fbpx

Lees, Skryf en Wiskunde – Hoe Vaar Jóú Kind?

Pupils-with-booksHierdie artikel het verskyn in die Boland Gazette op 5 Julie 2016:

Die drie bene van leer is lees, skryf en wiskunde. Die vraag aan enige ouer is: Hoe vaar jóú kind op hierdie drie deurslaggewende terreine?

“’n Kind se vermoë om te kan lees, skryf en wiskunde te doen vorm die grondslag van sy akademiese sukses, en beïnvloed sy potensiaal en toekomstige prestasies op elke terrein,” sê Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox. “Sommige leerders kan nie lees nie, maar kan skryf; ander sukkel met wiskunde, maar lees maklik – dit is deurslaggewend dat ‘n kind ál drie onder die knie het.”

Lees is koning in die klaskamer. Dit vorm die grondslag van akademiese sukses regdeur ‘n kind se skool- sowel as sy universiteitsloopbaan.

Die voordele van lees strek egter veel verder. “Lees sal jou kind nuwe woorde leer en sy woordeskat uitbrei, sy algemene kennis verbeter, hom help om beter te konsentreer en op een taak te fokus. Moderne kinders word met soveel klank, lig en beweging van elektroniese toestelle gebombardeer dat lees eintlik die brein help ontspan,” sê du Plessis.

Net soos in die geval van lees, word die brein in hierdie kits-dae van Internet, SMS’e en tweets gestimulueer wanneer daar met die hand op papier geskryf word. “Skryf maak die brein wakker, aangesien kinders nie net vinniger leer lees wanneer hulle eers met die hand leer skryf nie, maar dit stel hulle ook in staat om hulle gedagtes beter te formuleer en inligting te onthou,” sê du Plessis.

Die laaste en ewe belangrike faset vir ‘n sterk akademiese onderbou is die vestiging van ‘n stewige wiskundige begrip. “Mense word maklik mislei om te glo wiskunde is nie ‘n voorvereiste vir ‘n suksesvolle loopbaan nie, maar in wetenskap, sake en selfs ons alledaagse bestaan kan ons nie van syfers ontsnap nie,” sê du Plessis.

‘n Kind se vermoë om te kan lees, skryf en wiskunde doen hang ten diepste van kognitiewe vaardighede soos aandagspan, visuele en ouditiewe persepsie, reeksgeheue en werkende geheue, en logiese denke af. “Maak seker hierdie vaardighede word goed ontwikkel,” sê du Plessis en gee die onderstaande wenke vir ouers wat hul kinders met lees, skryf en wiskunde wil help.

Lees

  • Die ouers van jong kinders moet soveel moontlik vir hul spruite lees. “Deur jou kind kinderrympies te leer, stimuleer jy die brein en verbeter geheue. Navorsing onder driejariges toon dat kennis van rympies by driejariges ‘n beduidende voorspeller van latere leesvaardighede is, selfs as ons hul IK en die ma se vlak van opvoeding buite rekening laat.”
  • As jou kind met lees sukkel, moet daar dadelik aandag aan gegee word. Vyf-en-negentig persent van swak lesers kan tot graad-vlak verbeter as hulle vroeg gehelp word. Hoe langer ouers wag om daarvoor hulp te kry, hoe meer gaan hul kind later sukkel.
  • Moenie op rekenaarprogramme steun wanneer dit by leesprobleme kom nie. “Navorsing toon dat rekenaar-leesprogramme nie leesprobleme oplos nie,” sê du Plessis. Eers wanneer ‘n kind goed lees, kan tegnologie gebruik word om hul horisonne te verbreed en hul te leer spoedlees.

Skryf

  • Hê pret en frommel velle papier saam met jou kind! Dit sal help om sy fyn motoriese vaardighede te verbeter en help dat hy makliker en netjieser skryf. Gebruik A4-grootte papier en gee jou kind een in elke hand. Hy moet dan terselfdertyd albei in balletjies frommel. Dit is belangrik dat elke hand sy eie werk doen. Maak seker jou kind sit met sy hande ver van mekaar. As deel van die speletjie mag hy nie met sy hande teen sy lyf of iets soos ‘n tafel druk nie. Hy moet probeer om daagliks drie velle papier met elke hand te frommel.
  • Nog oefeninge wat handsterkte sal verbeter, wat uiteindelik tot beter skryfvaardighede sal lei, is om boontjiesakke te gooi en te vang en om stresballe te druk.

Wiskunde

  • Maak seker jou kind kan vlot tel – vorentoe én agteruit. Daarna kan oorslaan-tel probeer word, soos om in gelyke of ongelyke getalle te tel. Oorslaan-tel is belangrik vir die ontwikkeling van beredeneringsvaardighede, vir syferbegrip en vorm die grondslag van vermenigvuldiging en deling.
  • Daar is talle wiskundige begrippe wat mens eenvoudig moet ken en dus moet leer, bv. terme, definisies, simbole ens. Maak seker jou kind ken bv. die woorde vir verskillende vorms. As hy nie weet wat ‘n sfeer is nie, sal hy moet raai wanneer hy in ‘n toets twaalf verskillende voorwerpe moet uitken.

Edublox lees-, wiskunde- en leerklinieke spesialiseer in die bevordering van kinders se akademiese ontwikkeling deur opvoedkundige programme aan te bied wat fokus op kognitiewe ontwikkeling, lees, spel, begrip en wiskunde. In Maart vanjaar het Edublox drie nuwe konsessies in onderskeidelik Witbank en Middelburg in Mpumalanga, en George in die Wes-Kaap, geopen.

“Dit is belangrik dat ouers besef hoe vinniger hul kinders die nodige leiding en vaardighede kry om suksesvol te kan lees, skryf en wiskunde doen, hoe vinniger sal hulle daartoe in staat wees om doeltreffend te leer,” sê du Plessis.

Boland Gazette

Share Button
July 5, 2016

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar