fbpx

Gee Jou Kind die Gereedskap vir Lees en Leer

Wanneer mens die regte gereedskap het, kan enige taak met groter gemak en effektiwiteit uitgevoer word. Stel jou voor dat jy ‘n lepel gebruik om sement te meng, eerder as ‘n sementmenger. Verbeel jou dat jy jou grasperk sny met ‘n skêr!

Baie leerders bevind hulleself in die klas sonder die regte leergereedskap, wat leer selfs in ‘n klein klassie moeilik maak. In ‘n groot klas is die kind natuurlik verlore.

“Keenan is in ‘n klas van ongeveer 50 kinders,” vertel sy ma, Lillian Seas,  ‘n mamma in die Paarl. “Die onderwysers kon dus nie vreeslik baie aandag gee aan sy opvoedkundige tekortkominge nie.

“Hy was ‘n baie teruggetrokke kind en het nie vreeslik baie gepraat nie. Sy skoolpunte was laag en hy het stadig gelees en skryf. ‘n Eenvoudige woord soos ‘kan’ kon Keenan nie uitspreek nie. Hy moes dit eers klank; ‘k-a-n’ soos ‘n kind wat leer lees in graad 2 of 3 waar hy alreeds in graad 5 was. Hy het ook geen begrip gehad van wat hy lees nie. Hy het ook soms nie sy sinne voltooi nie.

“Ek het hopeloos gevoel, en dat ons as ouers Keenan in die steek gelaat het, veral omdat sy ouer suster akademies goed aangelê is, en hy baie stadig gevorder en gesukkel het,” sê Lillian.

Dit is toe dat Lillian en Keenan se paaie met die van Louna Spies gekruis het, en Keenan Edublox-klasse begin bywoon het om sy lees ‘n hupstoot te gee.

Lees die belangrikste vaardigheid

“Lees word wêreldwyd beskou as die belangrikste vaardigheid wat ‘n kind op skool moet bemeester, omdat hy moet leer om te lees sodat hy kan lees om te leer,” sê Louna. “Die implikasie hiervan is dat die kind wat ‘n goeie leser is ook ‘n goeie leerder sal wees, en daarom is dit belangrik dat ons elke kind se lees optimaliseer.

“‘n Kind, wat nie behoorlik kan lees nie, se toekoms is duister,” sê Louna. “Die swak leser het nie net ‘n agterstand teenoor goeie lesers nie, maar in werklikheid bou hy met verloop van tyd ‘n al hoe groter agterstand teenoor goeie lesers op. Amerikaanse kundiges noem dit die Matteus-effek, verwysend na Matteus 25:29 wat sê dat die rykes ryker sal word en die armes armer.”

Aan die positiewe kant is leesvermoë ‘n belangrike aanduider van toekomstige sukses, volgens die Nasionale Instituut vir Kindergesondheid en Menslike Ontwikkeling die belangrikste enkele vaardigheid wat nodig is vir ‘n gelukkige, produktiewe en suksesvolle lewe.

Begin by die oorsaak

“Edublox spreek die oorsake van lees- en leerprobleme aan, nie die simptome nie, en juis daarom is ons in staat om lees- en leerprobleme effektief op te los,” sê Louna.

Sy verduidelik dis belangrik om te weet dat leer in lae plaasvind. Dit beteken dat die een ding wat ‘n mens leer, dit daarna vir jou moontlik maak om ‘n volgende ding te leer. Daar is dus ‘n bepaalde volgorde by leer betrokke. Dis baie soos om ‘n leer te klim. As jy een van die sporte mistrap, val jy af. As jy een van die stappe in die leergebeure nie voldoende bemeester het nie, kan jy daaropvolgende stappe nie bemeester nie.

“‘n Kind wat nog nie leer tel het nie, sal nooit geleer kan word om op te tel en af te trek nie,” vervolg Louna. “Jy moet ook eers vaardighede soos konsentrasie, visuele diskriminasie, korrekte waarneming, visuele en ouditiewe onthouvermoë en assosiasie baasraak. Dit vorm die grondslag vir goeie lees en spel.

“Ongelukkig gebeur dit dikwels dat kinders, wanneer hulle moet skool toe gaan, nog nie hierdie vaardighede bemeester het nie. Onvermydelik ondervind hulle dan probleme met die aanleer van lees, skryf en spel.”

Selfvertroue en lees verbeter  

“Vandat Keenan die ekstra klasse kry, het sy selfvertroue nuwe vorm aangeneem, tot so ‘n mate dat hy gekies is om ‘n prefek te wees vir die skool,” vertel Lillian. “Ons kan sien dat hy ook gelukkiger is en meer daarna uitsien om skool by te woon.

“In terme van sy akademiese groei, toon Keenan ook goeie vordering. Hy lees al baie beter as voorheen, en waar hy elke woord moes uitspel om dit te kon uitspreek, lees hy nou volle woorde.

“Hy geniet die klasse en is altyd gelukkig as hy van die klasse kom.”


Besoek www.edubloxsa.co.za vir meer inligting oor Edublox-klasse, of www.edubloxtutor.com vir inligting oor ‘Edublox Online Tutor.’ Die lees- en speloefening van ‘Edublox Online Tutor’ is ook in Afrikaans beskikbaar.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar