fbpx

Die Rol van Visuele en Ouditiewe Prosessering in Lees

Prosessering verwys na die vermoë om inligting wat ons deur ons sintuie waargeneem het te interpreteer, en natuurlik is dit belangrik dat ons dit korrek interpreteer. Beide visuele en ouditiewe prosessering speel ‘n kardinale rol in lees.

Visuele prosessering

Probleme met visuele prosessering affekteer die interpretasie of verwerking van dit wat ons met ons oë waarneem. ’n Kind met visuele prosesseringsprobleme mag 20/20 visie hê, maar steeds sukkel om te onderskei tussen voorgrond en agtergrond, kleur, vorms, grootte en posisie-in-die-ruimte. Hy mag ook sukkel met sintese en analise.

Voorgrond-agtergrond diskriminasie is die vermoë om voorwerpe op die voorgrond en agtergrond waar te neem en hulle sinvol te skei. ‘n Kind wat sukkel met voorgrond-agtergrond diskriminasie mag sy plek op die bladsy verloor, of kan nie sy plek op die bladsy kry en behou nie.
.
Vormwaarneming kan beskryf word as die vermoë om vormverskille tussen onderskeie voorwerpe te kan waarneem. Dit is een van die mees basiese diskriminasies wat ‘n kind moet kan maak. Enige kind met swak vormwaarneming het beslis ‘n groot agterstand wanneer hy met skoolverwante aktiwiteite van enige aard gekonfronteer word. Daar is skaars enige akademiese aktiwiteit te bedink wat nie van die kind verwag om vormwaarnemings te maak nie. Die mees voor-die-handliggende klaskamer-aktiwiteit wat vormwaarneming van die kind vereis, is lees. Letters van die alfabet leer, lettergrepe en woorde aanleer sal ongetwyfeld moeilik wees as die kind probleme daarmee het om letters, lettergrepe en woorde se vorms te onderskei.
.
Grootte-onderskeiding. Die kind met probleme in hierdie gebied mag sukkel om onderskeid te tref tussen ‘n hoofletter S en ‘n kleinletter s.
.
Ruimtelike verhoudings verwys na die posisie van voorwerpe in ’n ruimte. Dit verwys ook na die vermoë om voorwerpe se verhouding tot ander voorwerpe akkuraat te bepaal. ’n Kind met probleme op die gebied van ruimtelike oriëntering mag die moeilik vind om te onderskei tussen b, d, p en q.
.
Visuele sintese en analise behels die vermoë om ‘n voorwerp as ‘n geheel waar te neem, dit op te breek in dele en weer sinvol saam te voeg..

Ouditiewe prosessering

Ouditiewe prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit inligting wat gehoor word. Dis nie ’n onvermoë om te hoor nie, maar ’n onvermoë om dit wat gehoor word te interpreteer, te organiseer of te analiseer.
.
Probleme met ouditiewe persepsie kom oor die algemeen ooreen met die in die visuele area en ons onderskei tussen die volgende:
.
Ouditiewe voorgrond-agtergrond differensiasie verwys na die vermoë om dit te selekteer waaraan ons aandag wil gee en te ignoreer wat nie relevant is nie.
.
Ouditiewe diskriminasie verwys na die vermoë om te onderskei tussen eenderse en verskillende klanke. ‘n Kind met swak ouditiewe diskriminasie mag byvoorbeeld sukkel om die verskil tussen h en j te hoor.
.
Ouditiewe sintese is die vermoë om klanke of lettergrepe saam te voeg tot ‘n woord. Die kind wat probleme het op hierdie gebied kan byvoorbeeld die klanke van die woord l-a-m-p apart uitspreek, maar kan die afsonderlike klanke nie saamvoeg om die woord lamp te vorm nie. Hy mag ook probleme ondervind met ouditiewe analise, oftewel die vermoë om die geheel van die woord wat ouditief waargeneem word, in sy afsonderlike (klank-) eenhede te analiseer (of op te breek); hy sal dus nie lamp kan klank nie.
.
‘n Belangrike aspek van prosesseringsvaardighede is dat hierdie vaardighede almal geoutomatiseer moet word – soos karbestuur. As mens kom by ‘n stopstraat wonder jy nie wat om te doen nie, jy doen net omdat die aksies wat jy moet uitvoer geoutomatiseer het.

Sukkel jou kind met lees? Kontak jou naaste Edublox-tak vir ‘n formele assessering en hulp.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar