein klankies bymekaargevoeg word om ‘n woord op te maak.

– Vra hom byvoorbeeld watter twee woorde rym: kat en hond, of kat en mat?
– Leer hom dat sekere dele van een woord uitgelaat kan word: “Watter woord sal ons hê as die warm van warmbrak uitgelaat word?”
– Voeg twee woorde saam, soos: “Watter woord sal ons hê as ons ys en koud bymekaarvoeg?”

Wanneer is dit dus tyd om jou asjas te leer lees?

Kenners meen dat leesgereedheid van kind tot kind verskil en nie aan ‘n spesifieke ouderdom gekoppel behoort te word nie.

Die meeste kinders begin stelselmatig ‘n belangstelling in letters en syfers toon en begin vra hoe ‘n mens hul naam skryf.

Probeer eerder om jou kind speel-speel te leer as om lees aan hom op te dwing. Moenie aan die begin te veel verwag nie, selfs al maak hy baie foute. En moet hom nie met sy maters vergelyk nie.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar